Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dalk was Akker, Schalk lus vir ou knertsie

Ná die tyd, in die kleedkamer, het die Bulle se Schalk Brits en die Haaie se Akker van der Merwe saam ’n koue geniet, soos rugbymakkers betaam.

Vuisgeveg? Watter vuisgeveg? Botter kan nie in Akker van der Merwe en Schalk Brits se mond smelt nie. Foto: Twitter

Kort nadat hulle mekaar in laas naweek se Superrugby-wedstryd in Durban op die veld te lyf gegaan het.

Vir die lompe “vuisgeveg” (Schalk se linkerhaakhoutjie, Akker se twee regters) is albei geskors. Die Bul vir vyf weke (vorige, oortredings het teen hom getel) en die Haai vir drie (’n skoon rekord het sy bas gered).

In die hitte van die stryd gebeur dié tipe onooglikheid ongelukkig op ’n rugbyveld. Maar as beroepspelers moes die twee van beter geweet het. Op die keper beskou is rugby hul werk, net soos die van ’n rekenmeester, onderwyser, programmeerder, bouer, finansiële adviseur of wat ook al.

Almal beleef nou en dan ’n goor dag op kantoor. Ergenis oor daardie kollega wat heeltyd Faceboek en WhatsApp terwyl jy die werk doen, onredelike eise van die baas, die telefoon wat lui maar niemand antwoord nie, ’n knorrige kliënt wat jou slegsê.

Verloor kop in sulke situasies en die kans is goed dat jy jou werk kwyt kan wees.

Akker behoort in Rassie Erasmus se Wêreldbekergroep te wees. Skuimkop hoop so. Schalk het waarskynlik ’n buitekans om ook saam te gaan.

Gebeur dit, sal een of albei gewis deur teenstanders geteiken word vir “spesiale aandag”. Stewel op die skeen in die losgemaal, steelhoutjie in die skrum, vashou ná die duikslag, stamp en stoot voor ’n ingooi by die lynstaan. Net sodat die bloed begin borrel.

* As die humeure in ’n plaaslike derby oorkook, verbeel jou hoe warm die vuur in ’n Wêreldbeker-kragmeting onder die twee se potte gestook gaan word. Dit kan die Bokke duur te staan kom.

Gepraat van hakerskandes

Sover nie ’n goeie jaar vir die Haaie se nommer 2’s nie.

Chiliboy Ralepelle se B-monster toets toe ook positief vir ’n verbode middel en nou is hy in tamatiestraat. Wat in die onderhawige geval ’n doodloopstraat is.

Hy het 21 dae om teen dié bevinding te appelleer of om skuld te beken en sy pak te vat. In albei gevalle staar ’n skorsing van tussen twee en vier jaar hom in die gesig.

Op 11 September word hy 33. Skuimkop voorspel ons sal hom na dese nie weer in ’n beroepstrui sien opdraf nie.

* Tragies. Die Springbok sal nie vir sy 25 toetse en meer as 100 Superrugby-wedstryde onthou word nie. Eerder vir die opkikkerding, wat hom soos ’n skaduwee sal volg.

Kwota-schmota

Ottis Gibson, nasionale krieketafrigter, is seker verlig (en effens bekommerd ook) ná sy werkgewer, Krieket Suid-Afrika, se aankondiging dat daar geen kwotavereistes vir die samestelling van die Proteas se Wêreldbekergroep is nie.

Daar is geen (kwota)teikens nie. Ons wil hê die beste 15 spelers moet gekies word sodat ons die toernooi kan wen, sê Thabang Moroe, KSA se grootbaas.

Kort daarna het die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) Moroe in ’n verklaring geloof vir sy brawe aankondiging.

Ons moet daarna streef om sover moontlik toe te sien dat almal wat ’n sport wil beoefen en daarin wil uitstyg, die geleentheid kry om dit te doen, eerder as om te fokus op die rassesamestelling van ons nasionale sportspanne, lui die verklaring.

Skuimkop is verheug dat die kwota-olifant in die komiteekamer aangekeer is twee maande voor die skouspel begin.

Die bal is nou in Gibson, Faf du Plessis, Protea-kaptein, en Linda Zonbdo, sameroeper van die keurkomitee, se baan om op die samestelling van die WB-groep te besluit.

Geen druk nie, ouens. Die beste spelers kies immers hulself.

* Maar weet dit sommer nou al: as die Proteas nie minstens die uitklopfase in Engeland haal nie, sal die politieke opportuniste hul messe slyp, sal raskaarte soos troewe uitgespeel word.

Die bus is vol! Die Superrugby-veteraan Beast Mtawarira loods een van sy kenmerkende stormlopies. Foto: Gallo Images

Mylpaal-allamapstieks!

Skuimkop lig die hoed vir Tendai (Beast) Mtawarira wat Vrydag in sy 157ste Superrugby-wedstryd uitgedraf het, die meeste deur ’n Suid-Afrikaanse speler.

Die ou grote het Adriaan Strauss se rekord verbeter.

Die gebore Zimbabwiër is ’n getroue dienaar van rugby in Suid-Afrika, ’n ware ambassadeur vir die spel. Boonop is hy een van die aangenaamste ouens in wêreldrugby, op en van die veld af.

* Mag ons nog vir lank “Beaaaaaaaast!” in die pawiljoene en sitkamers landwyd hoor dreun as die veteraan die bal onder die arm druk en storm.

Meer oor:  Schalk Brits  |  Akker Van Der Merwe  |  Kwotas  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.