Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het Bulle eindelik hul Moses gekry?
Is dit die Bulle se Moses? Jake White het ’n gewigtige taak voor hom in aanstaande jaar se Superrugby-seisoen. Foto: Gallo Images

Die groot vraag in die Jakarandastad – en in die res van Suid-Afrika waar die Bulle se Superspan ondersteun word – is of die unie nou einde ten laaste tot ruste gaan kom, nou dat ’n hoëprofiel-rugbyman aangestel is.

Jake White, voormalige (suksesvolle) Springbok-breier, dra sedert vandeesweek die ligblou op Loftus. Die Blou Bulle Maatskappy (lees: Johann Rupert en Patrice Motsepe) het hom as direkteur van rugby aangestel.

Maar aanstaande jaar gaan Jake sommer die Bulle brei, sê Alfons Meyer, die BBM se uitvoerende hoof.

Hy sal dus die Super-franchise se vyfde breier sedert 2015 word.

Eers was daar Frans Ludeke, wat in 2009 en 2010 Supersukses behaal het, maar daarna uit die bus geval het. Hy is opsluit deur Nollis Marais vervang, wat in die 2016/17-seisoen gans te lig in die broek was op dié vlak.

Baie geld later is die dienste van die Nieu-Seelander John Mitchell bekom, maar hy was ’n ander jakkals. Hy het wel blink planne en idees vir Bulle 2.0 in werking gestel, maar die span het net ses seges behaal en twaalfde op die algehele punteleer geëindig.

En toe die goue geleentheid kom om ’n skuif na ’n nasionale span (Engeland) te maak, het die kaptein die sinkende skip verlaat nog voordat die passasiers hul reddingsbaadjies kon aantrek.

Arme Pote Human, ’n Bul-man in murg en been, het dié bankrot boedel geërf. Hy het sy bes probeer om die kastaiings uit die vuur te krap. Selfs vir Morné Steyn terug Loftus toe gebring, in ’n desperate poging om die oorspronklike Bulle-vonk te vind.

Nou ja, sedertdien het die sterre tot sy beskikking nie die ondersteuners rede gegee om (met horings op die kop) na Loftus terug te keer nie. Nou word ou Pote ook eenkant toe geskuif.

Want Jake is in die huis.

Soos Moses destyds die verbondsvolk gelei het, moet Jake nou die Bulle uit die rugbywoestyn lei met die belofte van Superrugby-sukses.

Daar is nie twyfel oor sy vermoëns nie. Sy vertoningslys as breier is ’n voldoende getuigskrif. Hy het baie selfvertroue. Sommer báie. Dis waarskynlik net Eddie Jones wat meer van homself dink as Jake.

Skuimkop hoop hy kan die gekweste Bulle weer in ’n gevreesde dierasie omskep. Dit sal goed wees vir Suid-Afrikaanse rugby.

En met ’n kredietkaart geseën deur menere Rupert en Motsepe, sal die nuwe breier waarskynlik aanstaande jaar ’n paar groot kanonne vir sy arsenaal kan aankoop.

SHINJUKU, TOKYO, JAPAN - 2020/03/19: Women with su
Die Olimpiese Spele is weens die Covid19-pandemie tot volgende jaar uitgestel. Foto: Getty Images

Gesonde verstand seëvier

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se arm moes tot omtrent tot agter sy nek gedraai word voordat hy besluit het om die Tokio Spele tot aanstaande jaar uit te stel.

Dit was die régte besluit in ’n tyd waar ’n gesondheidskrisis élke mens op die gánse aarde raak.

Kanada en Brittanje se aankondiging dat hulle Olimpiese spanne nie Tokio toe gaan terwyl die Covid-19-pandemie lewens wêreldwyd eis nie, was die nekslag vir Thomas Bach, IOK-baas, en sy bestuurslede.

Uit sommige geledere word daar geglo die IOK het te lank gesloer voordat hy dié verreikende aankondiging gemaak het.

Die Turkse boksfederasie, byvoorbeeld, sê drie van sy spanlede het die Covid-19-virus opgedoen tydens ’n kwalifiserende toernooi van die IOK wat in Maart in Londen gehou is en waaraan 342 boksers van 43 lande deelgeneem het. Die toernooi is inderhaas ná net drie dae afgelas.

Hoe dit ook al sy, duisende atlete se harde werk die afgelope vier, vyf jaar was (vir eers) verniet. Maar ofskoon almal erken hulle is teleurgesteld dat die Spele uitgestel is, is die gemeenskaplike boodskap dat mense se welstand veel meer waarde het as brons, silwer of goud op ’n Spele-podium.

’n Maklike besluit kon dit gewis nie vir die IOK en die Japannese regering gewees het nie. Gelukkig het gesonde verstand uiteindelik geseëvier.

Dink mooi in die tyd

Nou dat Skuimkop soos sy landsburgers in ’n staat van inperking is, vasgekluister aan’t huis met beperkte braai- en drinkgoed tot ons beskikking en géén regstreekse sport in die ganse wêreld op TV nie, dwing dit ons tot ’n dieper denke.

Hoe dikwels aanvaar ons sportuitsending op die kassie as vanselfsprekend?

Ja, jy betaal jou premium vir die sportkanaal, maar jy kan 24 uur, sewe dae per week flits deur meer as twee hande vol kanale en daar sal iets wees wat gebeur, iets wat jy wil kyk.

Nou dat die sportkraan wêreldwyd toegedraai is en ons daagliks heruitsendings en anderdag se hoogtepunte moet kyk, besef ’n ou hoe afhanklik jy van regstreekse sport geword het.

Selfs al het jy daai uitsendings soms net so in die verbygang met die afstandbeheer raakgesien.

As, of wanneer, ons weer na ’n normale lewe terugkeer, onthou die dae, weke, maande waar daar géén regstreekse sport op TV was nie.

Meer oor:  Jake White  |  Bulle  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.