Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: All Blacks met Bok ‘getatoeëer’

Donkiejare gelede, toe kinders nog lank na sononder sokker en krieket in stofstrate kon speel, was daar sekere aannames wat as onbetwisbare feit aanvaar is. Hoe reg of verkeerd ook al.

Die All Black Aaron Smith wys sy indrukwekkende inkkuns tydens die haka. Foto: Getty Images

Een van die was dat net lieplappers, skorriemorries en maaifoedies tatoeëermerke op hul lyf het.

Nou ja, deesdae het elke tweede mens op straat een of ander inkprentjie of -bewoording iewers op die liggaam. Dis nie meer ’n aardigheid nie.

Op die rugbyveld is dit amper vreemd om iemand sónder ’n tatoeëermerk te sien. Dok Daantjie Craven draai in sy graf om as hy sien hoe lyk van die hedendaagse beroepspelers. “Smaak my die kêgghel het in ’n nat Buggher aan die slaap gegghaak,” sou hy seker gebrei het.

Skuimkop

Skuimkop lees spelers by volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan is vriendelik versoek om die tatoeëermerke in die openbaar te bedek sodat dit nie “aanstoot” gee nie.

Wêreldrugby vra spelers eerder om langmou-onderhemde in gimnasiums of by swembaddens te dra omdat tatoeëermerke in Japan met die Jakoeza (die Japanse mafia), vereenselwig word.

Dis dalk bietjie vergesog, die versoek. Ofskoon daar ’n hele paar vuil-uile in rugbygeledere is, kan ’n mens hulle beswaarlik vir Mafioso aansien.

En die mense in Japan kan sekerlik ook verstaan dat baie van die getatoeëerdes die inkmerke ook as ’n kulturele gebruik benader: die Maori’s van Nieu-Seeland, die Suidsee-eilandmanne… vir hulle het die inkkuns spesifieke betekenis.

Die res? Persoonlike boodskappe, woorde van inspirasie of wat ook al die geval is, dis mos maar elke ou se besluit hoe hy hom wil laat inkleur.

Skuimkop hoop net Suid-Afrika têkkel voortaan so hard soos in die laaste kragmeting met Nieu-Seeland.

* Want daar was ná die Wellington-toets ’n hele paar All Blacks wat ’n Springbok-embleem iewers op die lyf bygekry het.

Hoe lyk die tuin, buurman?

En nou dat Wellington genoem word: Skuimkop wonder hoeveel lesers het laas Saterdag voor die TV gaan stelling inneem met ’n diepe vrees vir nog ’n groot slagting aan die hand van die Kiwi’s?

Hoeveel het ná daai eerste twee All Black-drieë gesê: ‘Ag nee wat, ek gaan maar liewer die gras loop sny en die blare ophark, want vir dié tragedie sien ek nie verder kans nie.”

Skuimkop het selwers sy koppie boeretroos met geklemde kake geslurp met die Bokke 0-12 agter. Toe die rustydfluitjie blaas, was die koffie nog lou, maar die biertjie was koud en lekker.

En was dit bloot die verbeelding, of het die gezoem van Weed Eaters algaande stiller geraak soos die toets gevorder het?

Die Bok-losskakel Elton Jantjies het self ‘n paar tatoeëermerke wat skrik vir niks. Foto: Gallo Images

Knap gedaan, Rassie en kie, maar die hef aan lê nou voor. Rugbyondersteuners het met hul voete en beursies gestem ná daardie supersege. Kaartjies vir die plaaslike toetse teen die Wallabies en Kiwi’s is so te sê uitverkoop.

* Wys ons nou dit was geen vloekskoot nie. Laat ons weer onwrikbaar glo dat die Springbok vrees kan inboesem in die wêreldarena.

Oordeelsfoutjie

Die Wêreldagentskap teen verbode middels in sport (Wada) se besluit om die skorsing van sy Russiese eweknie (Rusada) op te hef en só die weg te baan vir atlete van die land om weer internasionaal deel te neem, is ’n oordeelsfoutjie.

Ondanks kritiek uit verskeie oorde is die skorsing, wat sedert 2015 geldig is en gekom het nadat die Russe se staatsgesteunde opkikkerprogram oopgevlek is, nou gelig. Die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) moet nou sê of die Russe weer kan deelneem.

Rusada weier steeds om te erken dat die McLaren-verslag akkuraat is, die verslag wat ontbloot het dat meer as 1 000 Russiese sportlui baat gevind het by die staat se opkikkerprogram. Hy weier ook toegang tot die Moskou-laboratorium, waar meeste van die manipulasie van monstertoetse plaasgevind het.

Hoe nou, kameraad? En wat gaan jy doen, Wada? Jou voorwaardes vir die opheffing van die verbod was duidelik: Erken die verslag en gee ons toegang tot die onverwerkte data van die laboratorium.

Nog niks hiervan het gebeur nie. En ’n mens kan verstaan hoekom sportlui oor die wêreld heen grom oor die opheffing. Wada se tyd is uitgedien. Hy is ongeloofwaardig. Die waghond oor opkikkergebruik is tandeloos.

* As jy wetende galopsop gebruik, moet jy geskors bly. As dit op so ’n onderduimse manier – van staatskant af – bestuur en gefinansier is, hoort jou land nie by internasionale byeenkomste nie.

Meer oor:  Bokke  |  Wb-2019  |  All Blacks  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.