Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skolerugby: Fees of sotte-konsert?

Soos met alle skolerugby-wedstryde wat op TV gebeeldsend word, was dit met gemengde gevoelens dat ek Saterdag gekyk het hoe Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl mekaar opkeil.

Duisende toeskouers het Saterdag opgeruk vir die derby tussen Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl. Foto: Gallo Images

Aan die een kant was die wedstryd van goeie gehalte en het dit boeiende kykstof gebied, maar aan die ander sukkel ek steeds om daarmee vrede te maak dat die era van beroepsrugby van skoolseuns ’n kommoditeit gemaak het.

My dae van rugby dek strek natuurlik terug tot ’n era waar ek gesien het hoe koevertjies aan provinsiale spelers uitgedeel word, so baie sal sê ek is uit die oude doos.

As iemand met ’n begrip vir die ekonomie van sport, asook ’n student van sielkunde, sê ek egter sonder vrees van teenspraak dat kinders uitgebuit word en dat die skaal daarvan hul ontwikkeling as mense skade berokken.

Die oordrewenheid van als laat jou mond oophang – die wenners en hul gevolg vier fees asof die Webb Ellis-trofee in hul skool gaan staanplek kry en die verloorders lyk asof hulle ’n begrafnis bywoon.

Dis net ’n spel, manne. ’n Voetnota in jul lewens.

Maar dalk is dit eerder die ouers wat dít moet hoor.

Vir pa’s is die boodskap dat jy jou laaitie ernstige skade kan berokken as jy druk op hom plaas om die speler te word wat jy nooit was nie. Elke stukkie ongewenste kritiek deur jou laat ’n letsel.

Ouers se koppe word geswaai deur skole wat geld aanbied, anaboliese steroïede kry ’n vastrapplek, persoonlikhede van seuns wat in hul tienerjare as gode uitgemaak word, vorm so dat dit hul kans op welslae op ’n hoër vlak negatief raak, en mense kry op die lange duur seer.

Hierdie rubriek moet nie gelees word as een waarin vingers na ’n spesifieke skool gewys word nie.

Onder die stories wat ek onthou waaraan ek as ’n jong joernalis gewerk het, was oor ’n vuisgeveg wat tussen ouers uitgebreek het by ’n wedstryd tussen twee vooraanstaande Oos-Kaapse skole.

Een van die skoolhoofde het my gebel en eerder as om hoegenaamd skaam oor die voorval te wees het hy my voor stok gekry. Daar is onder meer vir my gesê dat ek duidelik nie ’n leerling was by ’n tradisieryke skool soos syne nie. Dankie tog nie.

In meeste gevalle kyk ek nie met verwondering na groot skole wat groot wedstryde wen nie. Ons is by ’n plek in ons rugby waar geld die bepalende faktor is. In sommige gevalle dalk selfs met ’n bietjie hulp van spuitnaalde.

Hierdie rubriek moet nietemin nie gelees word as een waarin vingers na ’n spesifieke skool gewys word nie. Ek gun vir almal hul oomblik, maar het al genoeg gesien om die oorspoel van beroepsrugby na skole met groot sinisme te bejeën.

Tog is dit dáár waar die groot provinsies dit uitbaklei om die menslike hulpbronne wat hulle nodig het om op die lange duur suksesvol te wees. Die skole het die grootste slagvelde geword tussen die Blou Bulle, Goue Leeus, Haaie en Westelike Provinsie.

Dalk is dit tyd vir ’n nasionale gesprek oor dié kwessie. Ek gun die skole en die gemeenskap ’n fees, maar nie ’n sotte-konsert nie.

Meer oor:  Skolerugby  |  Stephen Nell
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.