Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Beste man vir die werk is ’n vrou

As jy willens en wetens jou kop in ’n bynes druk, kan jy ’n paar angels in jou bakkies verwag. Maar Skuimkop wil tog vandag ’n ding sê.

Die week se grootskaalse optogte in die Kaapse middestad om protes aan te teken teen geweld, mishandeling, verkragting en moord op spesifiek vroue en kinders, het ’n duidelike bewys gelewer dat Suid-Afrikaners net mooi keelvol vir die benarde situasie is.

Chauvinisties of nie? Die sportster is gedurig in die skaduwee van die model. Foto: Getty Images

Die boodskap het selfs (uiteindelik) by pres. Cyril Ramaphosa uitgekom, wat die skare toegespreek het toe hy die Wêreld- Ekonomiese Forum oor Afrika in Kaapstad se Internasionale Konferensiesentrum bygewoon het.

Ofskoon die massa-aksie dadels met sport uit te waai het, het dit Skuimkop tog aan die dink gesit.

Veral in die lig van sekere sportsoorte wat die afgelope tyd van tradisies afgesien het, omdat dit moontlik vroue op ’n sekere manier uitbeeld.

Verlede naweek, byvoorbeeld, is die “bokskryt-meisies” wat rondes by ’n belangrike geveg in Australië sou aandui, op die nippertjie deur mans vervang weens klagtes deur drukgroepe wat hulle vir vroueregte beywer.

Die drie “plaasvervangers” – of gevegsvorderingsbestuurders soos hulle terstond gedoop is – is egter elke keer uitgejou wanneer hulle in die kryt geklim het.

Dit het die promotor van die geveg halfpad deur verrigtinge genoop om die vroue terug te bring.

Op ’n vraag hoekom die vroue aanvanklik uit die program verwyder is, het die organiseerders gesê protes deur plaaslike politici en drukgroepe het die praktyk as “ouderwets” beskryf en gesê dat vroue soos “trofeë uitgestal word”.

Dit herinner aan die besluit deur Formule Een-base in 2018 om die gebruik van sogenaamde “kuipemeisies” voor renne te staak.

Die vroue was vir dekades lank ’n instelling tydens F1-renne. Dit was gewoonlik modelle in nousluitende “katpakke”, waarop verskeie borge se name prominent vertoon word.

In ’n verklaring destyds het die F1 gesê die gebruik verteenwoordig nie die “handelsmerkwaardes” van die sport nie en druis in teen “moderne norme van die samelewing”. Dis nie “relevant of gepas” vir F1 en sy ondersteuners – jonk en oud, man en vrou – oor die wêreld heen nie.

Kort hierna het die Beroepsveerpyltjiekorporasie (PDC) ook die gebruik van “instap-meisies”, wat mans-deelnemers na die arena begelei, opgeskort.

Nou ja, Skuimkop is nie seker wat om van die besluite te maak nie. Hier dus die kop in die bynes.

Aan die een kant kan dié besluite geloof word as ’n slag teen chauvinisme, die objektivering van vroue, seksisme selfs. ’n Stap in die regte rigting om ontslae te raak van die algemeen aanvaarde aanname dat vroue in sekere sportsoorte spesifieke rolle gaan vervul.

Aan die ander kant moet ’n mens versigtig wees om nie oor jou politiek korrekte broekspype te struikel nie.

In gesprekke met die kuipe- en krytmeisies, nadat die besluite geneem is, word dit duidelik geeneen van hulle het (letterlik of figuurlik) “ontbloot” gevoel nie, of dat daar teen hulle gediskrimineer is of van hulle “objekte” gemaak is nie.

Trouens, hulle was deur die bank teleurgesteld oor die besluite, want benewens die goeie betaling, is dit uit vrye wil en in ’n beroepsomgewing gedoen.

Hoe ironies dat die afskaffing van die gebruike juis deur máns geneem is! As dít nie chauvinisties, neerbuigend of seksisties is nie, weet Skuimkop nie wat die woorde beteken nie.

Die vroue is nooit om hul mening gevra nie. Voel julle ongemaklik, geteiken, kwesbaar, minderwaardig? Nee, daar is bloot namens hulle besluit. Want mans weet mos beter as vroueregte te sprake is, nie waar nie?

* Hoe sê hulle nou weer: die beste man vir die werk is dikwels ’n vrou.

Raas en blaas

Die staking deur skeidsregters in die Westelike Provinsie Rugbyunie is verby en klubwedstryde kan weer voortgaan.

Die WP Rugbyunie het uiteindelik ná ’n noodvergadering sy steun aan skeidsregters toegesê. ’n Memorandum van verstandhouding is intussen onderteken om probleme soos geweld, intimidasie, skel- en vloektaal teenoor blasers by klubwedstryde aan te spreek.

Skuimkop sal bra agterdogtig wees oor die lippediens as hy ’n klubref was. Om mooibroodjies op papier te bak, net sodat klubwedstryde weer kan plaasvind, gaan nie deug nie.

Die unie moet voortaan met ’n ysterhand optree. Enige vorm van fisieke geweld teenoor ’n skeidsregter en ’n klub moet eenvoudig met ’n skorsing gestraf word.

* As hy nie sy toeskouers (of spelers) kan beheer nie, hoort hy nie in ’n kompetisie nie.

Meer oor:  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.