Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: ANC, nie atletiek, moet pak kry

Skuimkop kon vandeesweek maar net weer kop skud oor die ANC-regering se beheptheid met ras.

skuimkop
Skuimkop

Dít was toe die sogenaamde Eminent Persons Group se jaarlikse verslag oor transformasie in sport in Pretoria bekend gemaak is.

Die belangrikste bevinding van die verslag was dat atletiek nie sy transformasie-teikens gehaal het nie en dat sy base nou aan die sportminister en haar nalopers moet please explain.

Die ironie is egter dat Suid-Afrikaanse atletiek die afgelope vyf jaar ’n bloeitydperk soos nog nooit vantevore nie beleef.

Ons beskik oor wêreldklas-atlete wat gereeld wêreldklas-tye hardloop en boonop ’n rits medaljes in groot internasionale byeenkomste verower het. Dink maar aan Wayde van Niekerk, Caster Semenya, Luvo Manyonga en Akani Simbine, om net ’n paar te noem.

Ja, dis almal atlete van kleur, wat Suid-Afrikaners oor die kleurgrens heen verenig en trots gemaak het. Atlete wat wêreldwyd as rolmodelle dien en jong deelnemers, wit en swart, inspireer om ook die hoogste sport te bereik.

Om atletiek nou voor stok te wil kry, omdat hy kwansuis nie genoeg doen vir transformasie nie, is bloot absurd.

As enigiemand pak moet kry, is dit die nasionale regering vir sy onvermoë om ná 25 jaar te verseker dat die meerderheid skole in die land behoorlike sportgeriewe en toegang tot goeie afrigting het.

* Dink net hoe kragtig kon Suid-Afrika as ’n sportnasie gewees het as ál ons kinders van kleins af (letterlik én figuurlik) op ’n gelyke speelveld kon meeding.

Die stut-raaisel

Nog ’n ding wat Skuimkop nie dié week kon kleinkry nie, is Chean Roux, afrigter van die Junior Springbokke, se besluit om te volhard met die vaskopstut Asenathi Ntlabakanye.

Niemand soek ’n vaskopstut wat te slank is nie, maar dis te betwyfel of die kondisionering van Asenathi Ntlabakanye tans goed genoeg vir internasionale rugby is. Foto: Gallo Images

Dié voorryman is ooglopend oorgewig en het swaar geleef in die skrums in die Bokkies se onlangse wedstryde teen Georgië en Argentinië se o.20-spanne.

Tog is hy weer gekies vir die blitstoer na Engeland en Wallis en was hy Vrydagaand in die Suid-Afrikaners se beginspan vir die stryd teen die Jong Rose.

Skuimkop wil weet hoe dit moontlik is dat Ntlabakanye se kondisionering so swak is. Hy is immers sedert begin Februarie deel van die SA Akademie-groep wat “hoëprestasie-afrigting” in Stellenbosch ontvang.

Trouens, hy is al in Desember geoormerk om vanjaar weer vir die Junior Bokke te speel. As hy in vyf maande nie behoorlik fiks kon raak nie, gaan hy dit seer sekerlik ook nie regkry voor aanstaande maand se Wêreldtoernooi in Argentinië nie.

* Gegewe die enorme stroom van jong talent wat jaarliks deur ons skole opgelewer word, is dit onmoontlik om te glo dat daar tans geen beter opsies tot Roux se beskikking is nie.

Tot drank gedryf

Die Haaie het vandeesweek aangekondig dat Fitch & Leedes nou een van hul borge is. Soos baie van julle sal weet, is dit die ouens wat kinawater (die mooi Afrikaans vir tonic water) maak om saam met jou jenewertjie te drink.

* Skuimkop is bevrees soos die Haaie die laaste paar weke gespeel het, het hul ondersteuners iets baie sterker as ’n G&T nodig om deur ’n wedstryd te kom!

Meer oor:  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.