Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Brad troef herinneringe van loesing

Dit gaan die verstand te bowe dat daar so gesloer word met die terugkeer na rugbyaksie in Suid-Afrika.

Die Nieu-Seelanders speel al. Trouens, hulle het ’n hele Superreeks agter die blad. Die Australiërs ook. En Vrydagaand het die Engelse Premierliga weer sy aktiwiteite hervat.

Groepoefeninge vir die Kaapse Stormers. Daai manne daar agter . . . staan bietjie verder uit mekaar asseblief. Foto: Gallo Images

Ter plaatse? Ons manne poer-poer aan in sanitêre groepies van vyf. Net geen kontak maak nie, asseblief Menere. So ’n mens kan dit nie eens touchies noem nie.

Al weer ons man Nathi Mthethwa wat die stok in die wiel steek. Die minister van sport swyg oor die terug-na-kontak-kwessie. Sy mond so toe soos Malusi Gigaba se toksak vol R200-note.

Nathi weerhou ons van rugby, nes Nkosazana Dlamini-Zuma ons van dop en twak weerhou.

Rugbyunies wag in spanning om te hoor wanneer die agbare sportminister gehoor gaan gee aan hul dringende versoek vir kontaksessies en wedstryde.

Vir laasgenoemde het die regering reeds in beginsel ja gesê, kragmetings in leë stadions. Dis natuurlik onderhewig aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se planne om spelers se veiligheid te midde van die Covid-19-pandemie te verseker.

Die jongste gerug is dat rugby eers hier rondom middel-September hervat gaan word. Maar vir dit om te kan gebeur, moet daar in die komende week met kontaksessies begin word. Sou die agt plaaslike spanne teen volgende week daarmee kan begin, sal dit die ouens met minder as ’n maand laat om aan die stampe en stote van beroepsrugby gewoond te raak. Bitter min tyd, dus.

Bygesê, dis nou mits Nathi sy mond oopmaak en sê gaan voort.

Wat verhoed die man, wonder Skuimkop? Die gate wat die Covid-19-rot reeds in unies se geldkoffers gevreet het, is reeds te groot om toe te stop. Maar sodra rugby weer begin, kan verdere finansiële bloeding ten minste gestop word.

Tog is dit asof ons sportminister blind is vir die rampspoedige scenario waardeur die spel in die gesig gestaar word. So amper asof hy moedswillig is. Sy magsposisie geniet. Of dalk ’n verskuilde agenda koester, sou ’n mens in samesweringsteorieë van dié aard glo.

Hoekom rugby spesifiek? En kan Nathi verduidelik waarom hy sokker die groen lig gegee het? Dis ’n kontaksport, nie waar nie? En tog speel die PSL-ouens weer volstoom.

Wat maak die SA Sokkervereniging (Safa) se planne om spelers in kontaksessies en in wedstryde teen Covid-19 te beskerm, beter as Saru se planne om presies dit te doen?

Die minister moet verduidelik. As hy kan.

Ander is daar dalk moedswillige mense wat allerlei aannames maak. Soos dat daar êrens ’n toksak vol R200-note iewers deur iemand aan iemand iewers oorhandig is. In die kattebak van ’n BMW X6, geparkeer agter die hoë veiligheidsmure om ’n drieverdiepinggebou in Saxonworld.

• Sou ’n mens in samesweringsteorieë van dié aard glo.

Krieket en kul-tier

’n Kultuurkamp in Skukuza is nou die Proteas se onmiddellike prioriteit. Synde daar nie krieket gespéél word nie, kan daar seker krieket gepraat word. Onder meer.

En wie weet, dalk die Groot Vyf. Iewers ’n troppie buffels wat ongeërgd aan die vaal gras knibbel, in die mik van ’n maroelaboom ’n dikgevrete jagluiperd, ’n paar niegeblikte leeus, olifante met een of albei (oorspronklike) tande en waarskynlik die enigste oorlewende renoster in Suid-Afrika.

Skuimkop is seker daar sal minstens Vyf Groot punte op die Proteas se agenda wees.

Maar dit gaan nie oor die Black Lives Matter-beweging nie, sê Jacques Faul, eersdaags die voormalige waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika.

Of liewer, die kultuurkamp is nie in reaksie op BLM nie.

Dis bloot om ’n “spankultuur en die beginsels daarvan” vas te stel. Een wat deur almal onderskryf word.

Klink vir Skuimkop al te veel na ’n dekmantel dié.

Gegewe wat die laaste tyd in krieketgeledere gebeur het – klagtes van rassisme deur almal van Makhaya Ntini en Ashwell Prince tot by Thami Tsolekile – is dit dalk tyd dat die manne mekaar onder vier oë spreek.

Kry al die geraamtes uit die kas, plaas die verskuilde agendas op die tafel, wees openhartig en eerlik oor die ras- en kwotaolifant in die kamer.

Sodat almal uit een mond praat.

En niemand oor ’n paar jaar van nou af weer hoef te vertel hoe hy alleen agter in die bus gesit het of op sy eie geëet het nie.

Brul-jante Brad!

Wat ’n boikie! Brad Binder, Suid-Afrika se ridder op ’n ysterperd. Foto: Getty Images

Skuimkop het dit een keer in sy lewe op ’n motorfiets gewaag. ’n Skoolpêl se 50cc-Honda.

En op dié fatale dag, by die enigste verkeerslig in die Bolandse dorpie, het die enjin gestaak presies op die oomblik toe sy pa agter die stuur van die groen Passat-stasiewa daar stilhou.

Nie baie mense kan daarop aanspraak maak dat hul gatvelle al in die middel van ’n dorp se hoofstaat afgetrek is nie. Skuimkop kan.

Die fiets is die 4 km na Flip se huis toe gestoot, met die Passat wat stadig volg, waarskuwingsligte al flikkerend.

Kortom: van motorfietse ken Skuimkop nie veel nie.

Maar tog, wat Brad Binder vermag het deur ’n MotoGP-ren met net sy derde probeerslag te wen, is iets wat dié pynlike verleentheid van destyds laat vervaag.

Die Krugerdorpse boikie het ons trots gemaak in ’n tyd waar daar nie veel is vir Suid-Afrikaners om op trots te wees nie.

Ons hoop dis die eerste van vele brul-jante vertonings.

Meer oor:  Brad Binder  |  Covid-19  |  Skuimkop  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.