Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Proteas, ontbied vir Chad le Clos

So, hier is ons nasionale krieketspan nou, in die gekombineerde geselskap van beeldspraak en spreekwoord om sy penarie op te som: met een voet in die graf en die rug teen die muur, broek op die enkels en hande in die hare.

Ek is séker ek het dié rooi ding al iewers in my lewe gesien. Dale Benkenstein, Protea-kolfafrigter, beplan nog ’n suksesvolle netsessie. Foto: Gallo Images

Saterdag, in ’n middag-aand-wedstryd, moet Suid-Afrika met Afganistan in Cardiff probeer afreken om die kwynende kooltjies in sy feitlik gebluste Wêreldbeker-vuur aan te blaas. As dit nie wéér reën nie (maar meer hieroor later).

As hy dít vermag, sê die spanbestuur, gaan die selfvertroue terug wees!

Maklik. Net één sege. Klop die magtige Afganistan, wat spog met toonaangewende krieketgeriewe en ideale toestande waar spelers nie vir hul lewe hoef te vrees nie, en die Proteas blom weer.

Natuurlik ook in die daaropvolgende wedstryde teen Nieu-Seeland (4de op die wêreldranglys), Pakistan (6de), Australië (5de) en Sri Lanka (9de).

Almal moet geklop word. “Want elke wedstryd is nou soos ’n eindstryd,” sê die span.

Skuimkop wil nie ’n doemprofeet wees op hierdie geskiedkundige dag van die Proteas se voorgenome herrysenis nie, maar stellings vandeesweek deur Dale Benkenstein (die span se kolfafrigter) dat die topkolwers “so goed soos altyd” in net-oefeninge lyk en groot tellings “net om die draai” is, boesem nie meer vertroue in nie.

Anders gestel: Op ’n skaal van 0 tot 100 is dié “gerusstelling” soveel werd soos Hashim Amla se drie aanvangsbydraes met die kolf: 13, 6 en 6.

As jy ná vier wedstryde stééds wag op daardie groot telling of die verbluffende boulskof, is jou doppie geklink.

* Pak solank die tassies, Proteas. Kom huis toe. Begin beplan vir 2023 in Indië.

’n Punt beet

Ondersteuners kan moontlik troos vind dat die Proteas darem nie hul vorige wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande verloor het nie.

Die alewige reënweer in Engeland beduiwel sake vir baie spanne, maar het darem die Proteas een punt besorg (en die span se gelukbringer, Duckie, swemkans gegun). Foto: Getty Images

Die aanduidings was vroeg-vroeg daar dat nog ’n mistroostige vertoning met die wilgertlat ons voorland gaan wees nadat Aiden Markram en einste Hashim (Goed In Die Nette) Amla uit is met skaars 28 lopies op die telbord.

Maar toe kom red die reën. Geen spel ná dese. En so kry die Proteas toe ná drie onsuksesvolle probeerslae hul eerste punt beet in 2019 se Wêreldbeker-toernooi, ná net 7.3 beurte uit die geskeduleerde 100 in die wedstryd.

Sedertdien is nog wedstryde deur reën ontwrig. ’n Groot jammerte.

Donderdag se kragmeting tussen die Kiwi’s en die Indiërs in Nottingham was die vierde slagoffer.

Dit sou waarskynlik krieket van hoogstaande gehalte gelewer het, want hier het jy nou twee spanne wat uit die staanspoor hul ritme in die skouspel gevind het en fokus op glorie.

Ja, weerstoestande is onvoorspelbaar. En dis veronderstel om nou somer in Brittanje te wees. Maar vervlaks, die Internasionale Krieketraad moes darem plan probeer sien het met wedstryde wat deur wispelturige weer in die wiele gery word.

Op ’n positiewe noot. As die Proteas in hul oorblywende wedstryde (weer) twyfel oor ’n speler se fiksheid, moet hulle dit sterk oorweeg om vir Chad le Clos te ontbied.

* Kolf die kan hy óók nie, maar hy is goud werd as dit by swem kom.

Voorspel tot ’n slagting

Die vier plaaslike Superrugby-franchises takel mekaar Saterdag. Twee van hulle gaan die uitkloprondes haal en twee se veldtog sal (genadiglik) tot ’n einde kom.

Nie meer vir ons beskore nie. Suid-Afrika se Superspanne lek die houtlepel af, Nieu-Seeland s’n drink regte sjampanje uit dié trofee. Foto: Getty Images

Dit was ’n brutale seisoen en die beseringspook het in alle windrigtings in Suid-Afrika ’n draai gegooi. Die gelapte Stormers pak die ewe gelapte Haaie en al wat eintlik in die Kaapse span se guns tel, is dat die kragmeting op Nuweland beslis word.

Skuimkop voorspel ’n sege vir die tuisspan.

In die noordelike derby is dit ’n moeiliker keuse. Met Kwagga Smith daar sou die Leeus ’n groter faktor gewees het. Maar hy is nie. En vir die Bulle is Duane Vermeulen voorlangs terug en die fris heelagter Warrick Gelant ook. Op Loftus.

Skuimkop voorspel ’n sege vir die tuisspan.

Maar, helaas, dis hier waar als gaan eindig.

Daar is feitlik geen kans dat die twee wenners in uitspeelwedstryde met (waarskynlik) die Jaguares in Buenos Aires en moontlik die Crusaders in Christchurch gaan afreken nie.

* So sterkte aan die vier Saterdag. Mag die beste spanne wen. En innige meegevoel met die twee wenners vir volgende naweek.

Meer oor:  Wêreldbekerkrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.