Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Marler die varkie verdien sy straf
Joe Marler het ’n baie letterlike vertolking van die ou rugbygesegde “speel die bal, nie die man nie” ter harte geneem. Foto: Getty Images

Rugby het maar sy kwota (bedoel in die streng kollektiewe sin van dié woord) vuil-uile.

Daar is altyd iemand wat ’n ou steekhoutjie in die losskrum probeer inkry, met ’n steweltjie ’n teenstander se ribbekas hark, ’n verdediger vashou wat die lakwerk wil doen, die ranker in ’n lynstaan verhinder om behoorlik te spring.

In die meerderheid van die gevalle doen die vuil-uile natuurlik hul onderduimse dade daar waar die skeidsregter of sy assistente dit nie met die blote oog kan sien nie.

Die doel is uit die aard van die saak om die teenstander te ontstig, sy aandag af te lei en hom te verhoed om sy werk behoorlik te doen.

Dit kan nie goedgepraat word nie, maar ons is darem ook nie naïef nie. Dis deel van die spel en dit word weerskante toe uitgedeel. Die ongeskrewe reël is as jy skelm/uitgeslape genoeg is om daarmee weg te kom, is dit aanvaarbaar. Irriterend ja, maar aanvaarbaar.

Jy kry natuurlik die varkies ook. Hulle is in ’n heel ander klas as die vuil-uile. Dis die ouens wat ’n teenstander wurg, ’n vinger in sy oog druk, sy oor byt.

Die Engelse stut Joe Marler is in die varkieklas. Trouens, hy is die klaskaptein.

Die dikwels omstrede botterbulletjie is vandeesweek vir tien weke geskors nadat hy in ’n Sesnasies-toets Wallis se kaptein, Alun Wyn Jones, dáár gegryp het waar net sy vrou en soms sy huisdokter grypreg het. Op die plek waar die son nie skyn nie, tensy jy Beau Brummell se nudiste-oord in Mpumalanga of Sandybaai in die Wes-Kaap besoek.

Marler beweer dit was als net ’n grappie. Die tugkomitee en Wyn Jones het dit egter nie amusant gevind nie.

Trouens, die meeste kenners wat op die voorval kommentaar gelewer het, was ook nie vol laggies nie. Clive Woodward, voormalige Engeland-breier, het selfs gesê Marler is ’n “verleentheid vir die span, die trui en die land”.

Skuimkop stem. Die stut se domonnosel daad is skandelik. Vuil-uilstreke op die rugbyveld is een ding, maar varkiegedrag is onaanvaarbaar.

* Marler het dalk gedink hy is baie snaaks. Maar nou sit hy met die gebakte pere.

Wie is wie? Sanzaar het toegelaat dat dié verwarrende truifiasko hom verlede naweek op Loftus afgespeel het. Foto: Gallo Images

Truitjie-roer-my-nie

Wat ’n fiasko was verlede naweek se Superrugbystryd tussen die Bulle en die Hurricanes op Loftus nie.

Dertig spelers in bykans identiese rugbytruie. G’n wonder die Bulle sukkel so vanjaar nie. Dis daai blou trui, reken Skuimkop.

Toe die tuisspan na die rustyd in geel en wit truie na die veld terugkeer, het dit ewe skielik beter begin gaan. Die Bulle het gevolglik hul eerste sege in vanjaar se reeks beklink.

Nou wonder ’n mens hoe de duiwel gebeur dit dat truie so identies is dat van die Bul-spelers na die eerste helfte gesê hulle sukkel om hul spanmaats van die teenstanders te onderskei?

Dis als te wyte aan Sanzaar se slimkoppe en ’n stelletjie kleurkaarte.

Dié kleurkaarte het die truie verteenwoordig en is voor die wedstryd deur Sanzaar-beamptes met mekaar vergelyk. Hulle was tevrede dat die kleurverskil groot genoeg is om nie verwarring te veroorsaak nie.

Die vyf Nieu-Seelandse franchises speel vanjaar in wegtruie wat deel is van Adidas se Prime Blue-reeks. Dit word gedeeltelik gemaak uit plastiek wat versamel word voordat dit in die see beland. ’n Goeie omgewingsdaad, dus.

Probleem is net, met dié unieke metode van vervaardiging word die kleurpalet beperk tot skakerings van wit, blou, groen en grys. Nie juis baie opsies nie, met ander woorde.

’n Mens sou dink dat Sanzaar voor die begin van ’n Superseisoen eers al die spanne se tuis- en wegtruie onder oë kry, nie vergelykings op kleurkaarte tref nie, soos wat jy doen as jy verf koop.

* Bloedrooi is die kleur wat Sanzaar behoort te bloos weens die truifiasko.

Gaan ons Caster Semenya oor ’n paar maande by die Spele in Tokio so sien pronk met die Suid-Afrikaanse vlag na haar skoksege in die 200? Foto: Gallo Images

600 meter minder

In ’n verrassende wending kondig ons Olimpiese kampioen in die 800 m, Caster Semenya, aan dat sy voortaan op die 200 m gaan fokus in ’n poging om te kwalifiseer om vanjaar by die Spele in Tokio deel te neem.

Mits die sportskouspel natuurlik voortgaan in die teenwoordigheid van die Covid-19-viruskrisis.

Skuimkop weet genoeg van atletiek om te weet dat jy nie sommer so ’n groot sprong na ’n nuwe item maak en dan kan verwag om binne ’n paar maande mededingend te wees nie. Nie op internasionale vlak nie.

Veral nie as jou beste tyd 23.81 is nie, meer as ’n sekonde stadiger as die standaard vir Olimpiese kwalifisering (22.80). Veral nie as wentye in die 200 rondom 21.78 en 21.80 is nie.

Maar dis al uitweg wat Caster het, synde Wêreldatletiek se verbod op vroueatlete met bonatuurlike testosteroonvlakke om aan die 400, 800, 1 500 en myl deel te neem, mits hulle medisyne gebruik om die vlakke te verlaag.

’n Styl bult wag dus op Caster. Maar aan aansporing gaan sy nie ’n tekort hê nie. Sy het ’n punt om te bewys.

* Sal dit nie wonderlik wees as sy nogmaals, ondanks al die teëspoed, die onmoontlike vermag nie?

Meer oor:  Superrugby  |  Skuimkop  |  Caster Semenya  |  Joe Marler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.