Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Hou duim vas wenrugby word bedien

So, hier is ons nou, op die drumpel van die grootste toets vir Springbokrugby soos hy tans daar uitsien. ’n Kragmeting met die Wallabies van Australië. In Australië.

Tyd vir praatjies is verby, dis tyd vir wenrugby. Foto: Twitter | SA Rugby

Vreemd, né, dat menige deurwinterde Bok-ondersteuner (en Skuimkop tel gewis onder dié groep) beswaarlik verlede jaar dié tyd sou kon dink ons staan ’n realistiese kans teen die span in die gifappelgoue truie.

Die Bokke het sedert 2016 se hongersnood ’n verruklike coq au vin van die Franse Hane gemaak en dit opgevolg met ’n aangename asado Argentino van die Poemas. Voorgeregte, reken sommige ondersteuners na dese.

Ek wil nie die eetlus bederf nie, maar hokaai!

In September laasjaar was die Bok-span ’n onsmaaklike deurmekaarspul. Soos ’n potjiekospot waarvan die bestanddele te vroeg omgeroer is, voordat als behoorlik bymekaar kon kom. Dit het ’n hele ruk en menige Masterchef-resepte agter die skerms geverg om ons tot hier te kry.

En die Aussies? Tot voor die Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks skaars twee weke gelede was hulle in dieselfde benarde situasie. Nou is hulle skielik ’n span met meer skop as ’n vindaloo-kerriegereg. So, kom ons sit versigtig aan vir die maaltyd.

Sedert die sukseslopie begin het, hoor ons daagliks spelers praat van die nuwe spankultuur van omgee vir mekaar, vir die Bok-trui en -wapen.

* Gegewe dit, moet die Springbokke nou wys hulle kan wenrugby opdis teen ’n Wallaby-span wat nuutgevonde selfvertroue het na ’n verlóórtoets teen die wêreld se beste 15-tal.

Gibbs sprei sy vlerke

Skuimkop is verlig om te verneem Herschelle Gibbs, daardie talentvolle stoutseun van Suid-Afrikaanse krieket, het uiteindelik ’n geleentheid gevind om steeds by die sport betrokke te wees.

Scooter sal eersdaags as ’n afrigter in Afganistan se T20-kriekettoernooi diens dien. Die Sphageeza-liga begin Dinsdag in Kaboel en die voormalige kolf- en veldwerkmaestro van die Proteas sal aan die stuur van die Speenghar Tigers wees.

Hy het voor die aanstelling wyd en syd verkondig hy wil graag by die plaaslike T20 Global League betrokke raak. Maar as spéler. Op 43-jarige ouderdom was Gibbs egter nie ’n aanloklike belegging vir enige van die agt plaaslike franchises nie.

Hoekom? Want daar was meer (jong) plaaslike en internasionale talent om van te kies as wat daar vingerhappies by die jaarlikse vergadering van die Nasionale Seniorburger-vereniging is.

* Nou ja, darem nie uit vir ’n nulletjie wat krieket betref nie, Herschelle. Afganistan kan interessant wees. Krieket is aan’t ontwikkel daar. En glo dit of nie, buitelanders word toegelaat om ’n bier of vier te geniet.

Meer oor:  Herschelle Gibbs  |  Bokke  |  Springbokke  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.