Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Hou ons rugby suid, Saru!
Is dit die Springbokke se voorland na 2024 – die vuil uile van Engeland in die Sesnasiesreeks? Nee dankie, sê die gansie. Foto: Getty Images

Nou die aand tydens ’n potjie Slangetjies-en-leertjies, met ’n dubbel-John Jamesons in die hand (want ’n enkel is iets wat jy op ’n rugbyveld breek), vra buurman iets eienaardigs.

Teen watter toptoetsnasies gee jy nie om as die Springbokke verloor nie? Ter versagting voeg hy by: “Mits ons natuurlik in die proses goeie rugby gespeel het.”

Wel, ’n mens wil nie hê die Bokke moet óóit verloor nie. Valse hoop, uit die aard van die saak. Daar is altyd iewers ’n klip in die pad wat die wenwa laat ontspoor.

Om buurman te vermaak, kom die antwoord toe: die All Blacks en Ierland. Dalk Frankryk.

As die Springbokke op die dag net nie goed genoeg was om een van dié drie te klop nie, kan Skuimkop daarmee saamleef.

Loesings teen Wallis, Skotland of die Argentynse Poemas sal áltyd voel asof dit eenmalige glipse was, iets wat nooit moes gebeur het nie.

Om teen Australië te verloor, is erg. Vererger deur die snoewery van die kommentaarspan tydens TV-uitsendings. Dié bestaan gewoonlik uit voormalige Aussie-spelers wat so skaamteloos partydig is, dat dit naderhand voel of ’n mens uit verblindende woede ’n aar gaan bars.

As verloor teen die Wallabies ’n bitter pil is, dan is verloor teen Engeland ’n bitter groot setpil. Nie een rugbynasie op die ganse planeet wil teen die Engelse verloor nie – om verskeie en uiteenlopende redes. Almal geldig, ongetwyfeld. ’n Loesing is 'n loesing, tensy dit teen Engeland is. Dan is dit ’n tragedie.

Buurman se aweregse vraag het sy oorsprong in die berigte/gerugte dat SA se rugbybase dit oorweeg om oor ’n jaar of vyf na die Noordelike Halfrond te skuif en daar aan ’n nuwe Sewenasies-reeks deel te neem.

Totsiens Suidelike Halfrond, hallo €uropa!

In teorie maak dit sin. Ons hoef nie meer halfpad om die wêreld te reis om toetsrugby te speel nie. Die reeks is gewild en groot geld is ter sprake danksy die sterk euro.

Toeskouers, adverteerders en uitsaairegte sorg vir yslike inkomste.

’n Gros nasionale spelers is boonop reeds by klubs in Europa gesetel, ken dus die speeltoestande en is vertroud met plaaslike teenstanders.

Maar . . . wat van ons lang verhouding met ons suidelike vennote? Gaan dit sommer net so laat staan word?

Dit gaan rugby hier ’n gevoelige slag toedien as die Springbokke nie meer teen hul tradisionele teenstanders te staan kom nie. Trouens, dit kan die spel in die suide op sy knieë dwing.

In dié stadium is die SA Rugbyunie nog tot 2024 verbind tot Sanzaar-verpligtinge, so geen skuiwe sal waarskynlik voor dan gebeur nie. Skuimkop hoop egter nie dit gebeur ooit nie.

Dalk kan die Sanzaar-base maniere vind om die Rugbykampioenskap ’n makeover te gee, nuwe lewe daarin te blaas? Dalk ’n vyfde span wat deelneem, ’n ander formaat, neutrale velde wat almal se reistyd verkort?

* Hou die rugbykrag in die Suidelike Halfrond, ouens. Dis veel lekkerder as ons op die manier Engeland se tjank aftrap.

Jy is ons held, Rassie! Bly tog nou maar hier. Of dan ten minste tot ná 2023, tot ná ons weer die Wêreldbeker gewen het. Foto: Gallo Images

Van skuiwe gepraat…

Rassie Erasmus ontken dat hy Eddie Jones se pos as Engeland se rugbybreier in sy visier het. Hy bly getrou aan Suid-Afrikaanse rugby, belowe hy. Skuimkop glo hom.

’n Mens kan verstaan dat hy nou in rugbyterme ’n waardevolle kommoditeit is nadat hy die Springbokke na die wêreldkroon gelei het.

Maar jou werk hier is nog nie klaar nie, Rassie. As direkteur van rugby moet jy nou die strukture vestig wat die volgende generasie Springbokke gaan oplewer.

Jy het nog baie jare se afrigting oor in jou. Gebruik die volgende siklus in aanloop tot Wêreldbeker 2023 om jou goeie werk ter plaatse voort te sit.

* Teen daai tyd kan jy in elk geval sélf jou salarisverwagtinge op ’n servet neerskryf en oor die tafel skuif na watter rugbybaas ook al oorkant jou sit.

Benni McCarthy gaan aan sy afrigtingsvaardighede by Tottenham Hotspur in Engeland slyp. Maar dis nie al waaraan daar geslyp moet word nie. Foto: Gallo Images

Swaargewiglesse

Benni McCarthy, voormalige Bafana Bafana-doelskieter en onsuksesvolle afrigter van die Premierliga-sokkerspan Cape Town City, wil in Engeland tyd saam met Tottenham Hotspur deurbring sodat hy by dié se breier, José (Special One) Mourinho, kan gaan leer.

McCarthy is verlede jaar as City se afrigter gepos. Sy span kon net twee uit 18 kragmetings wen.

Mourinho was die Kapenaar se afrigter by FC Porto in Portugal toe die span in 2004 die Europese Kampioeneliga gewen het. Hulle het nog gereeld kontak, sê McCarthy.

Nou wil hy Spurs toe om te gaan leer afrig.

Skuimkop wens hom sterkte toe. Dalk is Mourinho se eerste les aan McCarthy om weg te bly van die pasteitafel of om ’n slaaitjie eerder as ’n romerige pasta te bestel.

* In die stadium is Benni wel ’n swaargewig, maar nie in breiersterme nie.

Meer oor:  Benni Mccarthy  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Sesnasies  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.