Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Gaan Kolpak jou hart uit, Duanne
Duanne Olivier gryp sy kans aan en (Kol)pak se tasse om vir Yorkshire te gaan speel. Foto: Getty Images

Baie is die afgelope week of so oor die Protea-snelbouler Duanne Olivier gesê en geskryf.

Sommiges het hul seënwense uitgespreek met sy besluit om sy rug vir die Proteas te draai deur ’n Kolpak-kontrak met die Yorkshire-graafskap te onderteken.

Ander het hom weer as ’n verraaier uitgekryt. Kortsigtig. Opportunisties. Geldgierig, selfs.

Skuimkop was effens verbaas toe selfs Krieket Suid-Afrika (KSA) in ’n ietwat bitsige verklaring gesê het hy is teleurgesteld in die speler se besluit “ná alles wat vir hom gedoen is” en ná “al die geleenthede wat ons hom gegee het”.

Siestog.

Die feit van die saak is dat Yorkshire ná Duanne se goeie vertonings vir Derbyshire in die Engelse graafskapliga alreeds in November verlede jaar op sy spoor was.

KSA moes toe al ’n aanlokliker kontrak met die speler beding het. Hy is eers deur die loop van vanjaar ’n nasionale kontrak tot 2020-’21 aangebied.

KSA moes toe al ’n aanlokliker kontrak met die speler beding het. Hy is eers deur die loop van vanjaar ’n nasionale kontrak tot 2020-’21 aangebied.

En die krieketbase wat met ’n suur gesig sê hy het dié somer in ál die Protea-toetse kans gekry, moet ook in konteks gesien word.

“Vra Maar Net van Durbanville” wil weet: Sou Duanne in al ses gespeel het as Vernon Philander en Lungi Ngidi nie in dié tyd beseer was nie? Word hy nie maar as ’n “plaasvervanger” in nasionale spanverband beskou nie?

Die eintlike kwessie – en dis wat Skuimkop wil aanroer – is of die sneller wérklik so effektief gaan wees teen spanne wat gewoond is aan (of aanpasbaar is teen) aflewerings wat konstant kort geplant word en opskiet?

Teen Pakistan, merendeels op blitsige blaaie, het Duanne die seisoen sy geleentheid op briljante wyse aangegryp.

Maar hoe lank gaan dit spelers soos Steve Smith, David Warner, Virat Kohli, Cheteshwar Pujara, Kane Williamson en Joe Root neem om dié aanslag baas te raak?

Gaan dus in vrede, Duanne. Gaan Kolpak jou hart uit in Yorkshire. Genade, dis ’n góór plek, maar die geld is goed en dis reg dat jy dink aan jou toekoms.

* Skuimkop hoop sy vertrek noop KSA om uiteindelik ’n ou soos Anrich Nortjé as “plaasvervanger” te oorweeg. Hier is ernstige spoed. En afwisseling.

Sien julle die ding onder my arm? Dis die kolf. Gebruik hom om die bal mee raak te slaan. Dale Benkenstein, Protea-kolfbreier, se afrigtingsregime in ’n neutedop. Foto: Gallo Images

Van Proteas gepraat…

Sri Lanka se geskiedkundige toetsreekssege oor die nasionale krieketspan is deur die Protea-kaptein, Faf du Plessis, as die “swartste dag” in sy beroepsloopbaan beskryf.

Die span se breier, Ottis Gibson, het agterna gesê hy weet “eerlikwaar” nie hoekom die span se kolwers so onbeholpe was nie.

Die kolfbreier, Dale Benkenstein, het op sy beurt beweer die span was oorgerus en dat van Sri Lanka se spelers “onbekende faktore” was waarmee die Proteas vir die eerste keer te doene gekry het.

* Met die eerste van vyf eendagwedstryde teen die Sri Lankane wat Sondag op die Wanderers beslis word, hoop Skuimkop iewers tussen die trio wyse manne is daar intussen ’n oplossing vir die worstelinge met die wilgerlat gevind.

Gaan terug Gauteng toe, julle tyd is verstreke in die Kaap. Net die tyd sal leer of Egon Seconds sy voete as skeidsregter op die hoogste vlak gaan vind. Foto: Gallo Images

Elke sekonde tel…

Die skeidsregter Egon Seconds gaan nie binne die afsienbare toekoms na ’n braai by ondersteuners van die Leeus se Superrugbyspan genooi word nie.

Hy moet ook nie enige verjaardag- of Kerskaartjies uit die noorde verwag nie.

Trouens, Skuimkop sal hom aanraai om vir eers openbare plekke in die groter Gauteng-area te vermy.

Die blaser was in die spervuur weens sy hantering van die Super-stryd tussen die Leeus en die Stormers op Nuweland.

Die tuisspan het in die doodsnikke… diep in die doodsnikke … die wendrie aangeteken. Sommige kykers het agterna beweer dis Egon se onbeholpenheid wat die Stormers gered het.

Die tuisspan het in die doodsnikke… diep in die doodsnikke … die wendrie aangeteken. Sommige kykers het agterna beweer dis Egon se onbeholpenheid wat die Stormers gered het.

Mag so wees. Hy hét nie volle beheer oor die kragmeting gehad nie en te veel spelers – vernaam aan Stormers-kant – het gedurig in sy ore geneul. Niemand is op hul plek gesit nie.

Maar Egon is ’n jong blaser en sal leer as daar foute was.

Miskien kan hy ’n bietjie na opnames van daardie hardekwas Wallieser Nigel Owens se vertoning met die fluitjie kyk. Die klein mannetjie is altyd nr. 31 op die veld, maar hy praat net één keer en dan luister selfs die grootste grootbek op die veld.

Wat die Leeus se loesing betref: Hollywood moet dit straks oorweeg om die draaiboek van daai aksiefliek in 2000, waarin Nicolas Cage die hoofrol vertolk, te herskryf.

* Noem dit sommer Gone in Egon Seconds.

Meer oor:  Ottis Gibson  |  Egon Seconds  |  Duanne Olivier  |  Skuimkop  |  Skeidsregter  |  Krieket  |  Ksa  |  Proteas  |  Kolpak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.