Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Die muis moet Saskok nou laat bewe
Aleck Skhosana, eens Saskok se waarnemende eerste visepresident. Nou die waarnemende president. In die plek van die vorige waarnemende president, wat tans ondersoek word. Iets is mos nie reg in Saskok nie, of hoe? Foto: Gallo Images

’n Mens kan net hoop die berg het nie ’n muis gebaar nie. En indien wel, dat dit ’n muis met leeuemoed is, nes die digter Horatius toenterjare gelede in ’n fabel geskryf het.

Want leeuemoed vir ’n groot geveg is nou skynbaar die enigste uitweg vir plaaslike sportfederasies om die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) tot ander insigte te bring.

Horatius vertel dat die Egiptenare daai tyd, in hul langdurige oorlog teen die Perse, die hulp van die Spartane ingeroep het.

Die Spartane, onder aanvoering van hul koning, Agesilaos, het ingestem, maar toe hy en sy weermag opdaag, het die Egiptenare hom uitgelag.

Sien, Agesilaos was ’n klein mannetjie, half kreupel ook nog. Iemand wat beswaarlik vrees inboesem.

“Die berg het geskud, Jupiter het verskrik eenkant toe gestaan, maar ’n muis het uitgehardloop,” het die Egiptenare gesê.

Waarop die koning toe antwoord: “Noem my maar ’n muis, ek sal julle wys ek veg soos ’n leeu.”

Sien, Agesilaos was ’n klein mannetjie, half kreupel ook nog. Iemand wat beswaarlik vrees inboesem.

Dié geskiedenisles het nou betrekking op plaaslike sportfederasies wat so keelvol vir die wanadministrasie en geploeter binne Saskok-geledere is dat hulle ’n mosie van wantroue teen dié liggaam se raad van stapel wil stuur. Hulle het ’n spesiale vergadering met die raad aangevra en dié mosie sou op die agenda wees.

Saskok het intussen laat weet hy gaan nie tot die vergadering instem nie. Uit die aard van die saak.

Die raad sal wel ’n spesiale vergadering hou, met sy eie agenda eerder as die agenda waarop die federasies aandring.

Skuimkop kan jou nou al for free sê dat dié vergadering (waarna federasies vroeër uitgenooi is), dadels gaan oplewer. Die status quo gaan gehandhaaf word. Die chaos duur voort.

Dis nou die tyd vir federasies om hul voet dwars te sit. Die muis moet wys hy kan soos ’n leeu baklei.

Saskok behoort te besef as ’n mosie van wantroue teen sy raad dreig, het hy nie meer die oor van die federasies het nie.

Dis nou die tyd vir federasies om hul voet dwars te sit. Die muis moet wys hy kan soos ’n leeu baklei.

Soos Kim Pople, Kanovaart Suid-Afrika se president, dit vandeesweek gestel het: “Daar is te veel binnegevegte en te veel onsekerheid (binne Saskok-geledere).”

Die negatiwiteit wat Saskok soos ’n slegte reuk aan ’n skoensool volg, veroorsaak wantroue onder borge – maatskappye wat hul finansiële steun aan sportliggame wil gee, maar gegewe omstandighede versigtig is om dit te doen.

Hoe absurd is dit nie: Saskok het tans ’n waarnemende uitvoerende hoof, ’n waarnemende finansiële hoof en ’n waarnemende hoëprestasiebestuurder.

Op die raad is die waarnemende eerste visepresident nou die waarnemende president, in die plek van die vorige waarnemende president, wat ondersoek word. Die raad is ook nie voltallig nie en ’n klomp van die lede is gekoöpteer, eerder as verkies.

Soos Pople dit stel: “Federasies moet besef net ons kan die nodige veranderinge (binne die Saskok-struktuur) afdwing. Ons het daardie mag, ons moet dit gebruik.”

* Dis tyd vir die federasiemuis om soos ’n leeu te brul. Laat Saskok se broek bewe.

Lasarus van Pretoria

‘Hallo . . . is dit jy Jake? Ja, ek het gewag vir jou oproep.’ Nollis Marais en Jake White was gedurig in gesprek met mekaar. Foto: Gallo Images

Om by die tema van fabels en stories te hou: Nollis Marais se terugkeer na die Bulle se senior geledere is seker vergelykbaar met Lasarus van Bethanië se opstanding uit die dood.

Jake White, die Blou Bulle Maatskappy se direkteur van rugby en van aanstaande seisoen af ook die Bulle se hoofafrigter, het Marais daar in die diep, donker en verlate gange van Loftus gaan haal, afgestof en by sy afrigtingspan betrek.

’n Verrassende skuif, gegewe die skop in die kroonjuwele wat Marais in 2017 gekry het toe hy halfpad deur die Curriebeker-reeks die trekpas gegee is om plek vir John Mitchell, daai glibberige kaalkop-Kiwi, te maak.

Nou is hy nie meer ’n agterbanker nie. Hy is Jake se regterhand: sy afbreekpuntspesialis en boonop ook rugbykoördineerder. Ofskoon hy erken hy is self nie seker wat dit als behels nie.

Van senior wat Bulle met Bokke in hul geledere afgerig het, na breier van melkbaarde in die Bulle se o.19-span. Dit was Marais se voorland.

As getroue dienaar van die BBM het sy melk nie (in die openbaar) suur geraak nie. Hy het sy fokus na die jongelinge verskuif en verlede jaar die nasionale o.19- en o.21-titels vir die Bulle help verower.

Nou is hy nie meer ’n agterbanker nie. Hy is Jake se regterhand: sy afbreekpuntspesialis en boonop ook rugbykoördineerder. Ofskoon hy erken hy is self nie seker wat dit als behels nie.

Welkom terug, Nollis, wil Skuimkop sê. Maar ook knap gedaan, Jake. Jy het ’n ou met talent raakgesien en hom by jou planne betrek.

* Sodoende het jy ook ’n pit gedruk vir die alwetendes in die raadsaal wat destyds nie geskroom het om een van hul eie soos ’n brandsiek hond na die buitewyke te verdoem nie.

Meer oor:  Nollis Marais  |  Aleck Skhosana  |  Bulle  |  Saskok  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.