Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Alle grappies op ’n stokkie, Novak
Toemaar, Novak, in Belgrado is hulle darem nog lief vir jou... Foto: AP

Waar begin ’n mens?

Dit was ’n holderstebolder week aan die plaaslike sowel as die internasionale front.

Kom ons bly vir ’n wyle eers uit die morsige raadsaal-dramas ter plaatse en laat die kollig op die opspraakwekkende gebeure in New York val.

Skuimkop verwys natuurlik na Novak Djokovic se opspraakwekkende diskwalifikasie nadat hy ’n bal in woede weggeslaan en dit per ongeluk ’n vrouelynregter op die keel getref het.

Hierdie ongelukkige episode het Djokovic se reputasie finaal verongeluk en die oorspronklike “stout seun”, John McEnroe, het tereg gesê dat die wêreld se voorste tennisspeler vir die res van sy loopbaan met ’n “bad guy”-etiket, soos hy dit noem, sal moet saamleef.

Voor Djokovic se breinfloute in die Amerikaanse Ope, het hy natuurlik ook baie mense verkeerd opgevryf toe hy midde-in die Covid-19-pandemie ’n tennisreeks gereël het waar spelers en toeskouers geen poging aangewend het om sosiale afstand te handhaaf nie.

Kort daarna is Djokovic en ’n rits ander spelers positief getoets vir die virus en is hy wyd en syd vir sy roekelose en onverantwoordelike optrede gekritiseer.

Nog voor daardie sage, het Djokovic ook gesê hy is daarteen gekant om ’n teenmiddel vir die koronavirus te neem (wanneer dit beskikbaar sou wees) en hy was krities oor die Covid-maatreëls wat die organiseerders van die Amerikaanse Ope beoog het om spelers en beamptes veilig te hou.

Die ironie is dat Djokovic vroeër in sy loopbaan as “Djoker” bekend gestaan het vanweë sy voorliefde om ander spelers op die baan na te boots en omdat hy as ’n baie joviale ou beskou is.

Nou blyk dit, Novak,“the joke is on you” (soos hulle in Engels sou sê).

Die pot verwyt die ketel

Skuimkop het hom voorgeneem om nie dié week sy lesers te verveel met sy indrukke van die politieke sepie wat hom by Krieket Suid-Afrika afspeel, maar het van plan verander toe hy lees die Suid-Afrikaanse Sportfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) tree tot die stryd toe.

Ons vriende by Saskok wil ’n taakspan stig om KSA se legio bestuursprobleme te ondersoek en wil hê sekere hoë beamptes moet vir die duur van die ondersoek hul poste ontruim.

In beginsel stem Skuimkop saam dat KSA ondersoek moet word, maar genadetjie, dis moeilik vir enige regdenkende mens om te dink Saskok sal hierdie taak hoegenaamd ordentlik kan uitvoer.

Toe Skuimkop laas gekyk het, is Saskok se waarnemende president hangende ’n interne tugproses geskors en het dié saambreelliggaam boonop ’n waarnemende uitvoerende hoof, waarnemende finansiële hoof én ’n waarnemende hoëprestasie-bestuurder gehad.

Nou nie juis die toonbeeld van ’n organisasie wat ’n oordeel kan vel oor ’n ander liggaam se bestuursprobleme nie, of wat praat Skuimkop alles?

Ons wil nie baklei nie, maar…

In die Westelike Provinsie Rugbyunie se raadsale is ook nie ’n tekort aan aksie nie en ’n onafhanklike lid van die sakevleuel se direksie, Raymond van Niekerk, het vandeesweek sy bedanking ingedien.

Van Niekerk, ’n gerespekteerde man met baie kundigheid in die sakewêreld, was onder meer ontevrede daaroor dat die unie, midde-in ’n delikate onderhandelingsproses met ’n potensiële belegger uit Amerika, daarteen besluit het om twee ander onafhanklike raadslede, André van der Veen en dr. Johan van der Merwe, se kontrakte te verleng. Hy het gesê “daar is van logika afstand gedoen” toe hierdie besluit geneem is.

’n Dag of wat later het die WP Rugbyunie ’n nuusverklaring oor die kwessie uitgereik. Hierin word Van Niekerk se besluit bevestig, word hy bedank vir sy diens, word kennis geneem van sy kritiek en word gesê dat die unie nie in ’n bekgeveg met hom betrokke wil raak nie.

Net toe Skuimkop begin dink dat dit ’n baie taktvolle reaksie van die WP is, lees hy die laaste paragraaf.

Hierin staan: “Ons sal nou daarop fokus om ’n plaasvervanger vir mnr. Van Niekerk te vind – iemand wat integriteit en ’n liefde en passie vir die spel het. Iemand wat nie gaan wegstap as dinge nie na sy sin in die raadsaal verloop nie. Iemand wat bereid is om goed ingeligte argumente te gebruik om sy veldslae in die raadsaal, nie in die media nie, te wen. En laastens, iemand wat die belang van die aandeelhouer (die WP Rugbyunie) te harte het en nie net die belegger s’n nie.”

Dis seker maar goed dat die WP Rugbyunie ’n voormalige ambassadeur in sy sakevleuel se direksie aangestel het, want Ebrahim Rasool kan Zelt Marais en sy kollegas dalk help om meer diplomatiese verklarings uit te reik.

Meer oor:  Novak Djokovic  |  Ksa  |  Wpru  |  Vsa-Ope  |  Saskok  |  Raymond Van Niekerk  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.