Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Lee verdien straf ná SnuitGate

Nico, Nico, Nico ... wat het jou besiel, ou seun? Wat het deur jou kranium gegaan voor dit deur jou olfaktiese bulbus gegaan het? Soveel vrae. Soveel sakdoeke.

Jis tjomma, het jy nie dalk vir my ’n snesie nie? Die snuitende senter Nico Lee (regs) in gesprek met sy Cheetahs-spanmaat William Small-Smith. Foto: Getty Images

Vir die lesers wat nie die agtergrond ken nie, ’n vinnige verwysing.

Die Cheetahs-senter Nico Lee is vir 13 wedstryd-weke geskors omdat hy verlede naweek in ’n Pro14-wedstryd teen die Ierse klubspan Connacht by ’n losgemaal sy neus op ’n teenstander uitgesnuit het.

Dis nie seker of dié neusslym – die enigste erkende alternatief vir snot in Afrikaans – die ongelukkige ontvanger daarvan (die flank Colby Fainga’a) getref het nie.

Feit van die saak is Lee is uitgewys vir die walglike daad. En swáár gestraf.

Hy sal eers weer ná 21 Julie kan rugby speel. Dit is dus ... wel, neusie verby vir sy deelname aan die res van die Pro14-reeks.

Spelers vang soms snaakse goed aan in die hitte van ’n stryd.

’n Verdwaalde vuishoutjie hier, ’n versteekte hark met die stewels daar. Daar is vuil-uile wat ’n ou in die losgemaal aan die knaters beetkry. En natuurlik die byters.

Gits, ons eie Bok-stut Johan le Roux het in ’n Wellington-toets in 1994 ’n smaak vir die All Black-haker en -kaptein, Sean Fitzpatrick, se blomkool-oor ontwikkel. Hy is vir 18 maande geskors.

Nico het agterna berou getoon. Hy het in ’n video-opname aan almal (veral sy werkgewer) om verskoning gevra. Ook vir Fainga’a gebel om jammer te sê.

Ook geen appèl teen die straf nie, want die kanse is goed die tugkomitee keer terug na die aanvanklike beslissing: ’n Skorsing van 26 wedstrydweke. Die senter se skoon rekord vóór SnuitGate het sy bas gered.

Skuimkop stem saam met die skorsing. As die woede soos ’n rooi mis oor ’n speler sak en hy teiken ’n teenstander met ’n skouerloop, stywe arm, boorvat, vuishou, trap of kopstamp, is dié wandade – ongeag hoe aanstootlik – ten minste in lyn met die fisieke aard van die spel.

* Om iemand te byt, te spoeg of jou neusslym op hom uit te snuit, is agterlik. Of soos die Engelsman sou sê: “s’not on, man”.

Vat vlam, Fleckie

Wat kan Skuimkop sê van sy geliefde Stormers wat nog nie gesê is nie?

Wat moet ek nóg doen, Jean, wát, vra die Stormers-breier aan die voormalige Stormers-senter Jean de Villiers. Jy moet wen, Robbie, dis wat, antwoord Jean. Foto: Getty Images

Die afgelope week in die media, ná die debakel op Loftus, het woorde soos “verpletter”, “verneder”, “vermorsel” en “verinneweer” die span soos ’n skaduwee gevolg.

Saterdag wag die Leeus. Darem op Nuweland, wat ’n skrale troos is. En Eben Etzebeth en Frans Malherbe is op die bank. Nog ’n skrale troos.

Volgens Robbie Fleck, die Stormers se breier (dink Skuimkop, want gegewe die binne-politiek niemand is meer seker nie) is die Leeus die “beste span in Suid-Afrika”.

Ironies dat die besoekers se kaptein, Warren Whiteley, juis die week gesê het as hy so na die name in die Stormers-kamp kyk, is die Kaapse franchise “waarskynlik die beste groep van al die Suid-Afrikaanse spanne”.

* Genoeg heuningkwas-praatjies. Daad by die woord, Rob. Jou span skuld ondersteuners ’n veel beter vertoning as daardie lustelose Loftus-loesing. Wys ons Warren praat die waarheid.

Want indien nie ...

Die nuus dat die Stormers ’n vennootskap met die maatskappy Zeelo aangegaan het, is verblydend, maar in dieselfde asem effens kommerwekkend.

Die Zeelo-busdiens is eersdaags vir Stormers-ondersteuners beskikbaar. Dit kan werk, mits die span natuurlik ’n slag rugby speel wat ’n mens wil gade slaan. Foto: Verskaf

Zeelo adverteer homself as ’n “The Flexible Shuttle Service” en bied “bekostigbare en moeitelose” vervoer vanaf spesifieke optelpunte in die Kaapstad-metro tot binne loopafstand van Nuweland-stadion. Basies ’n Uber-busdiens vir Stormers-ondersteuners. Teen R100 vir ’n retoerrit. Skaflik dus.

Jy hoef voortaan nie vir parkeerplek in die chaos te soek nie. Jy hoef boonop ook nie meer daardie vaal verlangse vriend (as aangewese bestuurder) saam te nooi net omdat hy net Coke Zero drink nie.

Zeelo is reeds in vennootskap met Krieket Suid-Afrika en Big Concerts en internasionaal bedien hy die sokkerklubs Manchester City en Tottenham Hotspurs en die Walliese Rugbyunie.

Die vervoerdiens maak gebruik van ’n “unieke algoritme” om te bepaal van waar ondersteuners na Nuweland gaan reis en vind dan die beste optelpunt en roete na die stadion. Dié optelpunte by die Tygervallei-, Canal Walk-, Promenade- (Mitchells Plain) en Vangate-winkelsentrum (Athlone) gesetel.

* Als goed en gaaf, sê Skuimkop. Maar as die Stormers voortploeter soos laas naweek, gaan Zeelo baie vinning zero versoeke ontvang vir retoerritte na Nuweland.

Meer oor:  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.