Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Daar’s wysheid in die grysheid
Frans Steyn skiet die bal met verbluffende vaart en akkuraatheid uit na Ruan Pienaar. Net soos Ryuichi Nagayama (links) dit hier na Haruki Saito uitskiet. Foto: Facebook

Hoe oud is té oud vir rugby speel? Wel, ouderdom het dadels met die saak uit te waai. Dit gaan oor jou geestelike en fisieke toestand.

Soos ou Ryuichi Nagayama, byvoorbeeld. En “ou” word hier bloot in geselstrant gebruik, nie as ’n verwysing na die feit dat hy op 86 steeds slot vir die Foewakoe-rugbyklub in Japan speel nie.

Skuimkop het in sy middel-dertigs ’n terugkeer tot die rugbyveld gemaak ná hy laas op universiteit vir die koshuis se D-span agter die oond gedrink het.

Dit het heel gaaf begin met ’n paar oefeninge by ’n plaaslike klub in die noordelike voorstede en geduur tot die 47ste minuut van die eerste wedstryd van die seisoen.

Toe so ’n maergatflank van die teenstanders ’n flink breekslag steelkant om met ’n vlieënde têkkel gestuit het. Só afgryslik was die impak dat Pieter-Steph du Toit sweerlikwaar ’n bietjie in sy mond sou opgooi ten aanskoue daarvan.

Gekraakte rib. Einde van die seisoen. Einde van die terugkeer rugbyveld toe.

Skuimkop het laas sulke geestelike en fisieke pyn beleef toe ’n Lotto-kaartjie met vyf-wennommers in sy jeans se agtersak in die wasmasjien beland het.

Die afgelope maand of drie was daar elke dan en wan berigte oor die terugkeer van veterane na plaaslike beroepsrugbygeledere. Ook ’n hele klompie grappies wat daarmee gepaard gegaan het.

Soos dat plaaslike aandwedstryde in die Superreeks voortaan afgeskaf gaan word, anders gaan die spelers die ouetehuis se aandete om sesuur misloop.

Of die aantreklike bemarkingsgeleenthede wat dit vir potensiële borge soos Salusa45, Viagra en Zimmer-looprame kan bring.

Goed en gaaf, spot gerus. Maar dink vir ’n oomblik hoe die leemtes gevul gaan word wat sterre soos Malcolm Marx, Eben Etzebeth, RG Snyman, Duane Vermeulen, Faf de Klerk en Cheslin Kolbe op Supervlak laat.

Om na spelers soos Morné Steyn, Jannie en Bismarck du Plessis, Willem Alberts, Juandré Kruger, Ruan Pienaar as “oud” te verwys, is natuurlik onregverdig. Ofskoon in die skemer van hul beroepsloopbane, is die manne beslis nie oor die muur nie.

Trouens, nie net op die veld nie, maar ook in die tokkamer bring dié “grysheid” inderwaarheid wysheid. Gegewe ook dat ’n hele klompie Super- en Curriebeker-breiers nog relatief nat agter die ore is, kan die “veterane” hul kennis deel, raad gee, leiding neem waar nodig.

Soos ’n kollega tereg geskryf het: Jy kontrakteer nie net ’n speler nie, maar kry as’t ware ’n hulpafrigter by.

* Ja, SA rugby het houe gevat met ’n peloton sterre wat in Europa en die Ooste hul geld gaan verdien. Maar die ou honde ken al die toertjies in die boek. En aan ondervinding, weet ons goed, kan geen prysetiket gehang word nie.

Soe, die goed is wárm, man! Die Stormers-breier, John Dobson, dink vooruit aan sy span se vertoning in aanstaande jaar se Superrugbyreeks. Foto: Gallo Images

Smaaklike Stormers

Skuimkop het al dikwels gekruide taal gebruik as sy geliefde Stormers so tjommel. Soos ’n ou eenkeer droogweg opgemerk het: jy skree nie vir die Stormers nie, jy skree op hulle.

Hopelik sal dit die komende seisoen beter gaan. Noudat die WP Rugbyunie boonop ’n heel gepaste borgskap van Crown National, verskaffer van voedselgeurmiddels en speserye, gekry het.

Die handelsnaam Six Gun Grill, een van Crown se produkte, sal die seisoen op die Stormers-trui pryk. Dié spesery – ’n mengsel van onder meer seldery, uie en paprika – beloof “volop waarde en smaak in elke maaltyd”.

* En dis presies wat ondersteuners van die Kaapse franchise nodig het. Volop waarde en smaak in elke wedstryd.

Niemand stel belang in wie die Protea-span kies nie, want Krieket Suid-Afrika stel nie belang in wie die span kies nie (solank dit Thabang Moroe is). Dis blykbaar wat Thamie Mthembu, KSA-woordvoerder, te sê het. Foto: Gallo Images

Kan jy dit oorvertel!

In die stadium weet ons sake by Krieket Suid-Afrika is so deurmekaar soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smartie-boks.

Enoch Nkwe bly glo aan as (tussentydse) spandirekteur vir die Engelse toer, wat oor minder as ’n maand hier begin. Sy baas, die direkteur van krieket, is steeds ’n vakante pos.

So ook die kandidaat wat die keurkomitee vir die span moet lei (’n skynpos op sy beste, synde Thabang Moroe as KSA-baas in elk geval die finale sê oor die samestelling van die Protea-groep het).

’n Mens sou hoop dat die beheerliggaam in die onseker tye sy woorde mooi sal kies as hy in die media oor al dié eierdanse uitgevra word.

Toe nie.

Op ’n vraag wie die tussentydse keurkomitee gaan wees, antwoord Thamie Mthembu, KSA-woordvoerder, nou die dag: “Ek weet nie van één leser wat daarin sal belangstel om te weet wie die Suid-Afrikaanse span kies nie”.

Nie hoe hy jou reeds wankelrige beeld daar buite gaan versterk nie, KSA.

* Thamie het kennelik nie klasse vir Openbare Betrekkinge 101 bygewoon nie. Dit wys nogmaals KSA gee nie ’n moersleutel om oor wat die ondersteuners van sy bedenklike doen en late dink nie.

Meer oor:  Ksa  |  Stormers  |  Skuimkop  |  Enoch Nkwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.