Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Dink voor jou duime praat
Kom ek neem ’n foto, dan plaas ek dit later op my Twitt . . . of, nee wag, ek het my profiel uitgewis. Pablo Matera toe hy nou die dag nog ’n held was. Foto: Getty Images

Wat, wonder ’n mens onwillekeurig, sou gebeur het as die Argentynse rugbyspan voor laas naweek se Drienasies-toets teen die All Blacks ’n meer gepaste huldeblyk aan die ontslape sokkerlegende Diego Maradona gebring het?

Maradona is verlede week skielik op die ouderdom van 60 aan ’n hartaanval dood.

Sy afsterwe is wêreldwyd betreur, maar in sy geboorteland was dit ’n tragedie wat die regering genoop het om drie dae van rou aan te kondig.

Op die sokkerveld, meen kenners, had hy in sy speeldae nie sy gelyke nie. Die beste speler nóg om die beautiful game te speel, is die algemene gevoel.

Weg van die veld, was hy ’n vurige ondersteuner van als wat met Argentynse sport te make het. Veral van die Los Pumas, die nasionale rugbyspan.

Hoekom op dees aarde die span nie voor die toets laas naweek ’n Argentynse sokkertrui met die kenmerkende nr. 10 op die rug op die veld neergelê het nie, hoekom die spelers nie in gelid ’n 10 (of ’n M) op die veld uitgespel het nie, weet nugter.

Die swart kleefband om die arms was nie goed genoeg nie. En dis boonop erg in die skadu gestel deur die All Blacks se roerende huldeblyk.

Die gevolg was ’n wêreldwye skokonthulling. Iewers het iemand stokou Twitter-boodskappe van die Poema-kaptein, Pablo Matera, in die hande gekry en die wêreld ingestuur. Dié het ’n onverdunde rassistiese en xenofobiese strekking gehad.

Matera, die groot held ná die span se oorwinning oor die All Blacks op 14 November, was skielik die boef in die verhaal. Hy en sy spanmaats Guido Petti en Santiago Socino is geskors weens neerhalende uitlatings teenoor swart mense en diegene van Suid-Amerikaanse lande, wat tussen 2011 en 2013 gemaak is.

Nou wonder Skuimkop: Wat sou van die twiets geword het as Matera-hulle bloot groter gewag gemaak het van ’n afskeidsgebaar vir Maradona?

Want, reken dié wat weet, dis juis hul halfgebakte huldeblyk wat mense ontstel het, mense wat gaan vroetel en krap het totdat daar iets gevind is om die kaptein en sy span te saboteer.

Die groter vraag is egter: Hoe het niemand (in die geledere van die Argentynse Rugbyunie, byvoorbeeld) voor dié gewraakte onthulling gewéét van Matera en kie se skandelike twiets nie?

Ja, toegegee, Matera was toe nog nie ’n Poema nie, maar hy het in verteenwoordigende Argentynse spanne gespeel (onder meer die Pampas-vyftiental wat in Suid-Afrika in aksie was).

Skuimkop wonder hoe sulke uitlatings ongesiens verby kon gaan. Of hét die ARU dalk geweet van daai twiets, maar gehoop dit bly ’n geheim omdat dit so lank gelede geskryf is?

Hoe dit ook al sy, nog ’n bewys hoe die sondes van jou verlede jou iewers inhaal as jy dit die minste verwag.

Raad om ter harte te neem, dus. Jou voetspoor op sosiale media word nie maklik uitgewis nie. Dink mooi voordat jou duime die duiwelswerk doen.

Zelt Marais, president van die WPRU, kan weens die masker oor die mond tans niks sê oor die Flyt-ooreenkoms nie. Foto: Gallo Images

Zelt en die geld

Dis die voormalige Springbok en Westelike Provinsie-legende Rob Louw wat nou die dag gesê het die Kaapse rugbyfranchise verloor nog voordat hy opdraf. Die span word in die raadsaal geklop.

Hy het natuurlik ’n sensitiewe senuwee raakgeboor.

Dis gebeur selde dat jou werkerskorps gemotiveer bly as jou bestuurskorps skynbaar koersloos voortploeter.

Soos die seningtaaie flank met die kenmerkende kopband tereg opgemerk het: Spelers weet wat in die raadsaal aangaan. Die dae wat die ouens oë toeknyp en speel, is verby. Die spelers soek sekerheid oor hul toekoms en totdat dit gebeur, gaan die span aanhou sukkel.

Die WP Rugbyunie help in die stadium nie die spelers se saak nie.

Vandeesweek kom die nuus dat hy dit oorweeg om nie sy eiendomstransaksies by Brookside en Nuweland, soos kontraktueel met Flyt Property Investment ooreengekom is, deur te voer nie.

Flyt waarsku as dit gebeur, sal die WPRU aanspreeklik wees vir al die skade wat uit die kontrakbreuk voortspruit.

Die unie se president, Zelt Marais, was die dryfveer agter die ooreenkoms met Flyt. En nou wil dit voorkom of die “deal of the century”, soos hy daarna verwys het, op groot onkoste vir die unie gaan uitloop en niks anders nie.

Die unie het skuld aangegaan om sy skuld te delg, hy het sy eiendomme as sekuriteit op die spel geplaas om die ontwikkelingsooreenkoms van stapel te stuur. Dit hang nou soos ’n vlymskerp skavot bo die WP se nek.

Intussen moet John Dobson met ’n dapper glimlag op sy bakkies verduidelik waarom sy span in die Superrugby Unlocked-reeks en nou ook in die Curriebeker-kompetisie nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Ja, ons het al die verskonings gehoor en van hulle dra water (beserings, swak besluitneming op kritieke tye, jong, onervare spelers in sleutelposisies, ensovoorts).

Miskien moet Dobson ’n slag die blaam skuif na die raadsaal. Iets soos: “Dit sal die spelers se gemoed so ’n bietjie lig as die leiers wat die besluite moet neem, nie so besluiteloos is nie. Ons is nie aldag seker wat môre vir die unie inhou nie.”

Of miskien, as hy meer direk wil wees, kan hy die aanhaling van die legendariese rockmusikant Lou Reed op sy briljante album New York inspan met verwysing na die WPRU-bestuur.

“Stick a fork in their ass and turn’m over, they’re done.”

Meer oor:  Argentinië  |  Maradona  |  Westelike Provinsie Rugbyunie  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Pablo Matera  |  Poemas  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.