Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Moenie altyd statistieke glo

Wat bepaal of ’n afrigter suksesvol is?

Baie eenvoudige antwoord op dié vraag, sou sommige mense dink. Hoe meer jou span wen, hoe meer sukses behaal jy.

Ou Steve Hansen van die All Blacks kan dus op grond van dié argument en gegewe die span se wenpersentasie as ’n suksesvolle afrigter beskou word.

O, my kop! Rassie Erasmus het ’n paar hoofpyne ná sy eerste seisoen aan die stuur van die nasionale rugbyspan. Foto: Gallo Images

Maar, o wee, in sommige Nieu-Seelandse rugbykringe word 2018 as ’n teleurstellende jaar vir die Kiwi’s beskou. Die span het immers twee van sy 14 toetse verloor (teen Suid-Afrika en Ierland). Skokkend!

Nou waar laat dit ons eie Rassie Erasmus, nou dat ons weet hy handhaaf ná sy eerste klompie maande aan die Springbok-stuur ’n wenpersentasie van net 50%?

Onsuksesvol, is die eerste reaksie. Hy het nie geslaag as afrigter nie, ondanks ’n sege oor die wêreld se nr. 1-span, boonop in ’n wegwedstryd.

Dis nou hier waar Skuimkop sê soms moet ’n mens jou nie blind staar teen die syfers nie. Soos die voormalige Britse premier Benjamin Disraeli op ’n keer kwytgeraak het: “Daar is drie tipes leuens: leuens, vervlakste leuens en statistieke”.

Vir Rassie om sukses te behaal, moet hy aan ’n unieke stel vereistes voldoen. Seges bly uit die aard van die saak ’n prioriteit. Maar hy moet ook op transformasievlak aan die wenkant wees, letterlik die enigste rugbyafrigter ter wêreld wat hierdie swaard oor sy kop het.

Die voormalige Wêreldbeker-Bok Brendan Venter sê dis als goed en wel, die uitdagings. Maar as ’n mens Rassie van nou met Allister Coetzee van 2017 vergelyk, is Toetie meer suksesvol. Hy het verlede jaar ’n beter wenpersentasie (54%) gehandhaaf en sy transformasiekoers van 40% is beter as Rassie se 38%.

Gegewe die syfers, sê dok Venter, het die Bokke versuim om vooruitgang onder Erasmus te toon. Die sege oor die All Blacks het net “oor die krake geverf”. Die Bokke was vanjaar swakker.

Skuimkop glo egter Rassie se hart is op die regte plek. Sy transformasieplan in Bok-geledere is nie “window-dressing” nie. Hy wil nie net “kwotas vol maak” om sy eie bas te beskerm nie. Hy ontwikkel spelers (selfs met beperkte blootstelling, soos met Embrose Papier en Damian Willemse die geval was) in wie hy ’n blink Bok-toekoms sien.

En met ’n power beslissing hier (soos teen Engeland) en ’n breinfloute daar (soos in die tweede toets teen die All Blacks), kon die Bokke se wenpersentasie ook veel beter gelyk het as wat die statistieke wys.

* Ons moet Rassie ondersteun. Ons moet glo hy doen als in sy vermoë om aan twee fronte sukses te behaal. Ons moet hom kans gee tot ná die 2019 Wêreldbeker-toernooi.

Die denker. Victor Matfield, onervare op senior vlak, gaan in die nuwe Superrugby-seisoen die Bulle buite die speelveld moet lei. Foto: Gallo Images

Van breiers gepraat

Dit blyk nou ’n uitgemaakte saak dat die voormalige Bok-slot Victor Matfield die Bulle se nuwe Superrugby-afrigter gaan word.

Gegewe die gros talentvolle spelers waaroor die unie beskik en die koms van ’n paar ysters, soos Duane Vermeulen, wat in die nuwe seisoen in Pretoria ’n tuiste gaan vind, is daar groot verwagtinge van die span.

John Mitchell het gekom en gegaan en van die verwagte sukses wat hy Loftus toe sou bring, het dadels gekom. Nou moet die nuwe (hemel)besem inkom en skoon vee.

Die vraag is net, hoe wys is dit om iemand op Supervlak (of énige senior vlak, dan) aan te stel as hy nog nie daar afgerig het nie?

Die Bulle moet nou herbou met ’n breier wat nog moet leer. Dit klink na ’n resep vir mislukking.

Daar is baie ondersteuning vir Matfield in die warm stoel. Uit die aard van die saak is hy een van Pretoria se gunstelingseuns. Maar dis een ding om op die veld uit te blink en ’n heel ander ding om ’n peloton beroepspelers in ’n wenkombinasie op die hoogste vlak te omskep.

Daar is verskeie voorbeelde van oudspelers wat dit nie as senior afrigters gemaak het nie. Ondervinding op die veld, beteken nie ondervinding in die afrigter-losie nie.

Skuimkop was nog altyd ’n groot Matfield-ondersteuner. Hy het die spel hard gespeel, hy is onwrikbaar lojaal teenoor die trui wat hy dra, hy is ’n spanman sonder weerga.

* In sy nuwe rol as afrigter, sal al die emosies van óp die veld wees, van die Bulle-trui drá, eenkant toe geskuif moet word. Dit gaan ’n massiewe uitdaging wees.

Meer oor:  Bokke  |  Victor Matfield  |  Rassie Erasmus  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.