Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Is ons oorsensitief vir rassisme?

Liewe genade, maar ’n rassis word deesdae agter elke figuurlike bos (of letterlike paaltjie) uitgeskop!

Dit was met stomme verbasing dat Skuimkop lees die Internasionale Krieketraad (IKR) ondersoek ’n beweerde rassistiese aanmerking deur Pakistan se krieketkaptein, Sarfraz Ahmed.

Kaptein, paaltjiewagter en nou glo ook rassis. Pakistan se Sarfraz Ahmed. Foto: Getty Images

Hy het Dinsdagaand, in die tweede (en uiters opwindende) eendagwedstryd teen die Proteas in Durban, woorde teenoor Andile Phehlukwayo, die groot held in die tuisspan se sege die aand, kwytgeraak. Dit het sedertdien in ’n rasseherrie ontspoor.

As ’n mens mooi luister, kon jy oor die paaltjiemikrofoon hoor hoe die besoekers se paaltjiewagter die tuiskolwer iets toesnou nadat die geluksgodin aan sy kant was.

Die strekking van sy woorde was min of meer: “Haai swart man, waar sit jou ma vandag? Watter gebed het jy gevra sy moet vandag vir jou bid?”

As dit bedoel was om Andile te ontsenu, was dit ’n bra power poging. Tensy Andile natuurlik Oerdoe magtig is. Wat Skuimkop sterk betwyfel.

Want dit is in sy moedertaal dat Sarfaz dié skynbaar gewraakte woorde gespreek het.

Maar kom ons veronderstel hy het dit in Engels gesê, vir die hele wêreld (en die kolwer) om te verstaan. Sou die verwysing na sy etnisiteit Andile werklik so beledig en verneder het dat dit hom ontsenu, dat hy kop verloor en sy paaltjie wegsmyt?

Wat as die einste sinnetjie teenoor Rassie van der Dussen, Andile se ewe-manjifieke kolfvennoot die betrokke aand, geuiter is? “Haai wit man, waar sit jou ma vandag? Watter gebed het jy gevra sy moet vandag vir jou bid?”

Hoeveel hane sou agterna “rassisme” gekraai het?

Moet Skuimkop nie verkeerd verstaan nie. Rassisme is ’n kanker wat sy wortels wyd en diep geanker het in ons samelewing. Dit durf nie geduld word nie.

* Ofskoon die rubriek allermins die plek is om politiek te besig, moet ’n mens tog wonder of ons nie deesdae effens oorsensitief is nie, dat ons om elke hoek en draai na rassiste gaan soek.

Bryan sien swart (soort van)

Die voormalige Springbok-vleuel Bryan Habana sê die All Blacks gaan vanjaar die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan wen.

Of het hy?

Hy dra dalk swart, maar sy bloed is groen. Bryan Habana, voormalige stervleuel van die Springbokke. Foto: Getty Images

Ofskoon dié uitspraak effens ongemaklik op Bok-ondersteuners se ore sou val, moet ’n mens verstaan in watter konteks die superster dit gesê het en hoe dit deur die aanlyn publikasie die wêreld ingestuur is.

In ’n onderhoud met ’n Nieu-Seelandse publikasie het die drukker van 67 drieë in 124 toetse vir Suid-Afrika gesê die Kiwi’s het ’n “baie goeie kans om die eerste span te word wat die Wêreldbeker drie keer in ’n ry wen”.

Ook dat hy “amper seker is” die All Blacks sal, “soos met alle vorige WB-toernooie” as ’n gunsteling om die kroon aantree.

Ofskoon Habana se woorde dus effens verdraai is en Skuimkop oortuig is van sy Bok-lojaliteite, kan ’n mens nie anders as om te wonder of hy nie dalk in die kol is met sy “voorspelling” nie.

* Die Kiwi’s in ’n Wêreldbeker-jaar is ’n ander dierasie. Ons hoop die vleuel is verkeerd, maar feit van die saak is Rassie Erasmus en sy Bokke gaan op hul allerbeste moet wees.

Agent 006

So Eddie Jones, Engeland se rugbyafrigter, erken hy het in sy loopbaan “spioene” ingespan, ewe vermom, om by ander spanne se oefensessies te gaan koekeloer.

Skuimkop het nog altyd gedink Eddie se ogies sit darem net te na aan mekaar, jy kan dié Australiër eenvoudig nie vertrou nie.

Moenie nou kyk nie, maar daar is ‘n kamera in die kleedkamer. Eddie Jones, Engeland-beier en voormalige spioen. Glo. Foto: Getty Images

Hy doen dit natuurlik nie nou meer nie, keer Eddie egter vinnig. Deesdae is daar oorgenoeg (wettige) beeldmateriaal om teenstanders se goeie en swakpunte uit te pluis.

Die breier erken egter hy is bevrees dat daar in vanjaar se rugbyskouspel in Japan spioene met kameras en video-opnemers kan rondsluip omdat daar ’n klomp hoë geboue rondom oefenvelde in die land is.

Die moontlikheid bestaan dat Ed-mannetjie dalk ’n punt beet het.

Die waarskynlikheid is dat die breier bloot net erg paranoïes is.

Dis te verstane. Met twee spanne van die Kolonie, Ierland en Wallis, bo Engeland op die jongste wêreldranglys, en natuurlik die bykans onstuitbare Nieu-Seeland op nommer een, sal enige breier met so ’n grootpraterige smoel soos Eddie s’n, ’n bietjie aan vervolgingswaan ly.

* Pasop vir daai geheime agente van die Franse en Argentyne in Groep C, Eddie!

Meer oor:  Rassisme  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.