Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: SA atletiek maak só droog

Die Afrika-atletiekkampioenskap wat tans in Asaba, Nigerië, plaasvind, onderstreep maar net weer hoe min ons administrateurs vir sportlui voel.

Ja, hulle is vinnig om in die kollig te wil baai wanneer atlete medaljes wen, maar wanneer dit oor die welstand van atlete gaan, is dít ver ondergeskik aan hul eie behoeftes.

Daar hoor ons toe dié week hoe beamptes van Atletiek Suid-Afrika (ASA) lekker in enkelkamers in Asaba slaap, terwyl sommige atlete tot drie op ’n kooi moet probeer slaap kry. En dan verwag ons van hulle om die volgende dag medaljes te wen?

Skuimkop vermoed die organiseerders van die Afrika-atletiekkampioenskap, wat deur ’n logistieke chaos gekenmerk word, werk in dié gebou.

ASA se beamptes verstaan duidelik nie dat sport oor die atlete en nie om die baadjiedraende soustreinpassasiers gaan nie.

As jy ’n beampte was wat werklik die atlete voorop gestel het, sou jy in die gang geslaap het as dit kon beteken dat jy ’n klip uit die pad vir een van jou atlete rol. Maar ASA is duidelik een van daardie tipiese instansies wat vir homself bestaan eerder as om die atlete te dien.

Om boonop Nigeriese owerhede vir al die chaos kwalik te neem en jou eie hande in onskuld te was, is ook ’n skande. Enige professionele sportspan wat oorsee deelneem, sal vooraf op ’n verkennende besoek gaan seker maak dat daar ’n plan A, B én C is indien dinge nie regloop nie.

Om jou atlete op ’n klipharde lughawevloer te laat rondsit vir dae lank, getuig nie van goeie beplanning of empatie nie.

* Skuimkop hoop ons atlete ryg die medaljes in, maar steek dan op die podium tong uit vir hul eie beamptes.

Klipharde kopbesluite

Een span wat nie van ’n gebrek aan professionaliteit beskuldig kan word nie, is die Crusaders. Hoe hulle dit regkry om so dêm goed te wees, is ’n raaisel.

Dink daaraan. Dié span het in die 20 uitklopwedstryde wat hy al in Christchurch gespeel het nog nooit verloor nie!

Daar is sekerlik baie bestanddele in hul wenresep, maar een wat dié week vir Skuimkop uitgestaan het, is hul vasbeslotenheid om in alle omstandighede die span eerste te stel.

Saterdag se eindstryd kon die volmaakte swanesang vir die Crusaders-strydros Wyatt Crockett gewees het. Dié stut het al meer as 202 keer vir die manne van Canterbury gespeel en is nie meer volgende jaar vir hulle beskikbaar nie. Tog is Crockett uit die 23-tal weggelaat vir die stryd teen die Leeus.

Scott Robertson, die Crusaders se afrigter, het gevoel daar is beter spelers tot sy beskikking en erken dit was sy moeilikste besluit in die 11 jaar wat hy al by afrigting betrokke is.

Skuimkop glo nie daar is baie Suid-Afrikaanse spanne wat só ’n getroue dienaar nie ten minste as ’n plaasvervanger sou gekies het vir sy laaste wedstryd nie.

Dink maar aan ’n klompie van ons mees ervare Bokke, soos Percy Montgomery en John Smit, wat teen die tyd van hul mylpaalwedstryde ongelukkig ver verby hul beste was.

* As jy egter die heel beste wil wees, moet jy dikwels bereid wees om moeilike, ongewilde besluite te neem.

Swys de Bruin. Foto: Gallo Images

Swak strategie, Swys

Swys de Bruin lyk na ’n gawe, intelligente ou, maar Skuimkop weet nie wat hom besiel het om voor die eindstryd in die openbaar oor die skrumwerk van die Crusaders se All Black-loskopstut, Joe Moody, te kla nie.

Die Crusaders het voorspelbaar genoeg nou gesê die Leeus is bloot bang vir Moody se skrumkrag en De Bruin het hulle basies nou gratis ekstra motivering gegee om hulself in die skrums te bewys.

* Skuimkop het hierdie fliek al vantevore gesien en hoe dit gaan eindig, is dat arme Ruan Dreyer, die Leeus se vaskop, die ou gaan wees wat eerste gestraf word wanneer die vaste skrum Saterdag grond toe gaan.

Meer oor:  Atletiek  |  Swys De Bruin  |  Leeus  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.