Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Die gróót Caster-ironie
Ondersteuning uit Suid-Afrikaanse geledere sal daar altyd vir Caster Semenya wees, ongeag die doemprofete wat haar loopbaan wil beëindig.Foto: Getty Images

Hoe ironies, nè? Die beheerliggaam wat verbete veg teen atlete wat middels gebruik om béter te vertoon, dwing nou atlete om middels te neem sodat hulle swákker vertoon.

Want dis waaroor die hele Caster Semenya-sage gaan, nie waar nie?

Suid-Afrika se Olimpiese 800 m-kampioen is gebore met natuurlik hoë testosteroonvlakke. Dit gee haar, volgens die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) – beheerliggaam en kampvegter vir opkikkervrye sport – ’n onregverdige voordeel oor haar teenstanders.

Sy het haar saak by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) téén die regulering van testosteroonvlakke in sekere baannommers bepleit – en verloor.

Van Woensdag af moet Caster, en alle vroueatlete met natuurlik hoë testosteroonvlakke, middels begin neem om dié vlakke te verlaag, as hulle steeds in die wêreldarena wil deelneem. Niemand is seker wat die newe-effekte van dié medikasie op Semenya en kie gaan wees nie.

Een ding weet Skuimkop: Dis beslis nie regverdig nie. Die atleet word gestraf vir iets waaroor sy géén beheer gehad het nie.

Dis beslis nie regverdig nie. Die atleet word gestraf vir iets waaroor sy géén beheer gehad het nie.

In die sportarena gaan deelnemers nooit almal op gelyke voet aantree nie. Ongeag hoe goed jy voorberei, oefen en strategies beplan. Dit is die kern van sport, daardie element van mededinging. Dit is immers hoekom ondersteuners sport volg.

Op elite-vlak is sommige atlete van nature groter en sterker as ander grotes en sterkes. Sommige is bloot vinniger, ratser, soepeler. En so word die kampioene uiteindelik bepaal.

Nou wil dit voorkom asof die IAAF met sy absurde beslissing atlete soos Caster teiken om die “speelveld meer gelyk te maak”.

Hoekom? vra Skuimkop. Dis nie asof sy middels geneem het om haar testosteroonvlakke te verhoog in ’n poging om haar teenstanders te klop nie.

Selfs kenners is dit nie eens oor presies watter voordeel hoër testosteroonvlakke vroueatlete bied nie.

“Vroue kan eenvoudig nie die volle potensiaal van dié hormoon so intens soos mans benut nie,” skryf Daniel Kelly, lektor in biochemie aan die Sheffield Hallam Universiteit in Engeland, in ’n rubriek op die meningsblad theconversation.com.

Om die ware voordeel vir vroue te bepaal, sal intense navorsing verg. Nie ’n lukrake bepaling deur ’n beheerliggaam wat op die oog af glad nie die etiese en morele aspekte van sy besluit in berekening gebring het nie.

Hou ook in gedagte wat dit van ’n atleet verg om teen die wêreld se bestes deel te neem. Om bo uit te kom het jy meer as ’n genetiese voordeel nodig.

Caster se strewe om die beste te wees was nog altyd bo verdenking. Sy het harder gewerk as haar teenstanders om haar talent te ontwikkel.

Sy het nie toegelaat dat al die negatiewe publisiteit oor die jare haar aftakel nie. Haar toewyding op die oefenbaan en haar strategie in wedlope weeg sekerlik swaarder as die feit dat sy “anders” gebore is.

Soos Joel Maxcy, hoof van die departement van sportbestuur aan die Drexel-Universiteit in Philadelphia, dit luidens ’n berig op news.com.au gestel het: “Om Olimpiese goud in die 800 te wen, verg veel meer as Semenya se hoër testosteroonvlakke.”

* Skuimkop wonder nou, bloot terloops, of daar so ’n groot bohaai oor die kwessie sou wees as die atleet ter sprake ’n leliewit Amerikaner was.

Joey Mongalo, die Leeus se verdedingsbreier, gaan sy werk by die Leeus hervat, al het ’n hof in Australië hom skuldig bevind aan onsedelike aanranding. Foto: Gallo Images

Meer brul as byt

Skuimkop glo nie Rudolf Straeuli en die Leeus se Rugbyunie het al van die #MeToo-veldtog gehoor nie.

Dis nou daardie wêreldwye beweging, hoofsaaklik op sosiale media, waar mense – meestal bekendes – hulself teen seksuele teistering en aanranding uitspreek.

Die afleiding kan gemaak word nadat die unie basies sy verdedigingsbreier, Joey Mongalo, liggies op die vingers geraps het vir juis so ’n oortreding.

Mongalo is verlede maand in Sydney deur ’n hof skuldig bevind aan onsedelike aanranding van ’n vroulike werknemer in die hotel in Coogee waar die span in 2018 tuisgegaan het. Hy appelleer die bevinding nou in sy privaat hoedanigheid.

Sy dienstermyn gaan egter nie beëindig word nie. Trouens, hy sal sy verpligtinge by die unie Maandag hervat.

Vandeesweek kom die nuus dat die Leeus ná ’n interne dissiplinêre ondersoek bevind het dat hy wél die unie se naam oneer aangedoen het. Sy dienstermyn gaan egter nie beëindig word nie. Trouens, hy sal sy verpligtinge by die unie Maandag hervat.

Die Leeus gaan wel voort met die straf wat ’n onafhanklike arbeidskonsultant aanbeveel het: korrektiewe dissiplinêre aksie en verpligte etiese en professionele bestuursopleiding. ’n Raps op die vingers, met ander woorde.

* Dalk, hoop ondersteuners, bepaal die “straf” dat Mongale ook nou gedwing word om heropleiding te ontvang oor hoe om die spelers te leer laagvat, synde dié span met van die powerste verdedingstatistieke in die Superreeks opgeskeep sit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.