Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dankie Kersvader vir vroeë geskenk

Is ons geseënd hierdie Kersfees, met dié dat daar die afgelope week of twee so ietwat van ’n paleisrevolusie in die geledere van Krieket Suid-Afrika was?

Dis mos waarvoor ons heimlik gewens het, nie waar nie? Só ’n Kersgeskenk.

Met Mark Boucher (middel) en Jacques Kallis (regs) nou daar om Faf du Plessis en die Proteas te help, het Skuimkop darem weer bietjie hoop vir die toekoms van ons krieket. Foto: Gallo Images

“Liewe, krieketliefhebbende Kersvader, ons was goeie, getroue ondersteuners van die Proteas die jaar. Dit was nie maklik nie. Trouens, dit was óngemaklik. Soos jy seker weet.

“Daar was die Wêreldbeker-toernooi in Engeland. Daar was die toer in Indië. Daar was Thabang. Liewe vader, daar was Thabang!

“So groot asseblief, met ’n reguit kolf en saam met die draai van die bal, kan ons asseblief net beheer kry waar beheer tans so nodig is soos ’n hondertal in die nasionale span se top-orde. Met groot ootmoed, Protea-ondersteuners.”

Min of meer die brief wat Skuimkop namens liefhebbers van die spel landwyd aan die fiktiewe omie met die boepens en wit baard in die Noordpool sou stuur.

Nie veel volwassenes in voeling met die werklikheid glo natuurlik meer aan Kersvader nie. Maar… máár… kyk waar is ons nou!

Nie net in die raadsaal nie, maar ook daar waar die leerbal en die wilgerlat mekaar die stryd aansê, die éintlike plek van belang vir die gemiddelde liefhebber van krieket, is daar nou verandering.

So, in die gees van die feesseisoen, dankie Kersvader.

En natuurlik ook dankie aan Tony Irish en die SA Krieketspelersvereniging (Saca), wat in die voorste loopgrawe geveg het (en stééds veg) vir die belange van daardie talentvolles wat toeskouers by ovaalvelde plaaslik en oor die wêreld heen vermaak.

’n Laaste danksegging aan Standard Bank en Momentum, wat die revolusie teen die skynbaar onafwendbare ondergang van krieket in Suid-Afrika geloods het deur te slaan waar dit séér maak.

Skuimkop is Kersvader dank verskuldig vir sy “krieketgeskenk”. Foto: Gallo Images

Seerder as ’n aflewering van Jofra Archer, wat van ’n goeie lengte af opwip, handskoen en kolf se binnerand mis en met ’n dowwe plof daardie sensitiewe area tussen die bene . . . wel, julle kry die idee.

In praktiese terme het dié borge bloot gesê die wanbestuur van krieket dwing hulle om, onderskeidelik, toekomstige finansiële beleggings in die spel te staak/te heroorweeg, afhangende van sekere voorwaardes.

Ons is nie uit die gevaarwater nie. Daar is nóg rotte aan boord van die SAS Krieket Suid-Afrika.

Hulle wat saam aan die graansakke geknaag het tot al die korrels verorber was en tóé aan die skip se ruim tot die water begin deursypel het. Die tyd sal leer hoe lank dié knaagdiere nog neus bo water kan hou.

Ten minste kan die herstelproses nou begin.

Van Donderdag af speel die Proteas teen Engeland in die eerste toets op SuperSportpark in Centurion. Met Mark Boucher as afrigter, Charl Langeveldt as boulbreier, Jacques Kallis as kolfkonsultant en Graeme Smith, wat as nuwe direkteur van krieket waarskynlik op dié aanstellings aangedring het.

Nogal ’n lotjie wat gesag afdwing. Oudspelers wat ’n nuwe span kan aanspoor. Ouens wat nie hou van verloor nie.

* Skuimkop voel vir die eerste keer in maande versigtig-optimisties oor Protea-krieket. Is daar dalk ’n twééde geskenk in die Kerskous?

Vlekkeloos

Daar was ’n hele paar Snedige Sarels en Bitsige Betties op sosiale mediaplatforms wat Robbie Fleck, voormalige Stormers-afrigter, se eerbetoon vandeesweek aan Suid-Afrika se rugbybase as kansvatterig besk(r)ou het.

Fleck het gesê Rassie Erasmus verdien volle eer vir die Wêreldbeker-glorie wat hy as afrigter van die Springbokke in Japan behaal het.

Maar die ondersteuning wat die breier van sy werkgewer gekry het, verdien erkenning. Want dit het sy taak vergemaklik.

Skuimkop stem saam.

Die SA Rugbyunie het nie Rassie se (wisselvallige) vertoningslys as Bok-breier in 2018 in ag geneem nie. Geen kwotavereistes is in aanloop tot die skouspel in Japan aan hom gestel nie. Hy kon Bokke kies wat klubrugby oorsee speel, sou hy wou.

Dis te danke aan SA Rugby se Jurie Roux (uitvoerende hoof) en Mark Alexander (president) dat dié “vryheid” aan die nasionale afrigter toegestaan is.

Bietjie onregverdig, reken Skuimkop, om Fleck as ’n opportunis te beskou omdat hy die Bok-sukses ook aan die goedgunstige rugbybase toegeskryf het.

Sonder die base se ondersteuning was Rassie se pad (soos dikwels die geval met sy voorgangers was) met duwweltjies besaai. Met hul ondersteuning is sy pad vorentoe nou met dubbeltjies besaai!

* Maar dit sál nogal ironies wees as Fleckie uit die bloute ’n pos iewers in Saru-geledere losslaan. Hy kon nogal op sy dag ’n gaping slaan. Het hy weer een gewaar?

Geheueverlies

Skuimkop lees vandeesweek die Engelse stut Kyle Sinckler sê hy kan niks onthou van die Wêreldbeker-eindstryd teen die Bokke nie.

* Kyle kan homself gelukkig ag, want sy spanmaats, wat deurgaans by hul volle bewussyn was in dié wedstryd, wens heimlik hulle kon daarvan vergeet.

Uitskeityd

Skuimkop wil graag die geleentheid gebruik om lesers ’n geseënde Kersfees toe te wens.

Daar word soms goedjies hier kwytgeraak wat een of twee van julle so ’n bietjie omkrap of ontstel en daarvoor vra “Skuimbrein” om verskoning.

* Hoop die feestyd bring vir almal rus en rustigheid, vreugde en voorspoed. Ook aan die sportfront.

Meer oor:  Krieket  |  Skuimkop  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.