Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Kev se pleidooi beter as Faf s’n

Twee topsportmanne, twee uiteenlopende pleidooie. Die een klink na verskoning soek en die ander na ’n geldige voorstel.

As daar verwarring is, laat Skuimkop verduidelik.

Faf du Plessis / Foto: Getty Images

Die Protea-kaptein, Faf du Plessis, het ’n versoek aan die Internasionale Krieketraad gerig dat daar weggedoen moet word met die opskiet van die muntstuk voor die begin van ’n toets om te bepaal wie eerste gaan kolf of boul.

Deur weg te doen met die loot, sê Faf, sal die tuisveldvoordeel wat ’n span het, verminder en tot groter balans tussen teenstanders lei.

Die besoekende span sal die keuse hê wat hy eerste wil doen en sodoende sal die blad waarop gespeel word nie sommer vooraf “gedokter” word om die tuisspan te bevoordeel nie, verduidelik Faf sy pleidooi.

Ironies genoeg het die kaptein die versoek gerig nadat die Proteas in die eerste toets teen Sri Lanka in Galle binne drie dae omgedop is.

Die Suid-Afrikaners het in hul tweede beurt ’n skamele 73 lopies aangeteken en die tuisspan se draaiers het die skade aangerig wat aan hom ’n sege van 278 lopies gegee het.

’n Mens kan argumenteer Faf maak ’n geldige punt.

Tuisspanne sal uit die aard van die saak ’n blad voorberei wat hul boulaanval bevoordeel. Deur weg te doen met die loot, sal daar dalk versigtiger te werk gegaan word om ’n blad te bied wat tot die tuisspan se ondergang kan lei.

Feit van die saak is, ’n span moet steeds onder enige uitdagende omstandighede kan kolf.

Teen Sri Lanka se draaiers was die Proteas bloot uit hul diepte. Ongeag of daar geloot is of nie, sou Faf en sy kolwers steeds nie die aanslag kon oorleef nie.

Miskien moet die span eerder leer hoe om draaiboulwerk van gehalte te speel. Bowenal hoe om onder druk vas te byt.

* Die wegdoen van die loot gaan nie dié gebreke verdoesel nie.

Pleidooi nr. 2

Dié een klink nie soos Faf se suur druiwe nie. Trouens, dis een wat waarde kan toevoeg.

Kevin Anderson / Foto: Getty Images

Skuimkop verwys na die langeraat Kevin Anderson se versoek aan die tennisbase by Wimbledon dat die wenner van die vyfde en beslissende stel op dié toernooi ook met ’n valbylpot bepaal moet word.

Die huidige reëling is: met die steltelling op 2-2 en die vyfde stel op ses potte elk, is die wenner die een wat twee potte meer as sy teenstander wen.

Anderson het in die halfeind op Wimbledon die Amerikaner John Isner uiteindelik met 26-24 in die beslissende stel geklop om tot die eindstryd teen Novak Djokovic deur te dring.

Ná meer as ses uur se uitmergelende spel, het die Suid-Afrikaner net ’n bietjie meer as ’n dag gehad om te herstel voordat hy die Grand Slam-wenner om die titel moes uitdaag. Gans te min. En dit kon in die eindstryd gesien word.

Hy het dit egter nie as verskoning gebruik vir sy loesing in skoon stelle nie. Sy versoek is voor die eindstryd gerig.

Hoekom nie ’n valbylpot in die vyfde stel nie? Nou het jy één kans om die vyfde te wen: Wie wil dit die graagste hê?

Niemand wil so (met 26-24 in die laaste stel) wen nie, sê Anderson. Hy sou nie aan die ontvangkant van so ’n teleurstellende uitslag wou wees nie, voeg hy by. Hy kry sy jare lange maat Isner jammer.

Tradisionaliste sal sê die beslissende, valbyllose vyfde stel is deel van Wimbledon se ryke geskiedenis.

* Op die keper beskou, het dit vanjaar ’n bietjie van die glans gesteel wat met ’n eindstryd gepaard kon gaan.

Viva Les Bleus!

Skuimkop is jammer Kroasië kon nie die Franse in die eindstryd van die Wêreldbeker-sokkertoernooi klop nie, maar dankbaar Engeland het nie in Moskou teen Les Bleus aangetree nie.

Luister, kameraad, ek doen nie reën nie, sê Wlad Poetin (links). Foto: Getty Images

En ofskoon ’n span van Afrika nie die uitkloprondes gehaal het nie, is die vasteland darem bitter sterk verteenwoordig in die Franse kampioenspan, nie waar nie?

Verbeel jou Frankryk het dieselfde immigrante-beleid as Amerika se verleentheid vir ’n president, Donald Trump, gevolg!

Van staatshoofde gepraat: In gietende reën het Frankryk se Emmanuel Macron en Kroasië se Kolinda Grabar die spelers ná die wedstryd geluk gewens.

* Dit terwyl die gasheernasie se Wladimir Poetin, Trumpie se nuwe beste vriend, skuiling onder ’n sambreel gesoek het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.