Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Brouteas’ speel breier aan die slaap
Die Proteas slyp verbete aan hul “krieketvaardighede” gedurende die toer op die subkontinent. Foto: Getty Images

Genadiglik is die Slagting op die Subkontinent nou iets van die verlede. Lanklaas was daar so ’n skaamtelose geploeter deur ons nasionale krieketspan.

As ons eerlik moet wees met mekaar, het die krake reeds gedurende die vrotsige Wêreldbeker-veldtog begin wys. Maar Skuimkop, die ewige optimis wanneer ons nasionale spanne betrokke is, het geglo ons kan die skip in Indië weer op koers kry.

Toe nie.

Kyk, dis een ding om te verloor as jy ten minste met hand en tand baklei het. As jy diep gedelf het met die rug teen die muur, iewers selfs ’n houtjie of twee ingekry het.

Maar enkele hoogtepunte wat ’n mens hoop gee, was egter nêrens in Protea-geledere te bespeur nie.

Soos lammers ter slagting het Faf du Plessis en sy bende Brouteas na hul onafwendbare ondergang aangedrentel. Nie een het omgespring en gesê: “Boys, so gaan hulle ons nie boelie nie, ons kan dit nie toelaat nie!”

Ironies genoeg wys ons nou vingers na die samestelling van die span. Ons noem name van spelers wat (nog) nie op internasionale vlak hoort nie, ons skud kop oor ’n afrigter (of dan “spandirekteur”) wat kennelik nog nie opgewasse is vir die taak nie.

Dít, terwyl die wortel van die kwaad eintlik by Krieket Suid-Afrika lê. Die beheerliggaam wat soos ’n marionet deur ’n politieke poppemeester beheer word.

Dít, terwyl die wortel van die kwaad eintlik by Krieket Suid-Afrika lê. Die beheerliggaam wat soos ’n marionet deur ’n politieke poppemeester beheer word.

Waarom verlaat soveel topspelers Suid-Afrika om Kolpak-kontrakte oorsee aan te gaan? Ja, die koopkrag van die pond is ’n faktor.

Maar die vraag moet gevra word of van die spelers voel hulle het geen toekoms in die Suid-Afrikaanse krieketstelsel nie, ’n stelsel waar kwotavereistes al op skolevlak toegepas word, een wat aan die plaaslike franchises dikteer hoe spanne moet lyk.

Die kwotakwessie is natuurlik ’n tweesnydende swaard.

Aan die een kant vervreem dit spelers, wat dan elders hul heil soek. Aan die ander kant dwing dit franchises om onervare spelers te kies vir blootstelling op provinsiale vlak, net om aan die kwotavereistes te voldoen. Die ouens is dikwels uit hul diepte, te gou aan die diepkant.

* Dit verlaag die standaard van plaaslike krieket. En dít verstop mettertyd die talentstroom wat op nasionale vlak die Proteas moet laat blom.

So senutergend was die derde toets tussen die Proteas en Indië dat die tuisspan se afrigter, Ravi Shastri, dit nie kon waag om te kyk nie. Foto: Skermgreep: Twitter

Skrik wakker!

Skuimkop moes lag toe hy die foto sien van Indië se afrigter, Ravi Shastri, wat gedurende die derde toets in Ranchi in die spelerspaviljoen sit en slaap.

Daar is gerugte in die Indiese media dat Ravi ’n besonderse liefde vir enkelmout-whiskey het en dat hy soms ’n bietjie die roes afslaap ná ’n proesessie die vorige aand.

Feit van die saak is, as sy span enigsins in ’n benarde posisie was in enige van die drie toetse teen die Proteas, sou selfs Klaas Vakie met ’n bottel Glenmorangie en ’n sakkie ys onder die arm hom nie aan die slaap gekry het nie.

* Krieket Suid-Afrika moet wakker skrik. Die Proteas speel deesdae internasionale breiers aan die slaap.

Gaan hy? Ja, hy gaan skop. Die versugting van menige Springbok-ondersteuner as Faf de Klerk agter ’n skrum of losgemaal stelling inneem.Foto: Getty Images

Slag ’n draak

So… die Springbokke teen Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd volgende naweek? Dis waarvoor Skuimkop hoop.

Almal het na die kwarteindsege oor Japan ’n eiertjie te lê gehad oor Faf de Klerk se geprogrammeerde skoppies en Wankelmoedige Willie op heelagter.

Die twee begin Sondag weer teen Wallis. En Skuimkop dink dis reg so. Rassie Erasmus vertrou sy spelers en ons moet ook.

Soos oom Boy Louw destyds gesê het: “Looks at the scoreboard”.

Soos oom Boy Louw destyds gesê het: “Looks at the scoreboard”.

Vir Rasman om nou in die doodsnikke aan die wenspan te gaan torring, sou die vertroue geskaad het wat die span in sy “stelsel” het.

Faf moet net weer têkkel soos teen die Japannese. Dan kan hy maar skop. Willie moet net daai een hoë bal uit die lug pluk vir sy selfvertroue om te groei. Kom ons hoop dit gebeur Sondag.

Ook dat Cheslin Kolbe sal herstel om in die eindstryd kringe om die Engelse te systap op pad doellyn toe.

* Amper daar, Bokke. Die een hand is reeds op die Webb Ellis-trofee. Gryp hom nou en bring hom huis toe!

Meer oor:  Faf De Klerk  |  Ravi Shastri  |  Enoch Nkwe  |  Willie Le Roux  |  Suid-Afrika  |  Ksa  |  Springbokke  |  Proteas  |  Skuimkop  |  Wereldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.