Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: ’n Vraag sonder ’n antwoord
Is Lungi Ngidi se steun aan Black Lives Matter werklik so beledigend teenoor mense soos Boeta Dippenaar, wat sê “All Lives Matter”? Foto: Gallo Images

Sport en politiek het nog altyd ’n ongemaklike verhouding gehad.

Trouens, as die twee ’n Facebook-profiel gedeel het, sou hul verhoudingstatus waarskynlik as “it’s complicated” aangedui word.

Nes die kat en die hond wat op dieselfde erf woon, verduur hulle mekaar op ’n veilige afstand, maar dikwels word die naels en tande ontbloot.

Sportmense mor dat politiek inmeng in hul sake, dikwels onhaalbare, onrealistiese vereistes stel en derhalwe spelers dwing om ander weivelde oorsee te gaan soek.

Politieke mense sê hulle is waghonde vir reg en geregtigheid wat seker moet maak die ongelykhede van die verlede word stelselmatig uitgewis.

Wie is reg en wie is verkeerd? Die vraag waarop daar geen antwoord is nie.

Skuimkop is bly dat Krieket Suid-Afrika standpunt ingeneem het ter ondersteuning van die wêreldwye Black Lives Matter-beweging.

As sportbeheerliggaam kon hy nie ’n draadsitter wees wat dié sensitiewe kwessie betref nie.

Dis natuurlik ’n onderwerp wat menige mense ontstig, veral aan die tuisfront, waar daar geargumenteer word dat jy nie net na die een kant kan oorleun nie. Jy kan nie net BLM ondersteun en niks sê oor, byvoorbeeld, die skrikwekkende styging in plaasaanvalle en -moorde nie.

“All Lives Matter”, sê diegene.

Probleem is net dié standpunt kan vertolk word as een wat dringende kwessies soos nierassigheid en wit-bevoorregting gemaklikheidshalwe systap.

Jy kan mos maklik jou hande in onskuld was as jy sê álle lewens maak saak, terwyl die agterdog en wantroue en verborge diskriminasie teenoor nie-wittes steeds vlak onder die vel lê, nie waar nie?

Jy kan mos maklik jou hande in onskuld was as jy sê álle lewens maak saak, terwyl die agterdog en wantroue en verborge diskriminasie teenoor nie-wittes steeds vlak onder die vel lê, nie waar nie?

KSA steun die BLM-beweging omdat hy, volgens Jacques Faul (waarnemende uitvoerende hoof) glo in sy etos as ’n beweging wat staan teen rassisme en diskriminasie. Maar KSA is gekant teen álle vorms van ongelykheid, plundery en enige geweld.

Die beheerliggaam sal sy boodskap van nierassigheid deur middel van BLM versprei, maar Faul sê dit beteken nie dat ander lewens nie vir KSA saakmaak nie. Dis immers nie nie “Only Black Lives Matter” nie, sê hy.

Hiermee kan geen regdenkende mens fout vind nie.

So Boeta Dippenaar, Pat Symcox en Rudi Steyn sê die BLM-idee gaan ’n groter wig dryf tussen mense. Lungi Ngidi, Tabraiz Shamsi en Sibonelo Mkhanya sê BLM-steun is ononderhandelbaar.

Drie (wit) ouens sê dié, drie (swart) ouens sê dáái.

Wie is reg en wie is verkeerd?

Nog ’n vraag waarop daar geen antwoord is nie.

Tamzin Brits . . . vereerde Protea-kanonkolwer van KSA en ook noodgedwonge vrugtepakker in Klerksdorp. Foto: Gallo Images

Die vrot appel

Terwyl KSA die kol getref het met sy steun aan BLM, glo Skuimkop hy het fouteer met hoe hy na van sy nasionale spelers omsien in die tyd van die Covid-19-pandemie.

Dis hartseer om te moes lees die Protea Tazmin Brits moet in die tyd as vrugtepakker by ’n Spar in Klerksdorp werk om haar brood en botter te verdien.

Brits is 29 en nie gekontrakteer nie, al het sy reeds 15 T20-wedstryde op haar kerfstok.

En met geen hulp van elders nie, moes sy noodgedwonge gaan werk soek.

Sy werk wel as afrigter by die Noordwes-krieketunie in Potchefstroom, maar kon weens die inperking nie afrig nie. En met geen hulp van elders nie, moes sy noodgedwonge gaan werk soek.

Nou wonder Skuimkop of KSA nie kon voorsien vir sulke gevalle nie? Om diegene wat Protea-status verwerf het en steeds vir die span beskikbaar is, op ’n manier te probeer help. ’n Fonds waar die spelers kan aansoek doen om finansiële bystand in dié tyd, dalk?

Skuimkop hoop vir Tazmin se part dat die prys by KSA se prysuitdeling vir amateurs, waar sy verlede Vrydag as die Vrouespeler van die Jaar aangewys is, darem ’n tjekkie saam met die trofee ingesluit het.

Want die situasie laat ’n mens dink KSA is die vrot appel in die mandjie.

Die Highlanders van Nieu-Seeland oefen Vrydag in Dunedin. Geen sosiale afstand word hier gehandhaaf nie. Foto: Getty Images

Hoe lank nog, minister?

Vlok Cilliers, oudspeler en deesdae skopbreier vir die Franse Hane, waarsku vandeesweek dat Suid-Afrikaanse spanne reeds ’n hengse agterstand het omdat rugby nog nie plaaslik hervat is nie. En die gaping gaan al hoe groter word.

’n Mens kan net wonder hoe senutergend die situasie vir plaaslike Superbreiers en die Springbokke se Jacques Nienaber moet wees.

Daar rol die Kiwi’s en Aussies op volstoom, terwyl ons manne een-een op ’n oefenveld of in ’n verlate gimnasium moet voortsukkel.

Daar rol die Kiwi’s en Aussies op volstoom, terwyl ons manne een-een op ’n oefenveld of in ’n verlate gimnasium moet voortsukkel.

Nathi Mthethwa, ons sportminister, swyg egter oor wanneer die rugbymanne weer voluit kan begin oefen.

Die koronavirus het SA rugby finansieel geknou, maar die gesloer in parlementêre geledere het die spel met ’n stywe arm grond toe gebring.

Die vraag is hoe lank dit gaan neem om na dié onderbreking weer vir die bestes ter wêreld kers vas te hou.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Jacques Faul  |  Lungi Ngidi  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.