Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Net suurknolle kla oor dié haka

En daar doen die All Blacks toe die haka en die hele wêreld is op hol.

Nee, nie die Nieu-Seelandse All Blacks nie. Die All Blacks van Oos-Londen. Meer spesifiek die Varsitybeker-rugbyspan van die Walter Sisulu-Universiteit (WSU), wat onder dié bynaam in die Skildkompetisie van die studentereeks in aksie is.

Die All Blacks doen die haka. Die All Blacks van Nieu-Seeland. Nie die All Blacks van Oos-Londen nie. Foto: Getty Images

Die aansporing wat dié beroemde oorlogsdans kennelik die span gebied het, is in die eindtelling weerspieël. Die Oos-Kaapse studente het 22 drieë later die Rhinos van die Durban-Universiteit vir Tegnologie met 136-11 afgeslag.

Oor die kuikenmoord was daar egter nie veel gesê nie. Oor die feit dat die wenspan voor die wedstryd die Kiwi’s se Kapa O Pango-haka uitgevoer het, wel.

Die Nieu-Seelanders was nie beïndruk nie. Ook nie die aktiewe ondersteunersgroepe van die (Nieu-Seelandse) All Blacks op Worcester, Malmesbury, Kraaifontein en die Paarl nie.

Dis as “oneerbiedig” en “in swak smaak” beskou. ’n Belediging teenoor die Maori-gemeenskap, selfs. Nie dat die Maori’s enigsins weet van Walter Sisulu se bestaan nie, maar nou ja, so loop hy maar.

’n Paar suurknolle wat geen belang by die Australasiese span het nie, wou ook weet hoekom die studente nie met iets oorspronklik vorendag kom nie. ’n Tipe krygersdans wat sy wortels in Afrika het.

Die hele bohaai is ’n aardbewing in ’n miershoop.

WSU verduidelik hy wil juis soos die (oorspronklike) All Blacks speel. Hy put inspirasie uit die haka. Dis nou deel van sy kultuur.

Skuimkop reken as ’n ding vir jou werk, moet jy hom gebruik. So, knap gedaan aan die Oos-Londenaars. Hopelik vorder hulle tot by die hoofkompetisie van die Varsitybeker-reeks.

Dan kyk ons hoe Tuks, Maties, Ixias en die Ikeys reageer as hulle hoor “Let me go back to my first gasp of breath/It is New Zealand that thunders now/And it is my time!/It is my moment!/The passion ignites!/This defines us as the All Blacks”.

Is julle betotteld?

So die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) moet ’n nuwe breier vir Bafana Bafana aanwys.

Maklike taak, nie waar nie?

Jy maak ’n paar oproepe, gee ’n koevertjie vol R200-note onder die tafel aan, smeek hier, bid daar en uiteindelik het jy ’n kandidaat wat bereid is om aan dié foltertafel vasgegespe te word.

Beskou dit as ’n lekker aftreebonussie. Stewige salaris, nie te veel verwagtinge nie (selfs al sê Safa so) en kort voor lank word jou kontrak uitgekoop en gaan hou jy vakansie op die wit strande van Zanzibar, met ’n eksotiese mengeldrankie in jou regterhand en ’n goue Rolex wat glim aan jou linkerpols.

Toe nie.

Daar was wraggies bykans 200 aansoeke (plaaslik en oorsee) om die afgedankte Molefi Ntseki se skaars afgekoelde sokkerstewels vol te staan.

So as jy al ’n sokkerbal geskop het en ’n fluitjie kan blaas, behoort jy minstens ’n buitekans te hê om die nasionale span af te rig.

Bid jou dit aan! Dit móét Covid-19 se skuld wees. Baie het hul werk verloor. Daar is desperate mense daarbuite.

So as jy al ’n sokkerbal geskop het en ’n fluitjie kan blaas, behoort jy minstens ’n buitekans te hê om die nasionale span af te rig.

Wie ook al die masochis is wat dié ondankbare en onbegonne taak vir homself op die hals wil haal, Skuimkop wens jou sterkte toe.

Maar weet dit: Geen afrigter ter wêreld gaan die geploeter op die veld tot iets sinvols kan omskep nie. Nie eens sir Alex Ferguson nie en hy het destyds met Manchester United álles gewen.

Hoekom nie? Want jy gaan nie die spelers hê nie. Die plaaslike outjies is net nie opgewasse in die internasionale arena nie, die klubspelers oorsee stel nie belang nie.

En jy moet ’n span kry wat vir 2022 se Wêreldbeker-toernooi in Katar moet kwalifiseer. En dít ná verskeie uitspeelstryde teen Afrika-spanne ver bo Bafana op die wêreldranglys.

Bring die boeie, die swepe, die rekbank en die Vaseline. Daar wag ’n moeilike jaar vir jou, meneer die breier.

Voete van klei

Skuimkop kan nie glo dat iemand so onnosel kan wees nie. Het Heath Streak nie die les wat Hansie Cronjé alle krieketspelers geleer het, ter harte geneem nie?

Heath Streak by die lughawe. Nee, niks om te verklaar nie, meneer die doenebeampte. In dié sak is daar net . . . ummm . . . vuil wasgoed. Foto: Getty Images

Streak, wat in sy speeldae Zimbabwe in 65 toetse en 189 eendagwedstryde verteenwoordig het, is vandeesweek vir agt jaar uit die spel geskors omdat hy die Internasionale Krieketraad (IKR) se teenkorrupsiereëls verbreek het.

Die 47-jarige, deur baie beskou is as die gesig van Zim-krieket, het erken hy het in etlike internasionale kragmetings, sowel as wedstryde in T20-ligas in Indië, Pakistan, Afganistan en Bangladesj (geen verrassings hier nie) binnekennis gebruik om beroepsweddenskappe aan te gaan.

Die krieketheld met die voete van klei. Het die duiwel hom dit laat doen, soos Hansie destyds aangevoer het?

Nee, gierigheid het.

Die Zimbabwiese krieketbase het in ’n verdoemende stelling hul gevoel teenoor Streak opgesom. Hy was ’n ikoon van die spel in die land, maar nou is hy ’n korrupte, gulsige en selfsugtige karakter, wat sy status en posisie misbruik het om persoonlike gewin na te jaag.

Daar is nie pille vir dommerikke soos dié nie. Heath, aan jou is geen salf te smeer nie.

Meer oor:  Wsu All Blacks  |  Heath Streak  |  Molefi Ntseki  |  Varsityskild
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.