Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Proteas se breinfloute

’n Mens wil nie ’n hond skop terwyl hy lê nie, maar Skuimkop sal sy plig versuim as hy die Proteas dié week die roede spaar.

Claret Jug-kus. Francesco Molinari se sege in die Britse Ope behoort voorgeskrewe kykstof te wees vir alle sportlui. Foto: Getty Images

Ná hul geskiedkundige tuisreekssege oor Australië en die voorafgaande reeksoorwinning oor Indië vroeër vanjaar, het ons die volste reg gehad om nog ’n vyfstervertoning in Sri Lanka te verwag.

Maar ’n nare verrassing het op die Suid-Afrikaanse krieketpubliek gewag. Die Proteas het ’n onherkenbare gedaanteverwisseling ondergaan en die tipe spel gelewer wat ons eerder met ons arm buurman, Zimbabwe, vereenselwig.

Ná die loesing in die eerste toets het ’n mens darem gedink die span sou vinnig hergroepeer en wys hy het sy lesse geleer. Nie net het dit nié gebeur nie, maar boonop het Ottis Gibson en Faf du Plessis (onderskeidelik die afrigter en kaptein) ’n monumentale oordeelsfout begaan deur slegs een draaier, Keshav Maharaj, vir die tweede toets te kies.

Wat hulle besiel het om drie snelboulers te kies vir ’n kolfblad wat almal – selfs die stadigstes van begrip onder ons – geweet het die draaiers sou bevoordeel, weet nugter alleen.

Skuimkop sê nie ons sou die toets met twee of drie draaiers in die boulaanval kon wen nie – daarvoor was die meerderheid van ons topkolwers se vertonings te flou – maar minstens sou dit ’n veel meer mededingende kragmeting gewees het.

* Skuimkop hoop maar hierdie debakel is ’n tydige wekroep vir ons nasionale span wat hom nou nie meer op die bomenslike vermoëns van AB de Villiers kan beroep elke keer wanneer hy in die moeilikheid is nie.

Molinari-meesterklas

In ’n land waar die sporttoneel deur sokker en Formule Een-wedrenne (lees: Ferrari) oorheers word, het Francesco Molinari dit verlede naweek man-alleen reggekry om gholf op die voorblad van elke Italiaanse publikasie te kry.

Om op die Saterdag én die Sondag van ’n Britse Ope foutlose gholf te kan speel, is ’n merkwaardige prestasie. Toe die groot name om hom die een ná die ander Carnoustie se kasterolie moes sluk, het die Italiaanse buks met metronomiese akkuraatheid die bal in die skoonveld gehou en drukbelaaide ná drukbelaaide sethou ingerol.

Ons Protea-kolwers, wat so klaaglik onder die druk in Sri Lanka geswig het, moet hulself ’n guns bewys en Molinari se komkommerkoel vertoning gaan bestudeer.

* En wat Italiaanse sportliefhebbers betref, kan hulle nou sê: “Vergeet Ferrari, ons het Molinari!”

Rugby se Grand Canyon

Is dit net Skuimkop was pessimisties is oor die stand van ons rugby? Ja, ons het ’n bedrewe Springbok-afrigter aan die stuur en ja, ons het darem ’n span wat ’n Superrugby-tuishalfeindstryd aanbied, maar dis juis daar waar die probleem lê.

Was dit nie vir die belaglike Superrugby-afdelingstelsel nie, sou die Leeus nooit Saterdag die allerbelangrike tuisveldvoordeel gehad het nie. Die Hurricanes, wat weg speel teen die Crusaders, het die tweede meeste ligapunte in die reeks aangeteken en verdien na regte tuisveldvoordeel.

As die Leeus Wellington of Christchurch toe moes reis vir ’n halfeindstryd, weet ons nou al hoe die storie sou geëindig het (dink maar net terug aan die Hurricanes se oorheersing oor die Leeus in 2016 se eindstryd).

Boonop is dit kommerwekkend dat ons naasbeste span in die reeks, die Haaie, verlede week in die kwarteindronde met 30 punte deur die Crusaders pak gegee is.

* Dit wys maar net hoe groot die kloof nog tussen Suid-Afrikaanse en Nieu-Seelandse rugby is en hoe onregverdig dit is om dan van een afrigter (Rassie Erasmus) te verwag om die Bokke skielik in ’n span te omtower wat met die All Blacks kan saamgesels.

Imran sal dié joppie Khan doen

Skuimkop sien Imran Khan reken hy was die Speler van die Wedstryd in die pas afgelope Pakistanse verkiesing en dat hy derhalwe dié land se nuwe premier gaan word.

* Dít het ’n joernalis op ’n bekende krieketwebwerf laat opmerk dat die man wat vroeër jare die moeilikste joppie in Pakistan gehad het (om daardie land se wispelturige krieketspan te lei) nou die naasmoeilikste pos het!

Meer oor:  Francesco Molinari  |  Proteas  |  Superrugby  |  Faf Du Plessis  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.