Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bokke laat grassnyers stof vergader

Die koeël is deur die kerk, besef Skuimkop laas naweek, nadat die Springbokke in Salta met die Argentyne se gal gewerk het om die Rugbykampioenskap te wen.

Pottie Potgieter het maande ná die foto nog op die enkelbed geslaap nadat sy vrou, Andrenette, uitgevind het hy was by die rugby, nie by ‘n Angus Buchan-mannedag soos hy beweer het nie. Foto: Gallo Images

Stádig oor die klippe, is daar vroeër in die reeks gewaarsku net ná die Bokke in Wellington se Koekblik met 16-16 teen die All Blacks gelykop gespeel het.

Moet nou nie weer weghol met ’n ding nie.

Maar dis seker in die aard van Suid-Afrikaanse ondersteuners. Twee, drie goeie vertonings op ’n streep deur die Groen-en-Goud en daar staan die grassnyer weer onaangeraak in die motorhuis, vergete soos ’n derdespan-haker op die eerstespan se plaasvervangersbank.

Die kikoejoe enkeldiepte in die agterplaas, onkruid wat soos slank slotte in die blombeddings rank.

Die ou met die gehawende Isuzu-bakkie is sommer kort ná daardie Kiwi-verrassing versoek om ’n vrag rooikrans te kom aflewer. “So droog, meneer sal braai dat die stof staan,” lieg hy.

Maar wie gee om as die stoom met die aansteekslag uit die hout begin borrel? Die Springbok-vlam brand weer hoog en ’n groot deel van die duisend stompies behoort droog te wees voor die Wêreldbeker-eindstryd later vanjaar.

Ja, dis lekker as die Bokke wen. Lekkerder as ons hoor hoe die ouens praat van “eienaarskap neem” en die “broederskap” en “spangees” wat gevestig is.

Lekkerste is as daar gesê word sukses in die Rugbykampioenskap is nie waaroor vanjaar gaan nie. Die Webb Ellis-trofee in Japan is die enigste fokus.

Natuurlik geen verrassings hier nie. Ons het dit al voorheen gehoor en geglo. Nou weer. Dis immers ’n Wêreldbeker-jaar en Skuimkop was in 2007 laas so positief.

Saterdag op Loftus waag Rassie vir oulaas met ’n span wat waarskynlik net een opdrafspeler het wat ook die All Blacks op 21 September in Yokohama in die eerste groepwedstryd sal pak.

Die Poemas waag ook met groentjies. Niks is op die spel nie, behalwe vir ’n paar ouens wat Rassie in die verloop van 80 minute van hul deugde wil oortuig om die uitsoekgroep na Japan te haal.

Nog net die Argies en ’n opwarmwedstryd teen Japan voor die oomblik van waarheid vir Suid-Afrika aanbreek.

* So tussen ’n rokende vuur en ’n tuin des aanstoots hoop Skuimkop dat Springbok-rugby ons álmal vanjaar weer vir ’n vlietende oomblik trots sal maak om in die dikwels geteisterde land te woon.

Nick en sy duiwels

Wat het Andy Roddick, Marat Safin, Jimmy Connors, John McEnroe en Boris Becker gemeen? Almal het bekendheid verwerf deur iewers in hul tennisloopbaan ’n Grand Slam-titel (of meer) te wen.

Almal sal die dag onthou toe die baljoggie op Wimbledon besluit het genoeg is genoeg. Nick Kyrgios het nie die regter-haakhoutjie sien kom nie. Hy was in droomland voor hy die gras getref het. Foto: Getty Images

Hulle was ook dikwels in die nuus weens hul vurige humeure op die baan met vloermoere, ’n geskel en ’n geneul gemik op teenstanders, die stoelskeidsregter, lynregters en die skare.

Aan die oorkant van die net het ons die Australiër Nick Kyrgios.

Hy is berug omdat daar kwalik ’n toernooi verbygaan waar hy nie sy speelgoed uit sy bababedjie gooi nie. Rakette word gebreek, waterbottels en tennisskoene na die toeskouers geslinger en wat uit sy mond kom, sou my oorle’ ma na ’n koekie Lux-seep laat gryp het.

Hy het natuurlik nog nie ’n Grand Slam-toernooi gewen nie. Maar oe, sug almal, hy is so talentvol. Net ’n kwessie van tyd. Hy moet net gefokus bly.

Wat ’n klomp bog. Dié barbaar hoort nie op ’n tennisbaan tot hy maniere geleer het nie. Net ’n lang skorsing sal hom tot inkeer bring.

Skuimkop het nog altyd van die heethoofde eerder as die ysberge op die tennisbaan gehou. McEnroe eerder as Bjorn Borg. Maar daardie stoutseuns kon spéél, ondanks die uitbarsting.

* Kyrgios kla soos ’n Grand Slam-kampioen. Hy speel nie soos een nie.

En nog ’n afrigter ...

Die toekoms lyk duister vir die nasionale krieketspan, sou ’n mens kon redeneer.

Nog ’n nasionale afrigter, dié keer met die titel spandirekteur, gee sy veldwerkers vangkans. Gaan krieketondersteuners vir Enoch Nkwe ’n kans gun? Foto: Gallo Images

Ná ’n teleurstellende Wêreldbeker, toer die span met ’n paar groentjies en ’n bloedjong nuwe afrigter – of spandirekteur – in Indië, wat selfs vir hardebaard afrigters en senior spelers ’n uitdaging is.

Maar Enoch Nkwe (36), wat verlede seisoen by die Lions groot sukses behaal het, sê hy is opgewasse vir die taak om as tussentydse spandirekteur die skip op die subkontinent op koers te kry.

Wie is ons om te stry? Hy kan tog nie nou al veroordeel word nie? As hy, en Skuimkop glo dit, op meriete aangestel is en Krieket Suid-Afrika hiermee ook ’n kwota-regmerkie verdien, laat dit so wees.

* Drie T20-wedstryde, drie toetse. Dis die geleentheid wat Enoch het om te wys hy kan die Protea-leisels in die mees uitdagende omstandighede hou.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.