Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Mag baardbek Kane die trofee lig
Sterkte, Eoin Morgan. Mag die beste span wen. Solank dit ons is, sê Kane Williamson aan sy Engelse eweknie.Foto: Getty Images

Sondag word ’n nuwe eendag-krieketkampioen in Engeland gekroon wanneer die tuisspan en Nieu-Seeland in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi swaarde kruis.

Skuimkop het so half besluit wie om te ondersteun. Albei spanne verdien eintlik om die kroon te dra, gegewe hul puik vertonings in die skouspel.

Maar as ’n mens die nagevolge van die onafwendbare uiteinde opweeg, is dit ’n pynlike scenario, ongeag wie wen.

As dit nou Indië en Australië in die eindstryd was, sou die keuse veel makliker gewees het. Dan was die span van die sub-kontinent die een op wie Skuimkop sy geld sou verwed.

’n Oorwinning vir Indië sou beteken die Proteas kon in September en Oktober die nuwe wêreldkampioen in sy agterplaas gaan aandurf en gaan regstel wat in Engeland so drasties ontspoor het. Ons pak die tuisspan in twee T20-wedstryde, drie toetse en drie eendagstryde.

Maar helaas, die Aussies as meermalige wenner en verdedigende kampioen, en die Indiërs as waarskynlik die naasgunsteling voor die begin van die WB-toernooi, kyk die eindstryd saam met ons op TV.

Dit laat ons met die Kiwi’s en die Bleekbene. Moeilik om te sê watter een die minste van twee kwade is.

Dit laat ons met die Kiwi’s en die Bleekbene. Moeilik om te sê watter een die minste van twee kwade is.

As ’n mens die massie-histerie onder tuis-ondersteuners en trompetgeskal in die Engelse media kan glo, is alle aanduidings dat die trofee Sondagmiddag op Lord’s aan Eoin Joseph Gerard Morgan oorhandig sal word.

Sedert die toernooi se ontstaan in 1975 het die land drie keer die eindstryd gehaal, maar loesings teen die Wes-Indiese Eilande (1979), Australië (1987) en Pakistan (1992) op die lyf geloop. Vanjaar se span lyk eenvoudig onstuitbaar.

Dus sal ons vir die volgende vier jaar op gereelde grondslag en met eentonige reëlmaat aan die feit herinner word dat Engeland die heersende wêreldkampioen is. O, watter vreugdevolle vooruitsig!

’n Oorwinning vir die Swartpette sal ’n groot verrassing wees. ’n Opskudding selfs.

Die positiewe is dit sal genadiglik die Engelse euforie in die kiem smoor. Die nagatiewe is dat dit vir ons vorentoe in ’n potensiële struikelblok kan skep.

Béter aansporing sal die All Blacks nie kry vir later vanjaar se WB-rugbytoernooi in Japan nie. Die krieketboeties het gewys hoe, nou gaan die rugbyboeties bykomende inspirasie hê om die dubbel in 2019 te behaal.

* Hopelik is dit nie Sondag eenrigtingverkeer nie. En so erg soos dit is om te sê, hoop Skuimkop daai vriendelike baardbek Kane Williamson lig die trofee.

Gee my 5 weke... nee, 5 maande... OK, 5 jaar dan is Bafana ’n wenspan, vra Stuart Baxter.Foto: Getty Images

Maak vir ons wyd oop...

Om na ’n sokkerwedstryd van Bafana Banfana te kyk, is soos ’n besoek aan die tandarts. Dis nie iets wat ’n mens sommer vir spek en boontjies doen nie.

Daar is ’n mate van spanning betrokke, die uiteinde van die ondervinding kan nie met sekerheid bepaal word voor jy nie in die stoel gaan sit het nie.

Ons hoop vir “geen probleem, als lyk piekfyn, meneer” eerder as “gits, lyk vir my ons sal wortelkanaal-behandeling hier nodig hê”.

Ons hoop vir “geen probleem, als lyk piekfyn, meneer” eerder as “gits, lyk vir my ons sal wortelkanaal-behandeling hier nodig hê".

Die afgelope Afrikabeker-toernooi het dit weer onderstreep. ’n Skitterwit-vertoning teen die gasheer, Egipte, is opgevolg met die skril klank van die tandartsartsboor in die kwarteindronde teen Nigerië.

Stuart Baxter (afrigter) behou ná dese sy pos. Sy uitspraak ná die loesing was insiggewend.

Ons het groot planne vir die ontwikkeling van die spel in die land, het die breier gesê, maar die toepassing daarvan moet beter wees. Strategieë moet deur álmal ondersteun word.

Sy uitlating klink al te veel na ’n dwarsklap vir Safa, die plaaslike beheerliggaam.

* Hulle sê mos hoeka ’n vis vrot van die kop af.

Hy het vir geen derduiwel op en van die rugbyveld geskrik nie. James Small maak gereed om die All Black-reus Jonah Lomu neer te vel.Foto: Getty Images

Té vroeg, té jonk

Skuimkop bring kortliks hulde aan James Small, daardie begaafde, hardekwas Springbok, wat vandeesweek skielik in die ouderdom van 50 oorlede is.

Wat ’n gevoelige slag. Wat ’n hartseerdag.

James was een van die opwindendste spelers wat nog ooit die Groen-en-Goud oor sy kop getrek het. Op die veld was hy kliphard, vreesloos, uiters talentvol. ’n Mededinger sonder weerga.

Op die veld was hy kliphard, vreesloos, uiters talentvol. ’n Mededinger sonder weerga.

Weg van die veld ’n individualis, onortodoks, ’n jukskeibreker. Dikwels met die een voet links van die grys gebied waar moeilikheidmaker en vredebewaker mekaar ontmoet.

Nou is hy helaas weg. Te vroeg, te jonk.

Die rugbywêreld is armer sonder spelers – persóónlikhede – soos hy.

* Ons sal jou vir altyd mis, James. Maar ons sal jou vir ewig onthou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.