Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Draai dié gier dadelik nek-om

So ’n week of wat gelede het Skuimkop juis die netelige kwessie aangeroer oor plaaslike rugbyspelers wat op kort termyn vir oorsese klubs gaan speel en dan met een of ander besering terugkeer na hul franchises.

Pote Human sê die Bulle se huursoldate gee hom slapelose nagte voordat die Superreeks begin. Foto: Gallo Images

Robert du Preez, die Haaie se breier, het gesê hy sal nie in die pad van sy spelers staan as hulle vir ’n maand of drie in Europa wil gaan speel nie. Dis goeie ondervinding, hulle maak nuwe pelle, hulle bring nuwe kennis en vaardighede terug.

Maar Jean-Luc du Preez, Rob se seun en Bok-flank van formaat, het ook ’n liesbesering van die Sale Sharks af teruggebring KwaZulu-Natal toe en nou gaan hy – in ’n Wêreldbeker-jaar – ’n paar Superrugby-wedstryde vir die Haaie misloop.

Dis nie ’n gesonde situasie nie, hierdie gewilde gier in Suid-Afrikaanse rugby om ná die Superreeks of die Curriebeker-kompetisie ’n paar maande oorsee te gaan speel.

Breiers laat dit toe, maar dit steek baie van hulle dwars in die krop.

Pote Human, die nuwe Bulle-afrigter, sê reguit dit beduiwel sy beplanning vir die komende Superreeks.

Jy wil jou voorbereiding vir die seisoen met jou volle span begin, mor Pote.

Benewens beserings – die Bulle se haker Jaco Visagie en die Bok-slot RG Snyman is byvoorbeeld albei by oorsese klubs beseer – is daar onsekerheid oor wanneer die ander huursoldate by ’n Supergroep gaan aansluit.

Hanro Liebenberg (agtsteman) en André Warner (skrumskakel) het eers die week by die Bulle aangesluit ná hul verpligtinge by die Franse klub Stade Français, terwyl dit nog onseker is wanneer Hendré Stassen (slot) gaan opdaag.

Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, moet iets omtrent die situasie doen.

Ofskoon ’n mens kan verstaan die euro en die jen is ’n aanloklike geelwortel wat voor spelers se neuse gehou word, moet daar na die wyer prentjie gekyk word.

’n Rits beserings kan ’n beduidende invloed op die aansien van Superrugby in die suide hê. Dit kan in effek oorspoel tot ’n verswakking van die Springbokke, Wallabies en All Blacks, die ganse wat die goue eiers vir Wêreldrugby lê, veral elke vier jaar as die Wêreldbeker-toernooi beslis word.

Dis in belang van rugby dat Suid-Afrika, die Aussies en die Kiwi’s met hul grootste sterre vir dié skouspel opdaag.

* As die drie nie op volle sterkte is nie weens beserings in klubverpligtinge, kan die WB-toernooi uiteindelik ontaard in weinig meer as ’n uitgebreide Sesnasies-reeks.

Kampioenspan nou, maar hoe breed gaan die Proteas ná die Wêreldbeker-toernooi glimlag? Foto: Gallo Images

Hoe warm is die Proteas?

Kennelik dink die Internasionale Krieketraad nie veel van die Proteas se kanse om in einde Mei vanjaar hond haaraf te maak in die Wêreldbeker-toernooi in Engeland nie.

Die krieketbase het Suid-Afrika twee opwarmwedstryde in die Verenigde Koninkryk voor die skouspel toegeken: teen Sri Lanka op 24 Mei in Cardiff en teen die Wes-Indiese Eilande op 26 Mei in Bristol.

Sri Lanka is tans agtste op die IKR se wêreldranglys, die Windies negende en SA vierde.

Dit sal ook die Proteas se sesde eendagstryd op ’n streep teen Sri Lanka wees, nadat die span van 3 tot 16 Maart hier plaaslik in ’n reeks van vyf kitsstryde teen die eilandmanne gespeel het.

* Nieu-Seeland en Indië sou in opwarmstryde veel meer van die span geverg het. Ses op ’n streep teen dieselfde span is laf.

Om te speel of nie . . .

Hier rondom die middel sewentigs het die Suid-Afrikaanse Raad oor Sport (Sacos) met die slagspreuk “geen normale sport in ’n abnormale samelewing nie” gebruik om Suid-Afrika weens sy regering se apartheidsbeleid uit internasionale sport geskop te kry.

Die top-speler Bryson DeChambeau van Amerika in aksie in die internasionale toernooi in Saoedi-Arabië. Foto: Getty Images

Skuimkop dink weer hieraan ná aanleiding van die omstrede internasionale gholftoernooi in Saoedi-Arabië, wat tans aan die gang is ondanks versoeke dat spelers en die Europese reeks dit moet boikot weens Saoedi-Arabië se swak rekord jeens menseregte (en die moord op die joernalis Jamal Khashoggi in September).

’n Paar spelers het gehoor gegee. Paul Casey weier om te speel weens sy werk saam met Unicef, terwyl Tiger Woods glo $2 miljoen en ’n seiljag van die hand gewys het om te speel.

Tog het Justin Rose, eerste op die wêreldranglys, en verskeie ander topspelers hulle tot die toernooi verbind, deels danksy die lonende verskyningsgeld en die wentjek van $3,5 miljoen wat op die spel is.

  • Dinge is gewis nie “normaal” in Saoedi-Arabië nie. Maar geld wat stom is, maar reg wat krom is, lui die idioom mos.
Meer oor:  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.