Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Laat staan liewer dié lawwe reëls
Ja, ons oefen weer. En speel eersdaags. Met nuwe reëls wat nie laf is nie. Die Chiefs was vandeesweek terug op die oefenveld. Foto: Getty Images

Wat is dit aan Nieu-Seeland, daai eilandnasie in die suidwestelike Stille Oseaan, wat hom op die oog af so flink op die voete maak?

Dié vraag het Skuimkop se slaaptrein nou die nag, op ’n stasie tussen Diepdroom en Voëltjiesfluit, laat halt.

Wat maak dat die Kiwi’s struikelblokke wat oor hul pad kom skynbaar vinnig en sonder veel gekerm identifiseer en dan ’n oplossing vind?

Toegegee, dis ’n klein landjie gemeet aan Suid-Afrika. Die noord- en suid-eiland saam beslaan net bietjie meer as twee derdes van die Noord-Kaap se oppervlakte en ’n bevolking van om en by 5 miljoen mense is omtrent ’n twaalfde van ons s’n.

Eersteklas sauvignon blanc en pinot noir, Crowded House, Kiri Te Kanawa, ’n ystervrou in Jacina Ardern as eerste minister, ’n lae misdaadsyfer, geen opspraakwekkende korrupsie op regeringsvlak nie… daar is baie dinge waarop die Kiwi’s hulself kan roem.

Sport natuurlik ook. Gerekende mededingers op die krieketveld en netbalbaan. En wat sy nasionale sport betref, hoef ons net All Blacks te sê. Of Crusaders, Blues, Hurricanes, Highlanders en Chiefs.

Nieu-Seeland was weer eerste uit die blokke toe daar begin praat is oor die hervatting van rugby in die tyd van die koronakrisis.

Die Aotearoa-reeks, ’n mini-Superreeks tussen die vyf Kiwi-spanne, sal op 13 Junie begin. Daarvoor het die regering boonop ’n finansiële hupstoot van R14 miljoen bewillig.

Nuwe reëls gaan in die reeks op die proef gestel word. Weer neem die Kiwi’s die leiding. ’n Rooikaart-reël gaan geld wat bepaal dat ’n speler wat só gestraf word, ná 20 minute deur ’n ander speler vervang mag word.

Die gouepunt-reël sal ook van toepassing wees as wedstryde gelykop eindig. Die eerste span wat in bykomende speeltyd (van tien minute) ’n skepdoel, strafdoel of drie behaal, wen.

Dis logiese oplossings, positiewe veranderings.

Skuimkop hoop nou maar net ons volg nie His Master’s Voice, soos wat dikwels die geval is nie.

Dis te verstane dat daar sekere riglyne neergelê moet word vir ’n veilige hervatting van die sport, maar die absurditeit van die wêreldbeheerliggaam se voorstelle vir reëlveranderings, gaan die verstand te bowe. Geen skrumhervattings, ’n onpraktiese oranjekaart-stelsel vir gevaarlike duikslae, geen bykomende spelers mag by ’n gevormde rolmaalbeweging aansluit nie.

Hoe op dees aarde gaan jy dit toepas?

En selfs belangriker: Hoekom maak jy ’n spel wat reeds ’n klomp verwarrende reëls het, reëls wat dikwels op verskillende maniere vertolk word, nog méér verwarrend?

Soos die oud-skeidsregter André Watson dit gestel het: Dié proefreëls se doelwit is om nabye kontak (tydens die koronakrisis) te verminder. Maar rugby is ’n kontaksport.

Sy kollega, Freek Burger, beaam die siening. As jy kontak wil uitsluit, moet jy raakrugby speel. Dan gaan ons Melkbos of Stilbaai toe om te gaan touchies speel.

* Suid-Afrikaanse rugbyspanne het in die verlede dikwels lesse op die veld by die Kiwi’s gekry. Miskien moet ons nou ook dié lesse oor die reëls ter harte neem.

Die nuwe Nuweland, WP Rugbyunie. Vat nou daai Investec-tjekkie en gaan skep nuwe herinneringe in Groenpunt. Foto: Gallo Images

Liewe land, oor Nuweland?

Die Streeptruie en die Stormers sal aanstaande jaar op hul nuwe tuisveld, die Kaapstad-stadion, uitdraf. Ongeag wat die situasie is met die verkoop van Nuweland aan die bankreus Investec.

Dié transaksie is glo in die weegskaal.

Die gerugte loop die WP Rugbyunie wou heronderhandel oor die aanvanklike koopprys van R110 miljoen wat die bankgroep hom vir Nuweland aangebied het. En toe sê Investec “aikôna, ons tweetjies het op dié bedrag ooreengekom so julle kan maar gaan slaap… dit bly so staan”.

Wel, dis natuurlik nie verbatim wat nie gesê is nie. Regsterme en kontraktaal is sekerlik gebesig en Skuimkop is oortuig die prokureurs aan albei kante vryf nou die rolpuntpenne blink vir die moontlike raadsaalretoriek wat gaan volg.

Feit van die saak is, die WP het nie juis veel van ’n keuse nie. Daardie skuld van nagenoeg R58 miljoen aan die beleggingsmaatskappy Remgro volg hom soos ’n skaduwee. Dis die klippie in sy rugbystewel wat nie gaan weggaan nie.

Mits Nuweland natuurlik verkoop word.

Benewens die R110 miljoen wat die transaksie die WPRU in die sak sou bring, is daar beding vir ’n persentasie van die inkomste uit ’n eiendomsontwikkeling wat Investec op die Nuweland-perseel beplan. ’n Lopende inkomste, dus.

Om nou water te trap omdat hy glo wil heronderhandel oor Nuweland se verkoopprys, gaan nie sy benarde finansiële situasie beredder nie.

Investec is seker in sy noppies dat hy die prima-eiendom vir ’n appel en ’n ei kon optel. Dís maar hoe daar sake bedryf word.

As jy die geskiedenis verbonde aan die stadion en die emosie wat dit ontsluit eenkant laat, is die skuif na Kaapstad-stadion een wat prakties sin maak.

* Soos die Engelsman, sê Skuimkop vandag aan die WP: cut your losses, beweeg aan, gaan begin ’n nuwe hoofstuk op ’n nuwe plek. Sonder skuld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.