Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Virus wat nie met hom die spo(r)t laat dryf
Tekens van die tye: Stadions agter geslote hekke, kaartjiekantore bot toe, paviljoene dolleeg. Foto: Getty Images

Vir ’n rubriekskrywer wat poog om (meestal) met lighartige draakstekery en (soms met) moedswilligheid ’n (subjektiewe) mening oor gebeure op die sportfront te gee, was dié week se bydrae nie maklik om te skryf nie.

Die Covid-19-pandemie is immers nie ’n onderwerp wat hom leen tot grappies en gepaardgaande guitighede nie. Dit het reeds oor die wêreld heen sy tol geëis – vir baie mense ongelukkig die hóógste tol.

Wat die afsienbare toekoms betref, is die einde nie in sig nie.

Op enkele uitsonderings na, is daar tans ’n globale sportstilstand. Wie sou dit ooit in hul wildste drome kon voorspel, liewe leser?

Nie Nostradamus, Siener van Rensburg of daai antie in die gehawende Gypsey-karavaan wat dekades gelede by die Goodwood-skou vir 30 sent die toekoms in teeblare of die lyne op jou handpalm gelees het nie.

As iemand in Februarie verlede jaar vir jou gesê het die Sesnasies-, Pro14- en Superrugbyreeks gaan vanjaar weens ’n wêreldwye virus afgelas word, sou jy dit geglo het?

Gewis nie.

Wat van geen tennis op Roland Garros of Wimbledon nie? Sokker in Europa, in die res van die wêreld, is van die baan. Ja, ook die Euro 2020, een van die vyf gewildste toernooie in die sportwêreld.

Daar sal nie ’n Amerikaanse Meesters of PGA op gholf se Grand Slam-kalender wees nie. Krieket, in watter formaat jy dit ook al plaaslik en internasionaal volg, gaan alle aktiwiteite staak.

Die Twee Oseane-wedloop, die Epic-bergfietstoer, Diamantliga-atletiek, Formule Een-wedrenne . . . ook nie meer nie.

Dis net ’n kwessie van tyd voordat die Comrades-wedloop se organiseerders en die uiters benoude reëlingskomitee van die Olimpiese Spele in Tokio ook die onafwendbare besluit neem.

Daar is vrae oor die globale kansellering van sportbyeenkomste, basies enige byeenkoms waar meer as 100 toeskouers vergader. Is daar in sommige gevalle te vinnig halt geroep? Was dit voortydig, byvoorbeeld, om iets soos die Franse Ope-tennistoernooi, wat op 18 Mei beslis sou word, na 20 September uit te skuif?

Die Comrades-base dink kennelik so. Ook die Japannese regering. En ’n mens kan verstaan hoekom. Die finansiële nekslag wat iets soos die afstel van die Spele Japan gaan toedien, is eenvoudig skrikwekkend. Die maatskappy SMBC Nikko Securities reken dit sal die land se Bruto Binnelandse Produk soveel as R1 220 miljard kos.

Maar dis geld. Nie lewens nie.

’n Tragedie is dit inderdaad, vir alle sportbyeenkomste wat deur die virus in die wiele gery is. Al die voorbereiding, die reëlings, die infrastruktuur, die koste wat aangegaan is. Vir organiseerders, vir toeskouers. Om natuurlik nie eens van die atlete te praat nie!

Maar ondanks al die finansiële verliese, die teleurstellings, die (nou vergeefse) lang ure op die oefenveld, is dit steeds nie ’n kans wat ons as wêreldgemeenskap durf waag nie.

Die 15-malige Grand Slam-wenner, Tiger Woods, het die onafwendbare besluit om vir eers in die sportarena halt te roep waarskynlik die beste opgesom toe hy op Twitter sy mening oor die kansellering van die Amerikaanse Meesters uitgespreek het.

“Daar is op die oomblik veel belangriker dinge in die lewe as ’n gholftoernooi.”

Vervang gholf met enige ander sportsoort en jy kry die prentjie.

Skuimkop wens alle lesers goeie gesondheid toe. Doen als wat nodig is om veilig te bly.

Bok vir sports. Die voormalige Springbok-haker James Dalton in ’n ligte luim. Foto: Gallo Images

Koeël deur die kerk

Die dikwels omstrede voormalige Springbok-haker James Dalton het pas sy outobiografie uitgereik. Bullet Proof: The James Dalton Story is deur die dikwels omstrede rugbyjoernalis Mark Keohane geskryf.

Einste Keohane wat destyds aansoek gedoen het om die Springbokke af te rig.

Elk geval, gegewe die twee betrokke menere, was daar dus geen kans dat Bullet Proof nie óók omstrede sou wees nie. En dit is.

Veral die deel oor die Springbokke en hul voorliefde vir dwelms.

“Die dwelmkultuur was groot in rugby vanaf 1997 en op ’n hoogtepunt in die Springbok-groep aan die einde van 1998,” sê Dalton.

“Daar was drie groepe spelers wanneer dit gekom het by middels vir ontspanning – dié wat slegs ecstasy gedoen het, dié wat slegs kokaïen gedoen het en ’n handvol wat albei gedoen het.”

Nou wonder Skuimkop, wie was die manne wat aan die nauurse aktiwiteite meegedoen het?

Kyk ’n mens vinnig na van die lede in 1998 se Bok-groep, is daar kandidate soos Joost van der Westhuizen, Rassie Erasmus, Ollie le Roux, Bob Skinstad, Selborne Boome, Adrian Garvey, Percy Montgomery, Robbie Fleck en Mark Andrews.

Maar hoe sal ons weet. Bullet weet, maar hy sê nie.

Net op dié punt: Is dinge wat in ’n eksklusiewe omgewing soos ’n Bok-span gebeur, nie veronderstel om eksklusief te bly nie? Wat tydens ’n toer gebeur, bly op die toer, sê hulle mos.

Dalton het dié ongeskrewe reël verbreek. Hy gaan waarskynlik nie vanjaar Kerskaartjies van sy oud-Bokmaats ontvang nie.

Maar als in die naam van omstredenheid, nè? Iets moet seker die boek verkoop.

Meer oor:  James Dalton  |  Koronavirus  |  Covid-19  |  Skuimkop  |  Leë Stadions
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.