Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Proteas het nie Plan A, B óf AB

Waar, o waar, sou die Proteas hulle bevind het as Abraham Benjamin de Villiers in die span was wat tans in die Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland met sy een voet in die graf staan?

“Dagsê, Dale, ek hoor jy boul nie vir die Proteas in die Wêreldbeker-toernooi nie?” “Dis reg, AB, nes jy nie vir hulle kolf nie.” Foto: Gallo Images

Dis die vraag wat menige liefhebber vra sedert die nasionale span se drie agtereenvolgende loesings in die skouspel.

Skuimkop reken ons span sou in dieselfde bootjie gewees het.

Daar is groot gewag gemaak van die Proteas se Plan A, waarmee hulle die beste spanne in die wêreld gaan omdop danksy ’n giftige boulaanval wat lopies sal beperk en/of teikens sal beskerm.

Maar hoe op dees aarde gaan jy na ’n WB-toernooi as jou Plan A slegs in werking kan tree nádat een van die gevreesde pilare van jou snelboulers eers fiks is. Jy gaan immers nie oorlog toe met ’n silwerskoon geweer, maar met geen ammunisie in die magasyn nie!

Dale Steyn se gekrokte skouer het hom vir die eerste drie wedstryde ’n koeldrankiedraer gemaak. Plan A kon nie in werking gestel word nie. En derhalwe is dit nul uit drie.

AB se kolf sou waarskynlik gehelp het, maar ekstra lopies op die telbord is geen waarborg vir ’n sege as jy nie jou teenstanders kan uitboul of verhoed om die teiken te haal nie.

Dié lat het die Proteas ongelukkig vir hulself gepluk...

En met ’n KG Rabada wat bra tandeloos was in die eerste twee kragmetings, Lungi Ngidi net ’n skaduwee van die sneller van drie maande gelede, geen Steyn, ’n paar doodgemiddelde veelsydige manne vir naatboulwerk en wisselvallige draaiers, is dit geen wonder Plan A het nooit gerealiseer nie.

En natuurlik was daar nie ’n behoorlike Plan B nie. Net soos daar nie ’n Plan AB was nie.

As Krieket Suid-Afrika werklik in dié kolwer se dienste belanggestel het, moes hulle net ná sy internasionale uittrede in Mei verlede jaar hárder gewerk het om hom te oortuig om nog in die laaste WB-toernooi te speel.

Helaas, Abraham het besluit hy verdien eerder groot geld in T20-reekse oor die wêreld heen. Daarmee het Skuimkop vrede.

En diegene wat nou sê maar AB het in April vanjaar (net voor die WB-groep aangekondig is) kom sê hy is wél beskikbaar, is daar die boodskap: KSA het reg opgetree deur sy skielike ommeswaai te ignoreer.

Jy kan nie dat die stert die hond swaai nie. Hy het uitgetree, herhaalde versoeke om dit te heroorweeg van die hand gewys, en toe skielik besluit hier is een laaste kans op internasionale glorie. “Kies my, ek is nou beskikbaar.”

* Nee wat AB, gaan slaan maar jou dollar-sesse in die IPL, die Big Bash of waar ook al, selfs dié verloorspan is beter daaraan toe sonder jou terloopse toewyding tot die nasionale saak.

Sê dit in sy gesig, Bakkies

Bakkies Botha (links) saam met Eben Etzebeth (regs) in die dae toe hy volgens Bakkies nog gespéél het.Foto: Gallo Images

Die klipharde oud-Springbokslot Bakkies Botha sê sy opvolger, Eben Etzebeth, is nie meer so goed soos wat hy aan die begin van sy loopbaan was nie.

Hy vermy deesdae die fisieke kontak voorlangs en wil eerder rondom die losgemale met die bal stormloop – soms sommer deur spelers probeer hardloop – en ’n duikslag of twee uitvoer. Sê Bakkies.

Skuimkop wonder hoe Etzebeth oor die ou grote se opsomming voel. Ook of Bakkies dit vir hom in sy gesig sou sê, nie iewers van ’n verhoog af nie.

Tog is daar diegene wat dink Bakkies se mening het meriete. Etzebeth se spelpeil het ’n insinking beleef, maar hy het gebuk gegaan onder beserings, mees onlangs ’n gebreekte beentjie in sy hand.

Gelukkig sal hy betyds herstel vir vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan, wat die Bokke het hom wél nodig.

En wie weet, dalk dien Bakkies se aanvegbare stelling as inspirasie vir die Stormers-slot om weer met mag en mening by losgemale in te dons.

Een ding waarmee Skuimkop wel sonder skroom saamstem, na aanleiding van wat Bakkies als kwytgeraak het, is dat die Leeus-flank Kwagga Smith weer ’n Bok-trui moet dra.

As Rassie Rasmus, Bok-breier, hom nie nou al neergepen het vir sy WB-groep nie, is daar iewers groot fout.

Trouens, die flank vergemaklik eintlik die breier se taak as dit kom by die kies van sy uitsoekgroep.

As hy twyfel oor geskikte spelers in ’n paar posisies, hoef hy bloot ’n memo aan alle moontlike kandidate uit te stuur. Hierin vervat is ’n eenvoudige boodskap wat lui:

* Moenie ’n dwaas wees nie, wees soos Kwagga. Speel soos hy in elke wedstryd speel en verbeter jou kanse om die Bok-groep te haal.

Meer oor:  Bakkies Botha  |  Eben Etzebeth  |  Ab De ­Villiers  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.