Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Donderstormers en Cobras sonder gif

Heuglike nuus vandeesweek, toe die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) hom vir die volgende tien jaar tot die Sanzaar-alliansie – die Rugbykampioenskap, meer spesifiek – verbind het.

Die span om te klop. Altyd. Jy is net so goed soos jou laaste toets teen die All Blacks, lui ’n ou rugbywysheid. Foto: Getty Images

En nogmaals ’n sug van verligting dat die Springbokke nie vanjaar aan dié viernasies-reeks in die Suidelike Halfrond deelneem nie.

Want kom ons wees eerlik. Gegewe die All Blacks se vertonings in die laaste twee Bledisloebeker-toetse teen die Wallabies, was ’n gegorrel in die bioborrel sweerlikwaar die Bokke se voorland.

Die enigste werklike maatstaf vir jou vermoë as ’n rugbynasie bly toetsrugby teen die All Blacks.

Die Australiërs het vir twee toetse op ’n streep in ’n stomende Kiwi-kuttel getrap, want hulle het nie die grootste les in toetsrugby ter harte geneem nie.

Dié is eenvoudig.

As jy die All Blacks ’n oorwinning ontsê, hetsy met ’n rare skokoorwinning of ’n gelykop-uitslag, soos wat die Wallabies in die eerste ontmoeting in Wellington vermag het, tel jy jou seëninge en jy hou jou smoel.

Jy loop nie te koop daarmee nie. Jy verkondig nie aan die hele wêreld dat jy straks die resep gevind het om die magtigste toetsnasie te kortwiek nie.

Feit van die saak is, die Nieu-Seelanders lewer bitter selde twee swak toetsvertonings ná mekaar. Om met 16-16 gelykop te speel, was so goed soos ’n pak slae teen Australië. Maar toe praat almal van die krake in die Kiwi’s se mondering. Hoe hulle te grootkop is. Te voortvarend. Kwesbaar onder druk.

Die gevolg? ’n Oorwinning in Auckland (27-7) en verlede naweek se vernedering in Sydney (43-5).

Die enigste werklike maatstaf vir jou vermoë as ’n rugbynasie bly toetsrugby teen die All Blacks.

Skuimkop is verheug die Bokke gaan, ondanks ’n franchise-skuif na die noorde in 2021, steeds dié toets moet slaag om te wys hulle is opgewasse.

Dankie, donderstorm(ers)

Van opgewasse en Springbokke gepraat.

Daar is tans op twee, miskien drie kandidate na nie enige spelers in Stormers-geledere wie se name genoem sal word as die nasionale keurkomitee nou moes vergader om span te kies nie.

Die besoekers is steeds, figuurlik gesproke, hard gebliksem.

Was dit nie vir die Hoëveldse donderstorm verlede naweek in Pretoria nie, kon die “eindtelling” van 39-6 (ná 63 minute), in ’n veel groter verleentheid vir die Kapenaars ontaard het.

Die weerlig het sowat 7,5 km van Loftus af gedreig toe spel genadiglik gestaak is. Die besoekers is steeds, figuurlik gesproke, hard gebliksem.

Waar Jake White se Bulle aanvanklik soos slagbeeste voorgekom het met die aanvang van die Unlocked-reeks, is die trop nou met die horings dreigend omlaag, gereed om als in hul pad te gaffel.

Vir John Dobson en sy dooierige Donderstormers is daar ná dese geen ander opsie as oorwinnings meer beskikbaar nie.

Teen Griekwas beter die span sy eie storm ontketen. Anders wag ’n lang, droë seisoen op Kaapse rugbyondersteuners.

Slang sonder gif?

Verlede seisoen kon die Cape Cobras nie ’n enkele wedstryd in die plaaslike meerdag-krieketreeks wen nie.

Met ’n nuwe naamborg aan boord vir die span en sy tuisveld, Nuweland, was daar groot hoop dat dit dié seisoen beter sal gaan.

Toe nie.

Die Kaapse slang is skynbaar steeds sy gif kwyt en het in die eerste wedstryd teen die Titans basies ’n loesing uit die kake van ’n oorwinning gaan staan en bewerkstellig.

Nou wonder ’n mens hoe die span se nuwe borg, Six Gun Grill, ná dese voel?

Dié gewilde spesery sal seker dink die Cobras is nie hul sout werd nie.

Of dalk dat laas seisoen se ploeterende span en vanjaar s’n op die oog af dieselfde gebreke het – soos vinkel en koljander, die een is soos die ander.

Skuimkop wil nie nou al gekruide taal gebruik om die span te peper nie, maar in dié stadium wil dit voorkom of die Six Gun Grill Cape Cobras met blanks skiet.

Pypdroom

Li-e-e-e-efling, ons kan nie sonder jou verder skop nie! Derick Hougaard se skynbaar gesonde voet jeuk om weer te skop. Maar in die NFL in Amerika. Foto: Gallo Images

So die Liefling van Loftus se kop staan Amerika toe, op soek na ’n loopbaan as skopper in die National Football League (NFL).

Sjoe, op 37 is Derick Hougaard nie meer (in beroepsterme) vandag se kind nie.

Maar die voormalige held van die Bulle is jare ná sy uittrede weens beserings vasbeslote om sy sportloopbaan weer op koers te kry. Hy het nog vyf jaar in hom, sê die oud-Springbok.

Om als te kroon, moedig nog ’n voormalige Blou Bul- en Springbok-legende, Naas Botha, hom aan om die NFL-opsie te ondersoek.

Naas het natuurlik op sy dag ook ’n draai in die NFL gaan maak en ofskoon hy nie ’n kontrak by die Dallas Cowboys gekry het nie, soos aanvanklik gehoop is, was die geleentheid daar om vir die New England Patriots te speel/skop. Wat toe nooit gebeur het nie, want Naas is terug Jakarandastad toe voordat jy field goal kon sê.

Nou kyk, daar is niks fout daarmee om jou grense te verskuif en jou horisonne te verbreed nie.

Nou kyk, daar is niks fout daarmee om jou grense te verskuif en jou horisonne te verbreed nie.

Tog voel dit vir Skuimkop of Liefling se plan aan desperaatheid grens.

Die bekroonde skopkoning was sedert sy uittrede uit rugby (2015) soms om verkeerde redes in die nuus. Nou neuk hy weer in ’n rigting wat op die oog af nie ’n sprokieseinde gaan hê nie.

Vir jare se diens aan rugby in die noorde moet die Blou Bulle Maatskappy dit eerder oorweeg om vir Liefling op sy “oudag” ’n kantoorjoppie aan te bied.

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Derick Hougaard  |  Skuimkop  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.