Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Bok vir sports raak pad byster
Die man met die pienk hemp en die varkmaniere, ’n destydse Springbok, se daad is op kamera vasgevang. Foto: Skermgreep van YouTube

’n Mens wil nou nie hoes, proes of skinder nie, maar wat het die daai voormalige Springbok-rugbyspeler gedink toe hy Woensdag ewe doodluiters twee gholfstokke by die Stellenbosch-gholfklub uit ouens se sakke gesteel het?

Die verdagte se naam sal Skuimkop nie noem nie, want waar is jou bewyse, Meneer?

Feit van die saak is, iemand wat al op die grootste sportverhoog sy land verteenwoordig het, behoort van beter te weet.

Oor die jare het ’n lang lys sportsterre al die pad byster geraak, iets aangevang wat volgens wet strafbaar is.

Die Wallaby-rugbyspeler Quade Cooper, byvoorbeeld, het twee skootrekenaars in iemand se huis vasgelê.

Die bokser Mike Tyson (verkragting, aanranding), die Franse rugbykaptein Marc Cécillon (moord), die sokkerspeler Vinnie Jones (aanranding) en te veel Pakistanse en Indiese krieketspelers om te noem (bedrog, wedstrydknoeiery) het ook met die gereg te doene gekry. Daar is honderde voorbeelde.

Plaaslik hoef jy net die name toe noem, die dade ken ons: die tennisspeler Bob Hewitt, die paralimpiese atleet Oscar Pistorius, die krieketspeler Dion Taljard.

Plaaslik hoef jy net die name toe noem, die dade ken ons: die tennisspeler Bob Hewitt, die paralimpiese atleet Oscar Pistorius, die krieketspeler Dion Taljard.

En nou dié lawwe daad deur ’n oud-Bok en voormalige WP-speler, helder oordag, met veiligheidskameras wat die hele petalje afneem.

Die twee stokke, een na dese sonder sy steel, is ’n dag later deur vermoedelik die einste dief by die Stellenbosch-gholfklub ingehandig met die boodskap dat dit in die “verlore-en-gevind-hoekie” hoort.

Die arrogansie is verbluffend! Die skuldige moet boet, al is dit net omdat hy skynbaar traak-my-nie-agtig is oor dié misdaad.

Laat dit ’n les wees vir almal. Soos Sammy Davis Jr. destyds gesing het: “Don’t do the crime if you can’t do the time.”

Poegaai, Pappa. Jean-Luc du Preez in aksie vir die Sale Sharks, waar hy nuwe vriende gemaak en ’n nuwe besering opgedoen het.Foto: Getty Images

Haai, regtig?

Skuimkop was verbaas om te lees hoe kalm die Haaie se afrigter, Robert du Preez, was oor die nuus dat een van sy staatmakers in die komende Superrugbyseisoen, boonop sy seun ook, met ’n liesbesering vir drie maande buite aksie gaan wees.

Die ysterflank Jean-Luc du Preez was op ’n korttermyn-kontrak by die Sale Sharks in Engeland toe hy beseer is en gaan derhalwe ’n paar Superwedstryde misloop.

Hulle maak nuwe vriende, hulle ervaar nuwe afrigters. Dit is fantasties. Ons moet dit meer gereeld doen.
Rob du Preez

Tog sê Pappa hy is steeds bereidwillig om sy spelers vir kort kontrakte aan klubspanne in Europa en Japan vry te stel. Dis ’n ongelooflike ervaring, sê hy.

“Hulle bring nuwe idees terug en word blootgestel aan ’n ander lewenstyl. Hulle maak nuwe vriende, hulle ervaar nuwe afrigters. Dit is fantasties. Ons moet dit meer gereeld doen.”

Ja, hulle bring ook dikwels beserings terug, Rob. En dit agt maande voor die Wêreldbeker-skouspel.

Skuimkop wonder hoe opgewonde Rassie Erasmus is oor sy Bok-kandidate wat aangemoedig word om vanjaar “blootstelling aan ’n ander lewenstyl” en “nuwe vriende” oorsee te gaan ervaar?

Die nasionale vrouenetbalspan maak kring en maak plan, maar maak skynbaar nie saak vir Suid-Afrika se sportbase nie. Foto: Getty Images

Netbalnood

Een van die gewildste balsporte vir meisies op skool is netbal. Net ’n jammerte dat ons talentvolle spelers na skool op eie houtjie moet aansukkel en dat die sport so afgeskeep word.

Dit wil voorkom of niemand werklik omgee vir netbal nie. Is daar, benewens die harde werk van ’n handjievol toegewydes, enige ondersteuning om die spel sy regmatige plek in ons verwysingsraamwerk as sportliefhebbers te gee?

Skuimkop twyfel.

Die nasionale span, die een wat ons elke keer hoop Engeland, Nieu-Seeland of Australië gaan klop, sukkel onverrigter sake voort.

Die jongste statistieke wys die SA span is tans die mees ervare een ooit.

Die 12 Proteas wat laas Sondag vir die eerste toets in die Vierhoekige reeks in Engeland aangetree het, het saam 568 toetse op hul kerfstok gehad. Dis gemiddeld 47,3 toetse per speler.

Die 12 Proteas wat laas Sondag vir die eerste toets in die Vierhoekige reeks in Engeland aangetree het, het saam 568 toetse op hul kerfstok gehad. Dis gemiddeld 47,3 toetse per speler.

Tog het die Aussies (wie se groep van 19 saam 251 toetse gedeel het) die Proteas met 62-45 geklop.

Hoekom?

Want die sport traak kennelik nie Suid-Afrika se sportbase nie.

Australië, byvoorbeeld, het ’n heeltydse, daaglikse oefenprogram vir die nasionale span. Suid-Afrika nie. Die Aussies speel in ’n heeltydse, nasionale beroepsliga. Die spelers is beroepsatlete en hoef te werk nie.

Australië, Nieu-Seeland en Engeland se Superligas bestaan uit 14 rondes, plus uitspeelwedstryde.

Suid-Afrika se Premierliga sal in Mei beslis word en daar is tans nog onduidelikheid oor die formaat.

Gegewe dit, kán ons mos nie verwag die Proteas moet op dieselfde vlak wees as lande waar netbal ernstig opgeneem word nie.

Meer oor:  Norma Plummer  |  Jean-Luc Du Preez  |  Earl Rose  |  Suid-Afrika  |  Netbal  |  Haaie  |  Skuimkop  |  Rugby  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.