Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Los ou koeie liefs in die sloot
Tubby McLard sê David Warner behoorlik sleg tydens ’n toets tussen Engeland en Australië. Vat so, David. Tubby het jou sleg gesê. En toe slaan jy ’n honderdtal. Foto: Getty Images

Daar is ’n grysgebied tussen vergewe en vergeet. Die vraag is net op watter een Suid-Afrika se krieketondersteuners gaan fokus soos die T20-reeks en die daaropvolgende drie eendagwedstryde teen Australië vorder.

Skuimkop hoop tog toeskouers gedra hulle as menere David Warner en Steve Smith ter plaatse hul verskyning op die veld maak.

Ons het mos ’n geskiedenis met die twee balpeuteraars sedert die skuurpapierskandaal van 2018 tydens die toets teen die Proteas op Nuweland.

Dié het natuurlik op openbare krokodiltrane (en gevolglike skorsings vir ’n jaar lank) vir die twee supersterre uitgeloop.

In die oë van baie ondersteuners is Warner, Smith en Cameron Bancroft vergewe vir die skelmstreke. Hulle het immers geboet vir die laakbare daad.

Maar is dit moontlik om van die voorval te vergeet?

’n Omstredenheid op dié skaal sal die drie soos ’n skaduwee volg, vir die res van hul loopbaan.

Soos dit Greg Chappell, die Aussie-kaptein in 1981, gevolg het.

Hy het mos aan sy jonger broer Trevor opdrag gegee om die laaste bal van ’n eendagwedstryd teen Nieu-Seeland ’n onderarm-aflewering af te stuur. Dít was om te verhoed dat die Kiwi Brian McKechnie ’n ses kon moker om die sege te beklink.

Die aflewering was nie onwettig nie en nie naastenby so skandalig soos om die bal met skuurpapier by te kom nie. Maar dit was onsportief. Nie in die gees van die spel nie. En tot vandag toe word die Chappells hiervoor onthou.

Warner en Smith is nou die eerste keer terug in Suid-Afrika ná daardie daad wat hul lewe totaal omvergewerp het.

Sedert hul terugkeer ná die skorsing, was die twee so goed soos altyd met die kolf. Selfs beter. Maar elke keer – veral in wegwedstryde, veral teen Engeland – het hulle onder uitjouers deurgeloop.

Koggelaars wat deur die bank nie eintlik enige belang gehad het in die toets tussen Suid-Afrika en die Aussies in 2018 nie.

Protea-ondersteuners, wat wél gebelg kon voel oor die skuurpapierskandaal, het nou die geleentheid om te wys hulle begryp die konsep van vergewe én vergeet.

Ja, die skuldiges het destyds erg deurgeloop. Die wraaksoekers het hul wraak gekry. Dié wat hulle wou verlekker in ander se smart, het schadenfreude eerstehands beleef.

* Maar dis nie betaamlik om aan te karring oor misdrywe uit die verlede nie. Vernaam nie as die misdrywers reeds geboet het nie. So, los tog maar die ou koeie in die sloot.

Quinton de Kock laat sy kolf die praatwerk doen, soos dit hoort. Foto: Gallo Images

Vat hom, Faffie

Met Quinton de Kock wat nou as Protea-krieketkaptein aangestel is, hoop ’n mens dat Faf du Plessis weer sy kolfpeil herwin, synde die druk van leiding neem nou van sy skouers is.

Dié pla op die oog af nie vir Quinnie nie. Dalk is hy nie so fynbesnaard soos Faf nie? Dalk dink hy nie te veel nie, hy doen eerder. Een ding is seker, hy is ’n uiters mededingende individu, wat nog minder as sy voormalige kaptein van verloor hou.

Dis sy redding. Of die sleutel tot sukses.

Maar weet vir seker: selfs ’n meer “gematigde” Aussie-span, wat glo hul aan- en opmerkings teenoor teenstanders in die hitte van die stryd “getemper” het (volgens Justin Langer, die afrigter), gaan daarop uit wees om onder dié vuurvreter-paaltjiewagter se vel in te kruip.

* As kaptein moet hy maar op sy tong byt en hom doof hou voor die paaltjies. Lei met voorbeeld Quinnie. Laat jou kólf die praatwerk doen.

Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, kon nie die geleentheid laat verbyglip om ’n selfie saam met Lewis Hamilton te neem nie. Foto: Twitter | SiyaKolisi_Bear

Hoe legendaries!

Skuimkop moes nou die dag twee keer kyk toe hy lees die Formule Een-renkampioen Lewis Hamilton het by die Laureus-prysuitdeling in Berlyn gesê dis ’n “groot eer om die legendariese Springbokke” te kon ontmoet.

Hamilton is saam met die Argentynse sokkerster Lionel Messi as Laureus se Wêreldsportman van die Jaar aangewys.

Die Springbokke is as die Sportspan van Jaar gekroon.

Kyk, ons is almal trots op die Bokke, ons Rugbykampioenskap-kampioene, ons Wêreldbeker-kampioene. Maar so lief soos ’n mens die Groen-en-goud het, moet Hamilton se opmerking tog met ’n knippie sout geneem word.

Met ses F1-krone in sy vertoonkas (een agter die maestro Michael Schumacher) en 84 Grand Prix-oorwinnings op sy kerfstok ná 88 voorste wegspringplekke, is daar net een legendariese sportman ter sprake.

Dis natuurlik baie gaaf van die Brit om na die Bokke as legendaries te verwys.

Maar Skuimkop is seker hy het nie gevra vir ’n selfie saam met Siya of ’n foto van hom en Faf nie.

* Inteendeel, as ’n mens so na Twitter kyk, is dit duidelik wie tou gestaan het om saam met Lewis afgeneem te word!

Meer oor:  David Warner  |  Lewis Hamilton  |  Laureus  |  Quinton De Kock  |  Springbokke  |  Steve Smith  |  Proteas  |  Australië  |  Faf Du Plessis  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.