Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rooikaart:
Skorsings ’n klug as speler g’n prys betaal

Dis nou maar eenmaal ’n klug en Sanzaar, rugby se beheerliggaam in die Suidelike Halfrond, sal drasties moet kyk na sy reëls oor die skorsing van spelers.

Hoe word jy vir drie weke geskors, en al wat jy misloop, is ’n enkele wedstryd teen Australië, maar vir ander internasionale wedstryde wat saakmaak, is jy weer beskikbaar?

Leighton Koopman
Leighton Koopman.

Wel, dis die lot van die All Blacks se Scott Barrett, wat verlede week vir ’n gevaarlike skouerloop op die Wallabies se Michael Hooper ’n rooikaart gekry het.

Die gevolg van dié oortreding? ’n Skorsing van drie weke, want hy het van die begin af sy oortreding erken en berou getoon, en hy het ’n skoon dissiplinêre rekord.

Wat dié Sanzaar-skorsing belaglik maak, is dat dié bielie-slot net vir ’n enkele internasionale wedstryd langs die kantlyn gaan sit. Hoe is dit moontlik?

Beeldmateriaal van dié skouerloop, kort voor die All Blacks se doellyn, wys hoe Barrett hom staal om ­Hooper uit te haal. Daar word geen poging deur hom aangewend om sy arms of hande in die duikslag te gebruik nie. Hy laat val sonder moeite sy skouer en tref Hooper teen die kop-nek-area.

Drie weke vir ’n duikslag wat moontlik ’n speler se loopbaan kon beëindig?

Dis glad nie Barrett se skuld dat hy so lig daarvan afgekom het nie. Hy het immers nie ’n bevlekte sondaar-rekord nie.

Maar die vraag moet gevra word of dit nie tyd is vir Sanzaar om te kyk hoe hy rugbyspelers skors ná internasionale wedstryde nie.

Dieselfde moet geld in Superrugby-wedstryde. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sal plaaslik ook sommer daarna moet kyk. Is dit nie dalk al hoogtyd om sokker se rooikaart-reëls in te bring by rugby se reëls wat skorsings betref nie?

Wanneer dit kom by die ronne bôl se reël rakende onmiddellike rooikaarte, is ’n skorsing van ’n wedstryd outomaties van krag.

Waar gevaarlike of ongeoorloofde spel betrokke is en ’n speler ’n rooikaart kry, is die minimum sanksie drie wedstryde.

Hoekom kan rugby nie dié roete volg nie?

In plaas daarvan om ’n speler vir drie weke te skors, skors hom vir drie wedstryde (wat saakmaak in kompetisies).

Voorbeelde waar belaglike week-skorsings in die verlede opgeduik het, is alombekend.

Kyk maar na 2018 toe die voormalige Haaie-kaptein Ruan Botha in Super-rugby vir vier weke geskors is omdat hy ’n speler geslaan het. Hy het nie ’n enkele stryd in dié kompetisie misgeloop nie omdat sy skorsing saam met die Junie-toetsvenster geval het.

’n Jaar vantevore is die Leeus-haker Robbie Coetzee vir vyf weke in dié kompetisie geskors nadat hy ’n Kings-speler met die knie bygedam het. Dié keer was die Sanzaar-grap dat hy slegs een wedstryd uit daai skorsing van vyf weke misgeloop het.

Plaaslik in die Curriebeker-reeks het ’n Pumas-speler verlede week teen die Westelike Provinsie vir Chad Solomon, plaasvervanger-haker, by ’n losskrum met die skouer geloop en sy kop getref toe hy Solomon van die bal af wou kry, maar daar was geen nagevolge vir dié soort spel nie.

As Sanzaar (en ook Wêreldrugby) ernstig is om die spel veiliger te maak en spelers wil afskrik daarvan om só te oortree, moet hulle daarna kyk om meer gewig aan hul skorsings te gee.

Gaan spelers regtig hul les leer as hulle so lig daarvan afkom ná ’n rooikaart?

Of het dit nie tyd geword vir Sanzaar, Saru en ook Wêreldrugby om oortreders met wedstryde te laat boet vir hul ongeoorloofde dade nie?

Dit kan stellig spelers twee of selfs drie keer laat dink om hul “vuil”- streke uit te haal.

Meer oor:  Sanzaar  |  Rugby  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.