Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Het Jake sy oog op Bulle-joppie?

Wat maak iemand ’n goeie afrigter?

Moes die persoon self op die hoogste vlak as speler uitgeblink het, dalk daarna verskeie kursusse gevolg het, toe deur die afrigtingsrangorde sy pad oopgeveg het tot die hoogste sport, as afrigter op nasionale vlak?

Jake White, uitgesproke voormalige Springbok-afrigter, glo skynbaar so. Jy moet eers jou skoolgeld betaal voor jy op senior vlak kan afrig, sê hy met verwysing na die voormalige Bok-sterre Victor Matfield en Fourie du Preez.

Sien, met die ou groot trekarbeider John Mitchell wat die Bulle nou glo soos ’n warm patat gaan los om pond in Engeland te verdien, word Vic en Fourie se name genoem as kandidate om die Superrugby-franchise weer op koers te kry.

Hokaai eers met daardie gedagte, sê Jake.

Net omdat jy vir die Bokke gespeel het, beteken nie jy kan op ’n hoë vlak afrig nie. Die twee moet eerder onder begin, op o.19-vlak, en dan stelselmatig hul pad opwerk.

Nou kyk, met Jake se rekord as afrigter kan ’n mens beswaarlik fout vind. Hy het immers die Bokke in 2004 na Drienasies-glorie gelei en in 2007 natuurlik ’n Wêreldbeker-kroon huis toe gebring. Hy is twee keer aangewys as die (voormalige) Internasionale Rugbyraad se Afrigter van die Jaar. Skitterende CV, met ander woorde.

Jake self het nie hoër as nasionale o.21-vlak afgerig voor hy die Bok-pos losgeslaan het nie. So dit sê baie van sy vermoë om soveel sukses te behaal.

Maar miskien moet Jake sy mening oor ander moontlike afrigters vir homself hou. Veral gegewe sy krapperige verhouding met Matfield toe die slot as speler onder hom gedien het.

Met Jake aan die stuur van Toyota Verblitz in Japan, lyk dit al of sy uitspraak dat Vic en Fourie nie opgewasse sal wees vir die Bulle-taak nie, met voorbedagte rade gedoen is.

* Daar is geen waarheid in die gerugte dat Jake vir hom onlangs ’n huis op die Silver Lakes-gholflandgoed in die ooste van Pretoria gekoop het nie.

Geldmagneet

Van voormalige Bok-afrigters gepraat. As daar een is wat so breed glimlag dat dit lyk of hy ’n frisbee in sy mond het, is dit Heyneke Meyer.

As afrigter van die Franse klub Stade Français het hy ’n begroting van €34 miljoen om mee te “speel”. Dis nagenoeg R564 miljoen, mense! Vergelyk dit met die R68 miljoen wat per jaar tot die Bulle, sy voormalige Superrugby-span, se beskikking is.

Heyneke (en seker al die ander Europese rugbyafrigters) lek hul lippe af vir die inkopies wat hulle, veral in Suid-Afrika, kan kom doen.

Die euro-magneet is veel sterker as die rand s’n. Selfs die kleinste klub in Frankryk, Agen, het bykans drie keer soveel geld tot sy beskikking (R230 miljoen per jaar) as Suid-Afrika se “rykste” franchise, die Stormers (R78 miljoen per jaar).

Maak julle maar gereeld vir ’n groeiende speler-uittog na die noorde, rugbyliefhebbers.

* Soos ’n kollega van Skuimkop droogweg opmerk: Dis net Afrikaans, braaivleis en brandewyn wat nog enkele van ons beste spelers hier sal hou.

Dokter Nella die Nar

Dale Steyn, die nasionale blitsbouler wat die rekord vir die meeste toetspaaltjies (421) met Shaun Pollock deel, moet ernstig oor sy toekoms besin. Dis tyd vir uittree. Luister na jou liggaam.

Skuimkop weet nie hoe ernstig Dale Steyn die voormalige snelbouler André Nel se raad sal opneem nie.Foto: Gallo Images

Die woorde van wysheid kom nie van ’n dokter nie. Trouens, baie ver daarvan.

Die raad is verskaf deur die voormalige Protea-sneller André Nel, wat op sy dag in 36 toetse en 79 eendagwedstryde vir SA gespeel het, met 123 paaltjies agter sy naam.

Nou ja, ou Nella het in sy speeldae vir groot pret en dikwels ook groot verleentheid met sy manewales op en weg van die veld gesorg.

Daar was die voorval met die daggazol op toer, daar was ’n bestuur onder die invloed, daar was buite-egtelike lakengimnastiek. Meer as een keer. En dan praat ons nie eens van sy bekgevegte op die blad met kolwers nie.

Ja, so Steek-hom-Steyntjie is nie meer vandag se kind nie. Dis dan die elmboog, dan die hak, dan die lies wat pla.

Maar Skuimkop bly glo, soos hy met groot sentiment maar onwrikbaar bly glo in Ernie Els op die gholfbaan, dat die sneller iewers vorentoe weer die kolwers gaan laat bewe.

* Die Phalaborwa Express moet hom nie steur aan Nella die Nar nie. Bly fiks, boul binne jou perke en maak ons weer trots!

Meer oor:  Heyneke Meyer  |  Jake White  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.