Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bokkerop baadjiedraers se skuld
Alle Allister Coetzee-grappies is oplaas op ’n stokkie.

Met die raadsaal-rapsodie uiteindelik uitgewoed en die einde van Allister Coetzee se loopbaan as Springbok-afrigter op skrif, staan Skuimkop vandag weer verstom oor hoe hopeloos en hulpeloos die Suid-Afrikaanse rugbybase wérklik is.

Met Jurie Roux aan die SA Rugbyunie-voorpunt en ’n handjievol tandelose lakeie wat verbete aan sy vergulde onderrok vasklou en vir alles “ja-baas, nee-baas”, is dit g’n wonder nie, dat ons rugby – nes ons ekonomie – tot rommelstatus verdoem is.

Hoe op dees aarde kry sogenaamde diensknegte van dié sport dit reg om keer op keer als op te foeter? Jurie en kie is veronderstel om kenners te wees, mense met bewese agtergrond in die bestuur van rugby!

Die Springbok sal nooit weer die gesag en respek van ander rugbynasies afdwing as sy huis nie in orde is nie. Toetse, glo dit of nie, word ook in raadsale gewen, daar waar die besluitnemers bepaal wie as afrigter die span se leisels moet hou, wat dié persoon se kontrak bepaal, hoe daar na jou elite-spelers gekyk word gedurende (en buite!) ’n internasionale seisoen.

Saru misluk die afgelope hoeveel jaar al om hierdie basiese grondslag vir die nasionale span se sukses te lê.

Die gevolg is ’n skynbaar eindelose stoom negatiewe publisiteit wat die rugbybase soos hondemis aan ’n skoensool saamdra.

Die gevolg is ’n skynbaar eindelose stoom negatiewe publisiteit wat die rugbybase soos hondemis aan ’n skoensool saamdra.

Natuurlik het dit ’n uitwerking op die ouens wat op die veld hul ding moet doen!

Hoe sal jy voel as jou baas, die een op wie jy veronderstel is om peil te trek en wie die rigting vorentoe moet aandui, nie meer seker was van sy pos nie?

Hoe sal jy voel as jy daagliks in koerante en op webtuistes lees hoe daar in briesende briewe tussen jou baas en sy werkgewer vuil wasgoed in die openbaar gewas word vir almal om te sien.

Saru het nogmaals die pot mis gedinges met die hele Toetie-debakel. Of die aanstelling van die “rugby-messias” Rassie Erasmus as Bok-afrigter ’n greintjie van ’n verskil gaan maak aan die stand van sake, is bitter, bitter sterk te betwyfel.

Ons span is reeds op die agtervoet, nog voor die begin van ’n lang, uitdagende internasionale seisoen. Ons het nog nie (eintlik) ’n afrigter nie. Ons weet nie (eintlik) wie die kaptein is nie. Niemand kan sê of ons klub-Springbokke van oorsee vanjaar betrek gaan word en of daar weer plaaslike spelers gaan opdraf wat kennelik nie die vaardighede het om op toetsvlak te speel nie.

Maar nou ja, ons gaan glo die seisoen op 2 Junie begin deur in Amerika (vaderland, hoekom dáár?!) teen Wallis te speel, voor Engeland hierheen kom om ... kom ons sê maar bloot dit gaan pynlik wees.

Dit terwyl die All Blacks in Oktober vir Australië in Yokahama, Japan, pak. Om bietjie kennis te maak met speeltoestande daar voor 2019 se Wêreldbeker-toernooi, sien. Want dis hoe mens jou nasionale span met die oog op die toekoms bestuur.

Skuimkop se raad aan lesers: gaan koop maar daai nuwe hark, kruiwa en grassnyer, want daar gaan die komende toetsseisoen baie tyd vir tuinwerk wees.

Johan Ackermann. Foto: Getty Images

Sien ons jou weer?

Nie net verloor Suid-Afrikaanse rugby baie kundiges met jare se ondervinding as spelers en afrigters nie, baie van ons jong talent dra nou deesdae ’n genealogie-register saam met die rugbystewels in hul toksakke rond.

Ingeval oupagrootjie dalk iewers in Europa of Australasië gebore is.

Skuimkop lees vroeër dat daar kommer in Nieu-Seeland heers oor topafrigters soos Warren Gatland (Wallis), Joe Schmidt (Ierland), Todd Blackadder (van Crusaders na Bath) en Dave Rennie (van die Chiefs na Glasgow) hul heil as afrigters oorsee gaan soek het.

Die ouens se kennis is vir die toekomstige All Blacks verlore, mor sommiges. Dis intellektuele kapitaal wat verlore gegaan het.

Watter bydrae kon hulle ter plaaste gelewer het om die nuwe geslag Bokke op koers te kry? Wil iemand nie tog vir Nick Mallett vra om te kom help nie?

Ons het natuurlik dieselfde probleem: sou die Bokke nie beter af gewees het met Johan Ackermann (Gloucester) aan die stuur nie? Johann van Graan is Munster toe en Alan Solomons (Worcester Warriors), Marius Goosen (Benetton Treviso) en Jake White (Toyota Verblitz, Japan) is ook vort.

Watter bydrae kon hulle ter plaaste gelewer het om die nuwe geslag Bokke op koers te kry? Wil iemand nie tog vir Nick Mallett vra om te kom help nie?

Oor ’n jaar of twee sal die Bokke seker met die jong Suid-Afrikaanse stut Nathan McBeth te doen kry as hy vir Skotland in die skrum sak.

Dié SA Skole-speler is opgeneem in die Skotte se o.20-span. Sy oupa was ’n Skot ... so daar het jy dit.

McBeth is een van vele talentvolle jongelinge wat of op grond van ’n familieverbintenis of deur verblyfreg ná jare oorsee kwalifiseer om vir hul aangenome land uit te draf.

Ons talentpoel word al hoe vlakker. As Saru en die provinsies nie ’n groot poging aanwend om dié mense te probeer behou nie, gaan die uittog net momentum kry.

Dís ’n gesig wat voortaan nie meer voor Formule Een-wedrenne gesien sal word nie. Foto: Getty Images

Naakte diskriminasie?

Skuimkop voel dis ’n brawe besluit van die Formule Een-grootbase om af te sien van die tradisie om sogenaamde grid girls by wedrenne te gebruik.

Vir diegene wat voel hul gebrek aan F1-kennis word effens ontbloot, laat ons verduidelik: grid girls is meestal modelle, gewoonlik skraps geklee, wat voor die begin van ’n wedren op die baan voor elke jaer met sy wedrennommer paradeer.

Sean Bratches, F1 se kommersiële hoof, sê ofskoon dit dekades lank al tradisie is, word dit nou as “ouderwets” beskou en dit “stem nie ooreen met ons handelsnaam se waardes of die norme van die moderne samelewing nie”.

Die besluit is wyd verwelkom. Maar is ook uit vele oorde skerp gekritiseer.

Veral huidige en voormalige grid girls het te velde getrek teen die F1-besluit.

Ek was vir agt jaar ’n grid girl en ek het nog nooit ongemaklik gevoel nie!
Lauren Jade Pope

Lauren Jade Pope, ’n grid girl-promotor in Nottingham, sê “feministe” het die meisies van hul werk ontneem. “Ek was vir agt jaar ’n grid girl en ek het nog nooit ongemaklik gevoel nie!”

Ja, min mense sal seker met ’n bikini in die warm son ongemaklik voel, Lauren.

Maar laat ons nou kaalkop die waarheid praat: Dié gebruik objektiveer vroue, nes die bikini-meisies wat in die bokskryt vir mense aandui watter ronde volgende gaan begin. Asof niemand weet 2 volg op 1 nie.

Wat van die spannetjie dansers wat tydens Superrugby-wedstryde toeskouers vermaak? Moet hulle nie ook maar die trekpas kry nie?

Meer oor:  Jurie Roux  |  Rassie Erasmus  |  Allister ­Coetzee  |  Springbokke  |  Afrigter  |  Skuimkop  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.