Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Kolisi en die politieke hiënas

Welkom aan al die lesers in 2019!

Voorspoed ook vir dit wat voorlê, spesifiek aan ons geliefde Springbok-rugbykaptein, Siya Kolisi, wat op die oomblik nog, in ’n Wêreldbeker-jaar bowenal, sukkel om sy groot voet uit sy nog groter mond te kry.

Moenie hensop as die politici jou onder skoot het nie, kaptein Siya Kolisi! Foto: Getty Images

Siya, dis verkiesingsjaar in Suid-Afrika, ingeval jy nie geweet het nie. Die politici sit en wag soos honger hiënas, gereed om die afval-vleisies aan die karkas as haute cuisine voor te hou.

Die kaptein se uitspraak in ’n onlangse onderhoud dat oudpres. Nelson Mandela teen kwotas gekant sou wees, is juis so ’n afval-vleisie. En die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor sport, die ANC se Beauty Dlulane, het ’n behóórlike maaltyd van die stelling gemaak.

Die voorsitter reken die kwotastelsel en transformasie is met mekaar aan die heup verbind, soos ’n Siamese tweeling. Bog, natuurlik. Sy sê ook dat “sportkodes soos rugby en krieket op nasionale vlak” hulle daarteen verset om deel van die nuwe Suid-Afrika te wees. Suiwer politiekery.

Beauty se (kwalik bedekte) poging tot stemwerwery voor die verkiesing behoort ons nie te ontstel nie. Siya se (onskuldige) eerlikheid behoort wel.

* Sportleiers, ongeag in watter konteks hulle die status bereik het, moet vrae met selfs die geringste politieke strekking soos selonsroosstompies op ’n braaivleisvuur vermy. Veral in Suid-Afrika. Veral in ’n verkiesingsjaar.

Hoekom mor jy, Mickey?

So in die amper vyf jaar wat Mickey Arthur die Protea-krieketspan afgerig het, wil jy vir Skuimkop kom vertel hy het nooit in ’n baanopsigter se oor gefluister om die baanblad vir ’n tuistoets sus en so voor te berei nie?

Blaaie te woes vir jou, Mickey Arthur? Gaan speel dan maar op die stofstroke van Pakistan. Foto: Getty Images

Tuistoetsreeks-seges oor Pakistan, Indië, die Wes-Indiese Eilande, Nieu-Seeland en Bangladesj in 2005 en 2006, met Arthur as nasionale breier, moet tog iets te doen hê oor die blaaie waarop die besoekers verwelkom is.

Nou kla Pakistan se afrigter oor die toestand van Suid-Afrika se baanblaaie, nadat sy span reeds die reeks verloor het, nog voor die derde toets wat Vrydag op die Wanderers begin het.

Arthur sê hy verstaan dat die blaaie voorberei word om die tuisspan se boulers te pas. Maar hy glo dit het “te ver gegaan” in die eerste toets op Centurion en die tweede op Nuweland. Siestog.

So, hoe “sportief” is die blaaie as die Proteas op die subkontinent gaan toer, Mickey? Hoe “tegemoetkomend” is dit in Australië en Engeland?

Bulle word getjekboek

Goeie genade, vir ’n rugbyunie wat sommer nou die dag nog afleggingsbriewe aan elke tweede persoon met ’n polsslag in Loftus se gange uitgedeel het, is die Bulle darem op ’n inkopieveldtog wat skrik vir niks!

Die lys is indrukwekkend: die Ulster-stut Wiehahn Herbst is op pad Jakarandastad toe, die Springbokke Duane Vermeulen, Schalk Brits en Cornal Hendricks het kontrakte onderteken, so ook die Blitsbokke Dylan Sage, Stedman Gans en Rosko Specman en die Junior Bok Muller Uys.

En aan die bestuursfront is daar Alan Zondagh, nuwe direkteur van rugby, Daan Human, wat die Cheetahs glo gaan verlaat om die Bulle se agttal skrumlesse te gee, en Pine Pienaar, wat in 2017 deur die unie “laat gaan” is, maar nou weer as verdedigingspesialis vir Pote Human (nuwe afrigter) sal werk.

Skuimkop is beïndruk. En 100% oortuig die 50%-aandeelhouer in die Blou Bulle Maatskappy, Remgro, het besluit hierdie belegging in die noorde gaan die komende Superrugby-seisoen veel meer dividende oplewer as die finansiële fiasko waarmee hy tans in die suide opgeskeep is.

* Remgro het skynbaar genoeg gehad van raadsaalpolitiek, onbevoegde beamptes, wanadministrasie en ’n Superspan wat op papier goed lyk, maar op die veld nie sy potensiaal bereik nie.

Rol hom in

Daar skop hy nou in, Scott McCarron! Foto: Getty Images

Skuimkop lig sy hoed vir Scott McCarron, die eerste speler in die Amerikaanse PGA-gholfreeks wat pas ’n borgskap-ooreenkoms met die vervaardiger van hennep-olie gesluit het.

Vir die wat nie weet nie: Hennep-olie bevat kannabidiol (CBD), wat volgens kenners voordelig is vir mense se gesondheid. Dit bevat ook tetrahidrokannabinol (THC), ’n aktiewe bestanddeel in dagga.

Baie mense besef nie die ongelooflike vlak van geestelike stres en angs wat met beroepsgholf gepaardgaan nie, het McCarron, driemalige kampioen in die PGA-reeks, gesê. Hy gebruik deesdae sy borg se produk as deel van sy daaglikse roetine.

* Daar is geen waarheid in die gerugte dat hy erken het dat hy na dese nie meer die bal so vér slaan nie, maar so hóóg.

Meer oor:  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.