Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Amla, Tier en Israel

Dit was nie onverwags nie. Dalk ’n effense waagstuk gegewe sy huidige spelpeil. Maar dis beslis verblydend om Hashim Amla se naam in die Protea-uitsoekgroep te sien vir vanjaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi.

Dis hoe ons vir Hashim Amla wil sien: kolf in die lug na nog ’n skitterbeurt. Foto: Getty Images

Ofskoon die man met die baard die afgelope paar maande sukkel met die wilgerlat in sy hand, kies ’n ou mos maar op grond van ondervinding jou span. Hieroor beskik Amla beslis.

Sy uitdager om ’n plek in die groep, Reeza Hendricks, se kolfgemiddeld in witbalkrieket is 26 en Amla s’n bykans 50. Dis die statistieke wat jy in gedagte hou as jy na ’n skouspel soos dié gaan.

Die groot vraag nou, natuurlik, is of Hash binne die afsienbare toekoms weer sy voete in die kolfkampie gaan vind. Die Proteas begin hul WB-veldtog op 30 Mei in die openingswedstryd teen die gasheerland.

Engeland is vol vertroue dat hy vanjaar die kroon gaan dra. Trouens, daar word glo reeds planne gemaak vir ’n Wêreldbeker-oorwinningsoptog vir die span. Bietjie voortydig, reken Skuimkop.

Die Engelse en Walliese Krieketraad (ECB) het met owerhede in Londen vergader oor moontlike geleenthede om ’n Wêreldbeker-sege te vier, hoewel planne nog gefinaliseer moet word.

Engeland het sedert 1992 nie weer ’n eindstryd gehaal nie en kon in 11 probeerslae nog nie die titel wen nie.

Die Proteas is die keer gelukkig nie een van die gunstelinge nie. Wat ’n wonderlike geleentheid bied vir Faf du Plessis en kie om verrassings te lewer.

Skuimkop glo vas Amla gaan sy insluiting regverdig. Alle spelers beleef iewers in hul loopbaan laagtepunte. Dan draai die gety weer. Dalk is dit presies wat die topkolwer beleef het.

Hy het bietjie meer as ’n maand om sy selfvertroue terug te kry. Kyk ’n mens na sy kolfgemiddelde in Engeland, is dit duidelik dat die toestande daar hom pas.

* Skuimkop sien uit na groot beurte deur die man met die groot baard.

Tierbrigade

Maar jy het mos al een van die groenes? Nie net een nie, maat, dié is nommer vyf. Foto: Getty Images

Wat ’n ongelooflike terugkeer was dit nie, dié van Tiger Woods, wat in die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi op Augusta National sy 15de major-titel verower het.

Elf jaar het verloop sedert hy weer ’n sege in een van die vier grotes kon behaal.

In dié tyd is al sy vuil wasgoed in die media uitgehang: sy seksskapades, sy verslawing aan pynpille. Ná vier rugoperasies is hy in letterlik honderde berigte oor die wêreld heen as ’n has-been afgeskryf.

Skuimkop was nog nooit ’n groot aanhanger van die effense suurgesig Yank nie. Maar hel, enige mens met ’n effense polsslag kan nie anders as om die golfster te respekteer nie.

Welkom terug aan die Tier, mag jou vertonings ander spelers aanspoor om jou weer te jaag. Ouens soos ons eie Justin Harding en major-wenner Louis Oosthuizen.

* Asseblief net nie so ’n urk soos Patrick Reed nie. Of Matt Kuchar, Xander Schauffele, Brooks Koepka, Bubba Watson of Ricky Fowler nie.

Israel-loos

Na die opskudding oor Israel Folau se homofobiese boodskap op sosiale media – ’n aanhaling uit die Bybel, ten spyt – kry die speler toe wat hy verdien: Rugby Australië gaan sy kontrak beëindig.

Israel Folau met ’n rugbybal wat hy waarskynlik nie weer in ’n Wallaby-rugbytrui sal vashou nie. Foto: Getty Images

RA sê die speler se teenwoordigheid in die sport is “nie langer toelaatbaar nie”. Michael Cheika, afrigter van die nasionale span, sê hy weier om die speler weer te kies.

So kort voor die aanvang van die Wêreldbekertoernooi is dit ’n gevoelige slag vir die Wallabies. Folau is ’n sterspeler. Sy afwesigheid sal ’n groot leemte laat.

Skuimkop verlekker hom nie in die speler se situasie nie. Trouens, dis ’n groot jammerte dat sy rigiede en onverbiddelike geloofsoortuigings ’n klip in sy pad gerol het.

Was dit alles die moeite werd? Het sy standpunt enige mense tot inkeer gebring: gays skielik tot die besef laat kom dat hulle sondaars is wat moet bely?

Nee, dis sterk te betwyfel.

Om die waarheid te sê, sy uitsprake het waarskynlik meer haat en wantroue en verdeeldheid tussen mense aangeblaas. Hy het meer vyande as vriende gemaak.

* Die band tussen hom en sy Wallaby-rugbybroers, sy ondersteuners oor die wêreld heen is geskaad. Sy onwrikbare beginsels het hom uiteindelik vervreem van die mense naaste aan hom.

Meer oor:  Hashim Amla  |  Tiger Woods  |  Israel Folau  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.