Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Lot van rugby se nr. 31
Gaan kyk self, dit staan so in die reëlboek! Rasta Rasivhenge het onder kwaai kritiek deurgeloop vir sy strafskoptelling teen die Highlanders. Foto: Getty Images

Dit is sekerlik die ondankbaarste werk denkbaar, om die 31ste persoon op die rugbyveld te wees.

Maak nie saak hoe edel die bedoelings en hoe streng volgens die reëlboek nie, iewers gaan die skeidsregter iemand briesend kwaad maak.

Spelers in die hitte van die stryd verwoord gewoonlik hul misnoeë met ’n twyfelagtige beslissing as die kaptein beleefd om ’n verduideliking vra. Soms word die kop verbaas geskud, die arms beteuterd in die lug gegooi.

Ondersteuners? Wel, wat op paviljoene en voor TV-stelle oor die wêreld heen oor skeidsregters kwytgeraak word, kan selfs in sy mees afgewaterde vorm nie in ’n gesinspublikasie soos dié herhaal word nie.

Die fluitjiedraer is dikwels die mees gehate ou op die veld omdat sy beslissings op die oog af die een span bevoordeel, en derhalwe die ander span benadeel.

Maar in die beroepsera, waar miljoene rande aan uitsaairegte en net soveel van adverteerders en borge ter sprake is, kan Skuimkop beswaarlik glo dat skeidsregters met opset eenoog (kortom: skelm) sal wees. Gewoon swak ja, of nie konsekwent nie. Maar skelm? Nee wat.

Daarom was dit verrassend toe Steve Hansen, All Black-afrigter, kort gelede op ’n nuuskonferensie gevra het hoekom Suid-Afrikaanse skeidsregters die Leeus in vanjaar se Superrugby-reeks só min op Ellispark straf. Die beskuldiging in sy vraag kon beswaarlik geïgnoreer word.

Dit volg nadat Aaron Mauger, die Highlanders se afrigter, die plaaslike blaser Rasta Rasivhenge skerp gekritiseer het omdat sy strafskoptelling 12-3 in die Leeus se guns was in die Superrugbystryd wat die tuisspan op Ellispark met 38-29 gewen het.

Die Leeus het in hul laaste drie kragmetings met oorsese teenstanders – met SA blasers aan die spits – net ses strafskoppe afgestaan, terwyl die besoekers aan Ellispark saam 43 keer gestraf is. Ja, dis statistieke wat kommer wek.

* Maar dis steeds verregaande om te suggereer dat SA blasers met voorbedagte rade “vir” plaaslike spanne blaas en “teen” besoekers.

Dis naar, Sanzaar

Dit wil voorkom of Sanzaar, rugby se beheerliggaam in die Suidelike Halfrond, twee stelle reëls toepas as dit kom by dissiplinêre optrede teen diegene wat klaarblyklik op sy gedragskode tjorts.

Ek lag, want ek maak nie ’n moordkuil van my hart nie. Die Bulle-haker Schalk Brits het hom nie deur Sanzaar laat boelie nie. Foto: Getty Images

Die Bulle-haker Schalk Brits was nou onlangs in ’n dispuut met die rugbybase nadat hy en die Haaie se Akker van der Merwe in ’n Superrugbystryd bietjie bôlle gerol het. Akker is vir drie weke geskors. Schalk sommer vir vyf – glo oor sy vorige oortredings (wat ses jaar gelede gebeur het).

Die Bul het gemor hieroor. En met reg ook. Probleem is net, hy het nie die griewe vir homself gehou nie.

Skielik was hy weer in Sanzaar se visier nadat hy die prosedures wat gevolg is (met sy skorsing in Maart) op ’n nuuskonferensie gekritiseer het. Hy is gedreig met verdere aksie en ’n boete van tot R100 000 as hy nie please-explain nie.

Brits het op eie onkoste ’n prokureur gekry en dié se skriftelike voorlegging van 20 bladsye het Sanzaar oortuig om nie die speler verder te vervolg nie. Einde van die storie.

* Nou wonder Skuimkop waarom Sanzaar dan nie vir Mauger, die Highlanders-afrigter, voor stok gekry het toe hy op ’n nuuskonferensie ’n beampte openlik gekritiseer het nie. Of geld ’n ander gedragskode vir afrigters?

Waar is julle maniere?

’n Mens wil nou nie te gou praat nie, maar dit wil vir Skuimkop voorkom of ons rugbyoutjies hulself oor die algemeen goed gedra as hulle op toer oorsee is.

Richie Mo’unga, die Crusaders se losskakel, bobaas bierspoeger en bewese boudknyper. Foto: Getty Images

Dis bitter selde dat nuus uitlek oor ’n laatnag se gefuif in ’n kroeg iewers, wat uitloop op ’n onderonsie met die plaaslike bevolking, ’n vuisgeveg selfs, die beskadiging van eiendom en dies meer.

Dieselfde kan nie van Australasië se spelers gesê word wat hier by ons kom toer nie.

Sommer vier Crusaders, in twee verskillende voorvalle, sit weer in die stoute hoekie terwyl ’n onafhanklike ondersoeker nou hul onnutsige spoortjies in Kaapstad moet gaan naspeur.

Die All Black-losskakel Richie Mo’unga word daarvan beskuldig dat hy in ’n Kaapse kuierplek bier op ’n groep vroue gespoeg en een aan die boud geknyp het.

’n Week later het drie van sy spanmaats, onder hulle die All Black-vleuel George Bridge, glo ’n groep gay mans by ’n kitskos-eetplek in Langstraat onder meer met slapgewrig-gebare en hoë stemtone gespot.

* As beroepspelers is dissipline op en van die veld ’n vereiste. Die ouens is dikwels die teiken van hekelaars en moeilikheidsoekers, maar kinderagtige optrede soos dié is eenvoudig onverskoonbaar.

Meer oor:  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.