Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Kyrgios tennis se skandvlek

In die dae toe tennisrakette nog houtrame gehad het en hul snaaroppervlak net effentjies groter was as die gemiddelde pannekoek by ’n plattelandse kerkbasaar, het die bestes mekaar met groot respek getakel.

Die groot tweestryde is met oorgawe tussen die vier lyne gestry en ongeag die uitslag, was daar agterna nooit ’n skewe woord buite die baan tussen spelers nie, aartsvyande of nie.

Ek gaan die ou wat my die heeltyd so op die baan agtervolg nou pap moker met my raket! Nick Kyrgios veg met sy innerlike demone. Foto: Getty Images

Omstrede figure was daar volop.

Dink maar aan ou Bobby Riggs, wat dekades ná sy uittrede gesê het vrouespelers is eenvoudig nie goed genoeg om mans te klop nie. Trouens, hy sal op 55-jarige ouderdom nog die voorste vrou ter wêreld slae kan gee.

In September 1973 het die tweemalige Slam-wenner toe in skoon stelle teen Billy Jean King verloor.

Ook was daar die Roemeense nar Ilie Nastase, wat teenstanders met sy aapstreke probeer ontsenu het. Jimmy Connors was self ’n man wat graag ’n middelvinger na lynregters gelig het.

Of wat van Martina Navratilova, openlik gay en uitgesproke, of John McEnroe, bossiekop-vuurvreter, wat soos ’n stout kind sy speelgoed gegooi het as ’n beslissing hom ontstel het.

Almal van hulle was iewers in hul loopbaan om verkeerde redes in die nuus. Almal van hulle was Grand Slam-kampioene. Nie een het buite die baan varkerige opmerkings teenoor hul teenstanders gemaak nie.

En dan kry jy ’n skepsel soos Nick Kyrgios. ’n Mislike vent.

Omstredenheid is die Australiër se middelnaam. Sedert sy toetrede tot die beroepsgeledere in 2013, het hy vyf titels gewen (geen Grand Slams nie).

Hy is tans 33ste op die wêreldranglys. Tog beswadder hy sy medespelers asof hy ’n kampioen sonder weerga is.

Rafael Nadal (17 Grand Slams), Novak Djokovic (15) en Andy Murray (3) het vandeesweek almal in ’n onderhoud onder sy skerp tong deurgeloop.

Nadal is ’n swak verloorder en het geen sin vir humor nie, Djokovic gee hom ’n kramp, want hy het ’n siek obsessie daarmee dat mense van hom moet hou, Murray se wenrekord is ’n verleentheid.

Sê Kyrgios.

Als goed en wel, ou Nick, maar jy vaar self nie te waffers nie.

Net Donderdag het hy weer ’n vloermoer gegooi toe hy teen die onbekende Noorweër Casper Ruud in die Italiaanse Meesters ’n afslaanpot afgestaan het. Hy het gevloek, sy waterbottel geskop, toe sommer ’n stoel op die baan geslinger en van die baan gestap. Einde van die wedstryd. Ook nie die eerste keer dat hy die afstap-ding doen nie.

* Al wat Kyrgios regkry, is om tennis se naam te beswadder. Hy is ’n slegte voorbeeld vir jong aanhangers van die spel. Die vereniging vir beroepspelers (ATP) behoort hom met ’n lywige skorsing te straf.

Onthou net, dis my skêr, Roger. Ek moet hierna nog my middagete op Baan C gaan snoei, sê Serena Williams skynbaar. Foto: Getty Images

Praat van kampioen

Skuimkop moes twee keer lees toe hy sien die manjifieke Serena Williams (met 23 Grand Slam-titels op haar kerfstok) het begin gras eet om van haar beserings en kwale genees te word.

Ja, gras. Soos daai op Wimbledon, waar sy séwe titels gewen het.

“Dit was aaklig,” erken Williams.

“Maar dis moeilik om jou liggaam te bestuur. So, jy moet gras eet. Dit is soort van wat ek gedoen het. Dit was ’n nagmerrie. Maar dit het vrugte afgewerp.”

Die ster verdien lof vir haar vindingryke manier om die beseringspook te probeer systap.

* Sy het dadelik ’n plan beraam. ’n Mens kam amper sê sy het nie gras onder haar voete laat groei nie.

Haai, ouens... wat is die antwoord op vraag 12? Sonny Bill Williams spog met vinnige voete, ratse hande en nou ook ‘n flink brein. Foto: Getty Images

Geleerdheid vs. geleentheid

So ’n tydjie gelede sê Marius Schoeman, hoëprestasiebestuurder van sewesrugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, ’n baie waar ding.

Die geldgordels by unies word oral stywer getrek en heelwat minder spelers gaan in 2020 gekontrakteer word.

Maar dis goed so, sê Marius toe, want dit sal meer ouens oortuig om te gaan studeer én rugby te speel, wat hulle op lang termyn gaan help.

“Almal se droom is om vir die Springbokke te speel, maar ses of agt jaar later maak ’n ou dit nie en dan het hy niks agter sy naam nie. Nou moet hy van voor af begin.”

Skuimkop dink weer hieraan toe hy lees die All Black Sonny Bill Williams het die week sy BA-graad in toegepaste sportbestuur met onderskeiding verwerf. Respek, ou grote.

* Aan ouers met talentvolle sportkinders: Weeg ’n geleentheid vir moontlike kortstondige glorie op teenoor ’n geleerdheid vir jou kind se toekoms.

Meer oor:  Serena Williams  |  Marius Schoeman  |  Nick Kyrgios  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.