Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Alle spanne gelyk – party meer as ander

Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, se pleidooi verlede week dat die Franse skeidsregter Jérôme Garcès die Bokke en All Blacks gelyk behandel in hul Wêreldbeker-wedstryd in Jokohama, het ongelukkig toe op dowe ore geval.

Dié stukkie vuilspel deur die All Black-kaptein, Kieran Read, is ongestraf gelaat, al kon Jérôme Garcès (regs onder) dit sekerlik nie misgekyk het nie. Kyk ook regs op die skermgreep hoe die All Black-stut Joe Moody obstruksie pleeg teen een van die Bok-voorspelers. Skermgreep: Twitter

Kyk, jy kan nie ’n skeidsregter blameer vir die Bokke se onvermoë om hangskoppe te bemeester, takties goed te skop en belowende aanvalsbewegings af te rond nie, maar dis ’n feit soos ’n koei dat ’n rits swak beslissings die gang van ’n wedstryd dramaties kan beïnvloed.

As jy een span toelaat om onbepaald aan die bal vas te klou by die afbreekpunte, vuilspel ongestraf laat en ’n loskopstut met onwettige skrumwerk laat wegkom en eerder sy teenstander straf, gaan die ander span (lees: die Bokke) nie veel van ’n kans hê om te wen nie.

Trouens, die Bokke het selde ’n kans om te wen wanneer Garcès die fluitjie dra. Hulle het in 13 toetse wat hy in beheer was, nog net drie keer gewen!

Een van die All Black-oortreders in Jokohama wat met moord weggekom het, die loskopstut Joe Moody, is ná dié toets as “Tripod” gedoop, want sy linkerhand was permanent op die grond geplant saam met sy voete.

En dan was daar die vroom All Black-kaptein, Kieran Read, wat Pieter-Steph du Toit om die nek en sonder die bal geloop het toe hy deur ’n lynstaan gebars het om die Kiwi-skrumskakel Aaron Smith te probeer vastrek.

Hoe die assistent-skeidsregters (’n onnodig fênsie naam vir ’n goeie ou grensregter) dít en Moody se onwettige skrumtaktiek kon misgekyk het, gaan die verstand te bowe. Maar wag, een van die “assistent-skeidsregters” was niemand anders nie as die ewe bevoegde Fransman Romain Poite.

Dieselfde skeidsregter wat ’n Samoaan slegs ’n geelkaart gewys het nadat hy die Russiese kaptein amper onthoof het dié week.

So nee, dis seker nie ’n verrassing dat vriend Romain niks raakgesien het nie.

Ook geen wonder dat Wêreldrugby tot die verstommende stap oorgegaan het om te erken sy blasers se vertonings in die eerste klomp wedstryde was benede standaard nie.

* Jy sou immers blinder as Garcès en Poite moes wees om die WB-blasers se brouwerk in Japan mis te kyk.

Wêreld se slimste span

Skuimkop lees die Bok-verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber, sê hulle het baie wys geword uit die nederlaag teen die All Blacks.

Dit het Skuimkop laat dink aan ’n staaltjie so 16, 17 jaar terug, toe die Proteas ’n erge wendroogte beleef het. Eric Simons, die destydse afrigter, het ná elke nederlaag (en daar was heelwat van hulle) ook gesê hoe baie hulle uit die ervaring geleer het.

Ná dít vir lank aangehou het, kon ’n wyle oudkollega dit op ’n dag nie meer hou nie. Hy trek toe los en sê: “Die Proteas moet seker die slimste span in die wêreld wees, want hulle leer nou al vir ses maande.”

* Skuimkop hoop van harte hierdie Bokke is vinniger van begrip en het nou klaar geleer.

Die sultan van swaai: Beuran Hendricks het met sy swaaiboulwerk teen Indië gewys hoe groot wapen hy vir die Proteas kan wees in die regte toestande. Foto: Gallo Images

Swaai troef spoed

Gepraat van die Proteas. Ná hul flou Wêreldbeker-veldtog en ewe flou vertoning in die tweede T20-wedstryd teen Indië, was dit ’n verligting om – in die laaste T20-stryd die afgelope Sondag – ’n slag weer ’n Suid-Afrikaanse span te sien wat oorheers.

Quinton de Kock se kapteinskap en kolfwerk was subliem.

Maar wat die verblydenste was vir Skuimkop, is dat ’n Protea-swaaibouler die held van die wedstryd was.

Beuran Hendricks het gewys dat ’n vaardige swaaibouler meer vrees by ’n kolwer kan inboesem as iemand wat bloot vinnig kan boul.

* Hopelik is die obsessie wat onder Ottis Gibson posgevat het om vier snelboulers te kies en basta met die res, ná dese daarmee heen.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Wêreldbekerrugby  |  Jerome Garces  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.