Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Div soek warm gloed van kollig
Moet jou nie laat mislei deur die vriendelike glimlag onder die snor nie. Peter de Villiers maak gereed om die Springbok te wurg. Foto: Gallo Images

Al die wilde stellings wat die man al ooit in sy loopbaan as rugbybreier kwytgeraak het – ’n legio van hulle – kan ’n mens hom vergewe.

Maar iewers moet die streep getrek word.

As ’n voormalige Springbok-afrigter is Peter de Villiers se uitspraak vandeesweek dat hy nie die Springbokke gedurende die Wêreldbeker-toernooi in Japan gaan ondersteun nie, uiters teleurstellend.

Nes Luke Watson, wat destyds op die Springbok-trui wou opgooi, vervul De Villiers se stelling Skuimkop met afgryse.

De Villiers het tot dié besluit gekom omdat die Bok-slot Eben Etzebeth saam met die span Japan toe is. Etzebeth het hom kort voor die span se vertrek midde-in ’n rasseherrie bevind.

Klagtes van aanranding en rassistiese taalgebruik word intussen teen hom ondersoek. Maar hy is met die seën van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie hier weg.

Die oud-breier sê hy is verstom dat iemand soos Etzebeth, wat nie die “vaagste benul het van die pyn wat apartheid veroorsaak het, sulke goed kon kwytraak”.

Hy gaan verder en sê dis teleurstellend dat “swart administrateurs” soos Mark Alexander (Saru-president) en Francois Davids (adjunk-president) nie die “regte ding gedoen het” en die speler geskors het totdat hy sy onskuld kan bewys nie.

Daarom is dit vir De Villiers ’n beginselsaak. “Ek kan nie die span onder sulke omstandighede ondersteun nie.”

Nou ja, ons hoef ons seker nie te verknies oor wat hy gesê het nie.

Maar iets pla tog.

Dit voel vir Skuimkop asof hy met die enkele stelling die Springbok-familie, van wie hy ’n sentrale lid was, versaak het.

Hy het die groter prentjie van rugby op nasionale vlak – eenheid, samehorigheid, patriotisme, nasietrots – verloën. En dit als deur aannames te maak, gerugte te glo, ’n speler te teiken en hom summier skuldig te bevind.

As voormalige Bok-afrigter draai hy nou sy rug op ’n span saam met wie hy roem en rykdom ervaar het. Dis hartseer.

Hierdie was nie bloot ’n vreemde “Peterisme” waarvoor hy destyds bekendheid verwerf het nie.

* Dit was ’n politiek gelaaide stelling, ’n lae hou in die losskrum deur ’n desperate man, wat weer die warm gloed van die kollig op hom soek.

’n Mens kry nie eens soveel sespakke in Liquor City nie. Die Springbokke bult hul spiere. Maar is daar ook soveel staal tussen die ore? Die tyd sal leer. Foto: Twitter | @Springboks

Waar sit die spiere?

Dit het behoorlik gegons toe daar nou die dag op Twitter ’n foto van die Springbokke verskyn waar die ouens ná ’n gimnasiumsessie kaalbolyf met hul bultende spiere spog.

Skuimkop het laas soveel sespakke gesien toe hy saam met ’n paar pelle langs die Weskus gaan “visvang” het.

Die koelsakke het gekreun. Daar is toe nooit vis geëet nie. Trouens, net drie van die sewestuks op dié langnaweek-ekspedisie het visstokke saamgebring.

Dit tersyde.

Die kollektiewe hoop is dat daar volgende Saterdag in Japan ewe veel breinkrag as spierkrag gewys gaan word wanneer die Bokke die All Blacks in hul openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi takel.

* Met die twee spanne wat so goed fisiek opweeg, gaan die “mossels tussen die ore” straks die bepalende fakor wees.

Só lyk morsig

Lees nou die dag die wêreldberoemde Cirque de Soleil gaan op 10 Oktober ’n spesiale vertoning in Barcelona ter ere van die sokkerster Lionel Messi aanbied.

Dit heet Messi10 en gaan die Argentynse doelskieter se lewensreis van Rosario in sy tuisland na die kruin van die sokkerwêreld as tema hê.

Die vertoning beloof om ’n “euforiese 90 minute te wees waarin asemrowende fisieke vertonings met ondenkbaar mooi poësie gekombineer word”. Soos Messi se spel vir Barcelona in die Camp Nou, met ander woorde.

* Skuimkop het egter nuus vir die Cirque de Soleil. Julle is agter die klip, mense. Kom kyk maar na Bafana Bafana se onlangse vertonings. Dis élke keer ’n sirkus.

Sag rus, ou grote

Met groot hartseer groet ons vandeesweek nog ’n seëvierende Wêreldbeker-Springbok.

Chester Williams sal altyd as eersteklas-vleuel onthou word.

Maar vir Skuimkop was sy beste vaardighede nie sy spoed, hantering en afronding agter die gekalkte lyn nie, eerder sy persoonlikheid weg van die speelveld.

Chester se medemenslikheid, sy bereidwilligheid om met een en almal ’n geselsie aan te knoop en sy onwrikbare toewyding om tot voor sy ontydige dood die spel op alle vlakke te bevorder, sal soos ’n baken bly staan.

Hy het nooit dat die roem van Springbok-wees na sy kop toe gaan nie. Hy moes hard werk om op die hoogste vlak te speel, maar het nooit gekla oor politieke hekkies en kwota-etikette wat oor sy pad gekom het nie.

Dit het hom van ’n gerespekteerde held vir miljoene mense gemaak. ’n Ware inspirasie vir jong spelers, die toonbeeld van beskeidenheid tussen vele van sy tydgenote.

* Ons sal jou mis, Chessie. Dankie vir al die mooi herinneringe en die onbaatsugtige diens.

Meer oor:  Bokke  |  Chester Williams  |  Springbokke  |  Lionel Messi  |  Peter De Villiers  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.