Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Fout so groot soos dok Eugenia se ego

Hoe op dees aarde kry Krieket Suid-Afrika dit reg om keer op keer te beland in die pad van die figuurlike opslagbal wat met ’n dowwe plofgeluid die kopskerm tref om nog ’n bestuurslid neer te vel?

Eugenia Kula-Ameyaw het soveel finesse as gebruiker van sosiale media, ’n mens sou sweer sy was ’n student aan die Helen Zille-skool vir Twittertrolle. Foto: Backpagepix

Van Thabang Moroe, onteerde voormalige uitvoerende hoof, het ons die afgelope paar maande reeds genoeg gehoor. Sy afdanking weens “ernstige dade van wanbestuur” is verseël, ofskoon hy nou arbitrasiehof toe wil neuk vir ’n interdik om sy aflegging tersyde te stel of nie. Good luck en goodbye, meneer.

Dan het ons die waarnemende uitvoerende hoof, Kugandrie Govender. Sy wat op rekord gesê het die beheerliggaam sal voortaan “slegs swart konsultante” betrek “totdat transformasiesyfers begin optel”.

Dié stelling het KSA ’n ongemaklike eierdans laat doen nadat die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) hom in ’n brief by die Internasionale Krieketraad (IKR) verkla het.

Die jongste slagoffer van ’n raadsaal-wipbal is doktor Eugenia Kula-Ameyaw, ’n onafhanklike raadslid van KSA. Sy gaan deur die beheerliggaam se etiekkomitee ondersoek word nadat sy Momentum op sosiale media gekritiseer het omdat dié finansiëledienstemaatskappy sy borgskap van eendagkrieket in 2021 gaan staak.

Die rede vir dié besluit was voor die hand liggend.

Momentum soek, volgens sy amptelike verklaring, bloot ’n beheerliggaam wat “professioneel en eties bedryf word” en een wat “alle belanghebbendes in ons spel in ag neem”. Hy het gesoek. Maar nie gevind nie. Totsiens, borgskap.

Dit het die goeie doktor genoop om op Twitter ’n beswaarlik bedekte dreigement soos ’n flatus te passeer. Momentum moet net onthou “ons het honderdmiljoene in hom belê deur ons staatsbeheerde ondernemings en pensioenfondse”.

Sy het ook geskimp die maatskappy moet weer gaan kyk na sy BBBEE-sertifikaat voordat hy “irrasionele besluite” neem.

Bid jou dit aan! Wat ’n eiegeregtige pot stomende stronsium.

Die beheerliggaam het tans geen beheer nie. Dis so erg dat spelers op nasionale vlak ’n amptelike pleidooi gelewer het dat hy sy huis in orde moet kry.

En as KSA dink hy kan die probleme onder die mat invee of soos ’n volstruis met die kop in die sand daarvan vergeet, begaan hy ’n fout so groot soos dok Eugenia se ego.

Hy moet bloot gaan kyk na die reaksie van krieketliefhebbers in die glystroom van die voortslepende skandale. Krieket verloor by die dag ondersteuners wat hul smaak verloor het vir die onsmaaklikhede op bestuursvlak.

En dis jammer, want in die woorde van die Protea-draaier Tabraiz Shamzi. is daar ’n “groot onderskeid tussen die Proteas as span en KSA as organisasie”.

Die spél ly skade, die spél verloor borge en uitsaaiers en ondersteuners en die spél verloor sy geloofwaardigheid.

Maar dis die rakkers in die raadsaal wat die dinges in die drinkwater is.

Ek het gesê ek het vyf maande nodig, nie vyf weke nie. Jacques Nienaber verduidelik aan Mark Alexander hy gaan basies onder die All Black-bus ingegooi word as die Springbokke in die Rugbykampioenskap speel. Foto: Gallo Images

Geen speletjies

Die Springbokke was in terme van wedstrydfiksheid waarskynlik laas in 1995, kort voor die Wêreldbeker-toernooi, so onvoorbereid vir toetsrugby soos hulle tans is.

Voor daardie toernooi was daar nie Curriebeker-rugby nie en het die Bokke ses weke voordat die WB afgeskop het, net in ’n enkele opwarmingstoets teen Samoa gespeel.

Maar daai jaar was Suid-Afrika ’n jong demokrasie, daar was sprake van ’n Reënboognasie, daar was Nelson Mandela, Black Lives het toe nog ge-Matter, korrupsie se nouveau riche was slegs ’n fetus in die baarmoeder van die staat, misdaad bloot ’n hersenskim.

Nasietrots en ’n gevoel van eensgesindheid het die Bokke gedra en hul uitdagings op die toetsveld laat oorkom.

Nou? Net die allesoorheersende koronavirus-pandemie. En enkele van die bogenoemde kwessies wat sterk staan.

As jy vir Jacques Nienaber, Bok-breier, streng off the record sou vra wat sy gevoel is oor toetsrugby vanjaar, sal hy waarskynlik sê “nee dankie”.

Wie wil in sy skoene staan? As jy voor jou siel weet jy het nie genoeg tyd om jou spelers fiks te kry vir toetsrugby teen die All Blacks en Wallabies nie. As jy voor jou siel weet jy gaan boonop sonder vier, vyf beseerde sterre oor die weg moet kom. Jy gaan in wegtoetse speel. Teen nasionale spanne gekies ná ’n volwaardige Superreeks.

Vra jy dieselfde vraag vir Ian Foster of Dave Rennie kry jy natuurlik ’n heel ander antwoord.

Foster is so gretig om teen die Bokke te speel, hy het selfs gesê kom ons laat vaar die uitwerking wat uitslae in die Rugbykampioenskap op Wêreldrugby se ranglys gaan hê.

Selfs al verloor die Bokke al hul toetse (en die kanse daarvoor is so groot soos dok Eugenia se ego), bly hulle steeds die nr.1-span op die ranglys.

“Natuurlik wil ons wen en die voorste span wees, maar ek sal dit haat as klein dingetjies soos dit (die ranglys-posisie) ons verhoed om internasionale rugby te speel,” sê Foster.

Klein dingetjies, Ian? Skuimkop kan beswaarlik dink die eindtellings gaan “klein dingetjies” wees.

Nee, laat staan die plan vir deelname aan die Rugbykampioenskap.

Laat die sewe spanne  - op volle sterkte en mét Springbokke - eers om plaaslike Superrugby se “Unlocked”-trofee meeding en daarna om die Curriebeker slaags raak. Groet Nuweland met “toetsrugby” tussen span Groen en span Goud en gee vir Nienaber ten minste ’n fair kans om sy loopbaan op ’n wennoot te begin. Toetsrugby later in 2021 klink na ’n veel beter opsie.

Jy stuur nie jou soldate slagveld toe sonder behoorlike opleiding nie.

Of soos die Engelsman sou sê: “you don’t bring a knife to a gunfight”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.