Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Protea-kolwers ’n lojale klomp
“Wáár is daai veelsydige speler nou weer? Ek is seker hier was een iewers in die koelsak. AB, staan bietjie die kant toe, ek kan nie mooi sien nie.” Mark Boucher soek oplossings vir die verslae Proteas. Foto: Gallo Images

Voor die aanvang van die afgelope T20-krieketreeks teen Australië het ons gehoop vir die beste. Hoe dan anders?

Nuwe afrigtingspan, nuwe kaptein, uitgeruste senior spelers, gevaarlike snellers wat terugkeer ná beserings, lesse geleer in die voorafgaande reeks teen Engeland.

Hierdie was faktore wat in óns guns moes tel.

As bykomende versterking was daar die feit dat dit weer drie tuiswedstryde was. Geen orige Barmy Army wat lawaai maak nie. Stadions gepak met Protea-ondersteuners, blaasorkeste om die atmosfeer te verskaf.

Geen beurtkrag wat spel ontwrig nie, koue bier en sonskyn, gits, selfs ’n enorme emmervormige toring waar olierige hoenderstukke aan hongeres uitgedeel is.

Nou ja, ons weet reeds hoe dié een uitgespeel het: Twee vernederings aan albei kante van ’n skrale trooswen in Port Elizabeth.

Skuimkop is nie soseer huilerig oor die reeksloesing nie.

Die Aussies is ’n bitter goeie span, moet dit nie betwyfel nie. Indië en Engeland se pajamabroeke sal bewe met die vooruitsig van ’n T20-stryd teen dié span soos hy op die Wanderers en Nuweland gespeel het.

Nee, wat wel soos ’n snoekgraat dwars in die keelgat vassteek, is hóé die Proteas verloor het. Dit was asof die veggees, daardie kanniedood-houding wat van ’n nasionale span verwag word, eenvoudig nooit uit sy slaap ontwaak het nie.

Die ligpunte kan op een hand getel word. Vir die teleurstellings kort jy amper ’n derde hand.

As David Warner instap, of Aaron Finch of Steve Smith – enige van ’n ses-, sewetal kolwers – dan verwág jy vuurwerk, vinnige lopies, improvisasie.

As die Proteas instap, hoop en bid jy dat Quinton de Kock dit verby 40 lopies maak, want dan is dit asof almal skielik kán (en wíl) kolf.

Soos iemand droogweg op sosiale media opgemerk het: Suid-Afrika se kolwers is eintlik ’n baie lojale lotjie, want as hul kaptein nie lopies kry nie, dan is hulle daar sáám met hom.

Selfde geld die boulers. Mitchell Starc, Pat Cummins, Ashton Agar en Adam Zampa het deur die bank vrees ingeboesem.

KG Rabada, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé en Dwaine Pretorius, daarenteen, was meestal maklike teikens vir die besoekende kolwers.

Protea-ondersteuners se vertroue in spelers wat voorheen staatmakers en wedstrydwenners was, begin nou vinnig taan. Dis asof dié ouens se selfvertroue in ’n geïnduseerde koma iewers in ’n waakeenheid aan ’n lewensondersteunende masjien gekoppel is.

Skuimkop sê nie die masjien moet nou eerder uitgeprop word nie. Maar die hulp van ander spesialiste is nou dringend nodig. Ja, AB, jy is een van hulle.

Ons kort ook ’n behoorlike, betroubare veelsydige speler op nr. 7, wat ses spesialiskolwers met die wilgerlat kan bystaan en drie spesialisboulers met die bal kan ondersteun. Nog niemand het na vore getree vir dié kernposisie nie.

Daar is ’n paar maande oor voor die aanvang van die T20-Wêreldbekertoernooi op 18 Oktober in Australië, so daar is nog kans om rigting te kry.

* Skuimkop hoop egter die afrigter, Mark Boucher, vind lig in die donker tonnel waarin die span hom tans bevind.

’n Soentjie vir julle, vir oulaas. Die Russiese tennisster Maria Sharapova groet beroepstennis ná ’n suksesvolle loopbaan. Foto: Getty Images

Móói, Maria

Ons groet die lenige Russiese tennisster Maria Sharapova, wat in ’n era wat deur die Williams-susters, Venus en Serena, oorheers is, steeds vyf Grand Slam-titels kon inpalm.

Die langbeen het vandeesweek haar uittrede uit beroepstennis aangekondig. Beserings het haar uiteindelik tot dié stap gedwing – om nie te vergeet van die beproewings wat haar weg van die baan geteister het nie.

Daardie positiewe opkikkertoets (in 2016) wat haar vir 15 maande lank uit die spel gehou het, het sy tol geëis en ná haar terugkeer was sy nie meer so skerp nie.

Die aankondiging oor haar uittrede is gemaak in ’n rubriek wat sy vir die Amerikaanse modetydskrifte Vogue en Vanity Fair geskryf het.

Die treffendste sinnetjie in dié skryfsel is: “Ek het my lewe vir tennis gegee en tennis het my ’n lewe gegee.”

Maria hoef natuurlik nie weer ’n steek werk in haar lewe te doen nie.

Haar loopbaaninkomste – prysgeld en borgskappe – word op ’n aardige $195 miljoen gereken. Dis te veel nulle om in randterme te noem.

* Dankie vir al die mooi, mooier, mooiste oomblikke op die tennisbaan, Maria. Jy verdien jou regmatige plek as een van vrouetennis se invloedrykste spelers.

Meer oor:  Krieket  |  T20  |  Proteas  |  Maria Sharapova  |  Australië  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.