Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Lat, krieket-lafenis en ’n legende
Het die WP se John Dobson ’n lat vir sy eie agterwêreld gepluk? Foto: Gallo Images

In Pretoria word die messe geslyp om Saterdagaand die bokramme van die Westelike Provinsie in dié spanne se eerste Curriebeker-wedstryd van hierdie vreemde rugbyseisoen af te slag.

Jake White se Bulle het verlede naweek die Superrugby Unlocked-reeks gewen om vir die eerste keer in jare ’n trofee in die Jakarandastad uit te stal.

Toegegee, die span was in dié reeks op sy stukke. Veral op Loftus. Die Haaie is daar hokgeslaan en die Ligte Briesie (voorheen bekend as die Stormers) is erg verneder, boonop binne die bestek van 60 minute, voordat Thor die span van verdere vernedering gered het.

En Skuimkop verwys hier na die Noorse god van donderweer, nie die Bulle se agtsteman Duane Vermeulen nie.

Dit tersyde.

Wat die besoekers uit die noorde, die naweek in die gewaad van die Blou Bulle, bykomende aansporing sal gee vir nog ’n slagting, en dié keer op Nuweland, is die gelaaide woorde van die tuisspan se afrigter, John Dobson, vandeesweek.

Dobbo was taamlik omgeëllie toe hy gepols is oor hoe dinge plaaslik gedoen word met die toekenning van ligapunte as wedstryde weens Covid-19-gevalle afgelas moet word.

Aan die span wat sy wedstryd-verpligting kan nakom, maar verhoed word om te speel omdat spelers/beamptes in sy teenstander se geledere positief vir die virus getoets is, behoort ’n oorwinning toegeken te word, sê die Westelike Provinsie se breier.

Dit klink dalk na suur druiwe, maar die Kaapse kaalkop het straks ’n punt beet.

Drie Unlocked-wedstryde is weens Covid-19-gevalle afgelas. Tans bepaal die kompetisiereëls dat dié wedstryde as gelykopstryde geag word, met elke span wat derhalwe twee ligapunte ontvang.

Die Stormers se kragmeting met die (positiewe) Haaie het só in die slag gebly. Die Leeus s’n met die Cheetahs en Pumas ook.

Hy mor nie oor die Bulle wat die trofee verower het nie, skerm Dobbo vinnig, wel oor die feit dat die “gesonde” spanne met dié stelsel onregverdig gepenaliseer is en die kans ontneem is om punte te verdien.

Dit klink dalk na suur druiwe, maar die Kaapse kaalkop het straks ’n punt beet. In die huidige Europese Nasiesbeker-toernooi word ’n bonuspunt-oorwinning (28-0) toegeken aan die span wat kán speel.

Sy sterkste argument is egter: as spelers weet verontagsaming van Covid-protokolle kan moontlik op ’n bonuspunt-loesing vir die span uitloop, gaan hulle minder geneig wees om die bestaande reëls vir gedrag weg van die speelveld te oortree of om kanse te waag.

En dis mos wat ons uiteindelik wil hê, nie waar nie? Dat almal bloot getrou doen wat gevra word om die verspreiding van die koronavirus te voorkom.

Die WP-breier het waarskynlik gekielie aan ’n deel van die Bul-anatomie waar hy nie voor so ’n groot Curriebeker-stryd moes kielie nie, maar hy verdien respek vir dié standpunt.

Laat ons nou spéél

Dis reg Faf, laat die wilgerlat ’n slag die praatwerk doen, nie die raadsaal-rakkers nie. Foto: Gallo Images

Groot agting vir Mark Boucher (afrigter) en die Proteas, tans gewikkel in ’n witbalreeks met Engeland, wat met mening die politieke opslagbal uit die stadion gemoker het.

In die aanloop vandeesweek tot die reeks van ses witbalstryde, is Bouch en sommige spelers vir die soveelste keer uitgevra oor hul plan van aksie vir die Black Lives Matter-beweging.

Gaan julle die knie buig voor wedstryde?

En wat van die raadsaal-revolusie in Krieket Suid-Afrika se geledere – hoe beïnvloed dit die span se voorbereiding en sy geestestoestand?

Die antwoord was kort en kragtig en het uit een mond gekom: ons is nou klaar gepraat oor BLM. En ons het niks meer te sê oor die bestuurskrisis in KSA nie. Ons wil nou, vir die eerste keer in máánde, fokus op hoekom ons eintlik hier is.

Ja, dit gaan ’n bykans onbegonne taak wees om die gevaarlike Engelse om te dop.

Maar Skuimkop hoop die Proteas kanaliseer al daardie opgehoopte politieke frustrasies en gee op die speelveld uiting daaraan.

Haak, Vrystaat!

As dit nie vir sulke diep Kaapse wortels was nie, sou Skuimkop sweerlikwaar al lankal die Vrystaat-Cheetahs as gunsteling plaaslike span gekies het.

Daar is van voor af weer ’n moerigheid in die gemoed ná die rugbyunie se afgelope jaarvergadering, waar Harold Verster, uitvoerende hoof van die Vrystaat-Cheetahs Maatskappy, vir oulaas sy mense moed ingepraat het.

So sê hy, verwysende na die Suid-Afrikaanse Rugbyunie: “Hulle het ons uit Superrugby geskop. Hulle het ons uit Pro-rugby geskop. Maar elke keer het ons teruggeveg. Ek belowe julle daar is ’n blink toekoms. Ons gaan iets wonderliks nalaat. Dit is vir my ’n troos.”

Dit was sy laaste jaarvergadering as uitvoerende hoof.

Skuimkop hoop inderdaad dat die unie binnekort in ’n posisie is om homself vir die soveelste keer aan sy eie veters uit die modder te lig en met ’n unieke oplossing vorendag te kom.

Dis sterk te betwyfel of enige ander unie soveel veggees soos die Vrystaat-Cheetahs het.

Nag, ou grote

Dis hoe ons Diego Maradaona moet onthou: op sy allerbeste, ’n onverbeterlike kampioen. Foto: Getty Images

Uniek, sonder sy gelyke, ’n enigma. Dit was die Argentynse sokkerlegende Diego Maradona.

Ongebreidelde talent het deur sy are gepomp. Hy het vrees afgedwing, maar bowenal respek by almal wat die beautiful game as toeskouers of spelers geniet.

Hy is ook vir jare gejaag deur persoonlike demone: vetsug, alkohol- en dwelmverslawing, ’n oordadige, losbandige leefstyl.

Tog kom sy dood in die ouderdom van 60 as ’n yslike skok. Die geniale Wêreldbeker-wenner word wyd geag as die beste sokkerspeler in die geskiedenis van die spel.

Supersterre soos Cristiano Ronaldo, Neymar, Kylian Mbappé of Lionel Messi sal nooit in sy klas wees nie.

Die leemte wat sy vertrek laat, sal waarskynlik nooit gevul word nie.

Dankie El Pibe d Oro, vir verbluffende voetwerk, dankie El Diez vir akkurate aangeë, dankie Barrilete Cósmico vir voorgevoel, balbeheer en meesterlike afronding.

Meer oor:  Diego Maradona  |  Curriebeker-Reeks  |  Cheetahs  |  Wp  |  Bulle  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.