Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Folau kan by dié All Black leer
Waar sy hand eintlik hoort... v oor sy mond. Israel Folau se sosiale filters bestaan nie.Foto: Getty Images

Wie onthou nog daai daai sterke All Black-derduiwel Michael Jones, ’n rateltaaie, balvaardige losvoorspeler en bowenal ’n ribverskuiwende verdediger?

Hy het die All Blacks van 1987 tot 1998 in 55 toetse verteenwoordig en was lid van die suksesvolle Auckland Blues-span wat (onder meer) in 1996 en 1997 die Super12-kompetisie gewen het.

Jones was ook ’n toegewyde Christen. Hy het dit nie aan die groot klok gehang nie, bloot net gesê ‘weens my geloofsoortuigings speel ek nie rugby op Sondae nie’.

So het hy gedurende 1991 se Wêreldbeker-toernooi drie All Black-wedstryde om dié rede misgeloop. En vier jaar later, in Suid-Afrika, is hy uit die Kiwi’s se WB-groep gelaat omdat hy nie vir wedstryde in die kwarteind- en halfeindronde beskikbaar sou wees nie. Dit sou op Sondae beslis word.

Hy is nie al sportster wat so sterk oor hul geloof gevoel het nie.

Die Britse bokskampioen Amir Khan het in 2014 die geleentheid om ’n verbluffende klomp geld in ’n geveg teen Floyd Mayweather te verdien, van die hand gewys omdat hy as toegewyde Moslem nie in die heilige maand van Ramadan wou boks nie.

En natuurlik Eric Liddell, die Skotse atleet wat tydens 1924 se Olimpiese Spele in Parys nie aan die 100 m op ’n Sondag wou deelneem nie. Sy lewensverhaal is later verewig in die Oscar-bekroonde rolprent Chariots of Fire.

Nader aan die huis is daar ook die hamergooier Chris Harmse, wat etlike Wêreldbyeenkomste en ander groot kompetisies misgeloop het omdat hy nie op Sondae wou deelneem nie.

Dit bring Skuimkop by Israel Folau. Ook ’n toegewyde Christen. Die Wallaby-agterspeler is ’n superster op die veld. Weg van die speelveld, kennelik ’n stommerik.

Hy is onsensitief, onverdraagsaam en oningelig. As dit by sotlike, kortsigtige boodskappe op sosiale media kom, sit hy vóór in die klas saam met Twitter-trolle soos Helen Zille en Donald Trump.

Sy uitspraak dat die “hel wag vir dronkaards, homoseksuele, egbrekers…” (en ’n kompie ander) is natuurlik sy eie mening. Hy is geregtig daarop. Maar as openbare figuur, as sportheld vir derduisende, is dit bloot onverantwoordelik om dit die wye wêreld in te stuur.

Hy plaas sy werkgewer (Rugby Australië), dié se borge, sy spanmaats en sy ondersteuners in ‘n onaangename posisie.

Christelike beginsels, sover Skuimkop se kennis sterk, gaan oor liefde, medemenslikheid, verdraagsaamheid. ’n Verafskuwing in mense oor hul seksuele oriëntasie, is als behalwe dit.

* Folau moet maar sy tassies pak en Brunei toe trek. Dit sal ’n skande wees as hy Australië se Wêreldbeker-groep haal.

Wat Tabraiz Shamsi eintlik oor sy gesig moet dra as hy by die pasteitafel verbystap (as ’n mens vir Herschelle Gibbs kan glo). Foto: Getty Images

Trapmeul toe!

Van omstrede figure gepraat. Suid-Afrika het natuurlik self ’n klompie sportmense wat om verkeerde redes in die nuus was (en is).

Onlangs is daar weer oor ’n sekere liefling van Loftus geskryf, wat so snotters was ná ’n gekuier in ’n kroeg, dat hy nie kon onthou hoe die vreemde blondekopvrou in sy hotelkamer opgeëindig het nie.

Daar is hy natuurlik deur die oud-speler se meisie betrap. Sappige skindernuus op die voorblaaie, vir diegene wat in die tjol belangstel.

Die oud-Protea Herschelle Gibbs se middelnaam is natuurlik omstredenheid.

Hy is deesdae baie kalmer, maar steeds nie op sy mond geval nie. So kies hy sy Wêreldbeker-span – sonder Hashim Amla en Rassie van der Dussen, met die swaaibouler Beuran Hendricks. Ook die draaier Tabraiz Shamsi moet saam, sê Herchelle, maar hy moet eers 5 kilogram gewig verloor!

Van oorgewig kon ’n mens die fikse Gibbs nooit beskuldig nie.

* Wel van veel gewigter sake soos daggarokery op toer, gerugte van wedstrydknoeiery en gedurige laatnag-brassery.

Nie vlekloos teen die Rebels nie, maar ook nie Fleckloos nie. Die Stormers se breier verdien krediet vir ’n span wat soms sy eie grootste vyand is. Foto: Getty Images

Storm(ers)agtig

Dis mos bietjie beter, Stormers!

Die Kapenaars het Vrydag hul toer in Australasië van totale mislukking gered deur Rebels in Melbourne bloedneus te gee. So dis een sege in vier wedstryde daar oorkant.

Sjoe, maar wat ’n les in verdediging was dit nie! Die Aussies is eenvoudig voor die voet afgemaai. Deurkomkans, selfs na 10, 13, 15 fases op die aanval, was daar net nie.

Die ou wat seker die grootste sug van verligting geslaak het, was Robbie Fleck, die breier. Hy was die afgelope paar weke onder geweldige druk. Sommige ondersteuners wou gehad het hy moet sommer voor die einde van die seisoen die pad vat.

Skuimkop is bly vir die afrigter se part. Met soveel talent op die veld is dit soms verstommend hoe die span dikwels sy eie ondergang bewerkstellig.

* Dit was nie vlekloos teen die Rebels nie. Gelukkig ook nie Fleckloos nie. Die afrigter verdien krediet vir sy vermoë om ’n effens gelapte span, ná drie loesings op ’n streep, so gemotiveer te kry.

Meer oor:  Herschelle Gibbs  |  Robbie Fleck  |  Israel Folau  |  Australie  |  Sosiale Media  |  Skuimkop  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.