Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bokke moet ‘Taljaners’ op plek sit

Teken solank dié datum en plek aan: Vrydag 4 Oktober in die Sjizoeoka-stadion in Foekoeroi, Japan. Op dié dag en op dié veld gaan die Springbokke ten aanskoue van die ganse rugbywêreld verneder word.

Wéér.

Wees gewaarsku, Bokke: Luister mooi . . . ons kom vir julle op 4 Oktober, sê Italië se rugbybreier, Conor O’Shea. Foto: Getty Images

Net soos in 2015 se eerste Wêreldbeker (WB)-groepwedstryd, toe vanjaar se gasheer die Bokke, hul breier, Heyneke Meyer, en die hele Suid-Afrika met ’n doodsniksege geskok het. Wat ’n droefgeestige partytjie by Skuimkop se huis tot gevolg gehad het.

Die tjops is dié aand toe nooit gebraai nie. Almal se eetlus was in elk geval weg. Iemand het laataand, te midde van die soveelste dawerende stilte, gesê dat die ys op is. Dit was die teken. Almal het hierna die pad gevat.

Op 4 Oktober wag daar skynbaar weer so ’n skok. ’n Swart Vrydag vir Suid-Afrika. Maar nie die tipe waar jy wasmasjiene, haardroërs, grootmaat-toiletpapier en 2-liter-gaskoeldrank vir “winskopies” kan aanskaf nie.

Die span wat op dié dag die Bok ’n doodskoot gaan toedien, het naas die Japannese vir die grootste skok in ons rugbygeskiedenis gesorg toe hy in 2016 in Florence met 20-18 oor Suid-Afrika geseëvier het.

Ja, Conor O’Shea, Italië se rugbybreier, sê die Azzurri se pad na die kwarteindronde van vanjaar se skouspel, lê in ’n sege oor die Springbokke.

Die span kon nog nooit in 15 toetse die All Blacks, die ander groot naam in Groep B, klop nie. So die Kiwi’s is nie ’n opsie nie.

Italië behoort te veel skietgoed vir Namibië en Kanada te hê, reken O’Shea. Dit laat die Bokke as oorblywende teiken.

Groot woorde. Skuimkop hoop Rassie Erasmus neem kennis hiervan.

Nie dat enige toetsspan ooit onderskat durf word nie. Maar… niemand het Japan in 2015 ’n kans gegun nie. Niemand het die Azzurri in 2016 as gevaarlik beskou nie.

Dalk kan Rassie die Ier se gevleuelde woorde as motivering vir sy span gebruik.

Dalk kan hy die Bokke herinner dat daar op 4 Oktober presies 20 jaar, 3 maande en 15 dae verloop het sedert Suid-Afrika die Taljaners met 101-0 vermorsel het.

* Dis tyd dat dié geskiedenis hom herhaal.

Geen sent vir talent

“Welkom by Frans vir Beginners . . . Bienvenue en Français pour débutants...” Carlu Sadie luister aandagtig terwyl hy voorberei vir rugby in Parys, Frankryk. Foto: Gallo Images

’n Mens kon vandeesweek weer sien in watter mate die beroerde geldsake by die beleërde Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) druk waar dit seer maak.

Die Streeptruie is nog midde-in hul Curriebeker-veldtog en tog vertrek die vaskopstut Carlu Sadie sommer vandeesweek al Frankryk toe om hom as leenspeler by Stade Francais aan te sluit.

Goeie vaskoppe soos hy is so skaars soos hoendertande. Skuimkop wonder dus wat besiel die WP om sommer net so een van syne vry te stel?

As ’n raaiskoot gewaag moet word, kan ’n mens sê dis sodat die Kaapse unie nie die botterbul se salarislas hoef te dra nie.

Of daar ná Saterdag nog ’n week of dalk twee in die WP se Curriebeker-veldtog gaan wees, weet ons natuurlik nog nie. Maar gaan dink net oor die pekel waarin die WP sal wees as hy wél na die halfeindronde deurdring en Wilco Louw doen ’n besering op.

Dan lees die stutte in die spanlys waarskynlik: “Neethling Fouché en Nog Een”.

* Skuimkop kan maar net saam met WP-ondersteuners hoop dat die Streeptruie nie aan gebakte pere gaan smul nie.

Rugby in die raadsaal

Al die nuus oor spelers wat die Moederstad ná die WB-toernooi verlaat, is inderdaad kommerwekkend.

Nou kyk, Skuimkop was nog nooit die grootste fên van spelers soos Dan Kriel, Josh Stander, SP Marais, Kobus van Dyk en Sikhumbuzo Notshe nie, maar dit pla tog dat die WP se diepte al hoe dunner raak.

Daar is nie pyne met Springbokke soos Eben Etzebeth en Damian de Allende wat besluite om oorsee te gaan speel nie, want dis ’n natuurlike verskynsel ná die skouspel in Japan.

Die probleem is egter dat ondersteuners, met die uitsondering van die nuus oor Leolin Zas, nog geen gerugte oor nuwe aanwinste by die unie gehoor het nie.

Inteendeel, net die teenoorgestelde, gebeur.

Die WP fokus skynbaar al sy energie daarop om die haker Bongi Mbonambi te oortuig om nie aan die Southern Kings se geld-geelwortel te knibbel nie.

* Skuimkop se vermoede word nogmaals bevestig dat die WP se rugbybase met hul alewige gesloer en raadsaal-ramba’s dit vir die afrigters en spanne moeilik maak om vooruit te beplan en derhalwe sukkel om op die veld te presteer.

Meer oor:  Italië  |  Carlu Sadie  |  Conor O’Shea  |  Skuimkop  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.